Reinig jouself

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

In Johannes 13 lees ons hoe Jesus die voete van Sy dissipels gewas het en hoe Petrus aanvanklik geweier het, maar hoe hy later tog ingestem het.

My Bybel het die afgelope twee dae elke dag op hierdie gedeelte oopgeslaan. Eers kon ek dit nie verstaan nie, want so iets gebeur nie sommer vanself twee dae in ‘n ry nie! Maar toe wys die Gees vir my waarom dit belangrik is om ag te slaan op hierdie gedeelte en waarom ek dit aan julle moet bring.

In vers een lees ons: “…omdat Hy (Jesus) wis dat sy uur gekom het dat Hy uit hierdie wêreld sou oorgaan na die Vader.” Ons uur het ook gekom en binnekort sal ons ook oorgaan na die Vader toe.

Ons lees verder dat Jesus opgestaan het, Sy boklere uitgetrek het, ‘n doek om Hom vasgemaak het en daarna ‘n bak vol water gemaak het. Hy het toe begin om die voete van Sy dissipels te was. Hoekom het Hy dit gedoen? Om hulle te reinig natuurlik!

Hierdie reiniging is belangrik vir ons nou in hierdie tyd, want ons weet dat ons tyd naby is. Ons weet ook dat Jesus gaan kom vir Sy Bruid; dit is ons; en ons weet ook dat Jesus gaan kom vir ‘n skoon bruid wat heiligheid nastreef. ‘n Bruid vol van die Heilige Gees wie se vuur hoog brand vir haar Bruidegom. ‘n Bruid sonder gebrek en sonder vlek of rimpel.

Dis waar hierdie gedeelte wat die Gees aan my uitgewys het so belangrik is, want ons moet ons nou begin gereed maak. Ons moet onsself skoon was in die Bloed van die Lam. Raak ontslae van al daardie klein sondetjies en probeer om hulle net meer te doen nie. Ek bedoel, wend ‘n daadwerklike poging aan, want jou ewigheid hang daarvan af!

Speeltyd is nou verby. Nou is die tyd om ernstig te raak met hierdie dinge. Onthou: die feit dat jy gered is beteken dat jy nie hel toe sal gaan nie, maar dit beteken nie dat jy die wegraping gaan mee maak nie. Net die wat gereed is sal die wegraping mee maak! Hoe kry ek myself gereed? Gesels met Jesus; tydeig en ontydig, bely dat jy ‘n sondaar is dat jy swak is, bely jou sonde sodra jy oortree het, probeer om dit nie meer te doen nie.

Moenie soos Petrus wees wat gesê het “Nie nou nie HERE, want ek het nog hierdie of daardie wêreldse ding wat ek wil afhandel.” Moenie dat Jesus jou antwoord en sê: “As Ek jou nie was nie, het jy geen deel aan My nie.” (Johannes 13:8)

Die wêreld en dit wat in die wêreld is, is nou nie meer belangrik nie. Net Jesus is belangrik en dis nou dit tyd dat ons alles aan Hom gee. Vir vir die Gees van die HERE wat daar in jou lewe oor is wat jy nog nie reggemaak het nie. Jy sal verbaas wees wat die Gees aan jou bekend maak in sulke gevalle. Dit wat eerste in jou gedagtes opkom nadat jy gevra het is dit wat reggemaak moet word. Ek het so op sonde afgekom wat ek lank reeds vergeet het en dit reggemaak.

Ons tyd is baie min; minder as wat ons dink. Begin nou om gereed te maak. As daardie basuin blaas, gaan dit te laat wees om reg te maak. Dan moet jy klaar reg wees!

Mag Jesus hierdie boodskap aan julle harte seën!

(Visited 212 times, 1 visits today)
Tagged , , , , , , .