Een van die lekker dinge van hierdie Internet Blog bestuur is om te hoor van die veranderinge wat God deur Suiderkruis in mense se lewens maak. Ek sit partykeer hier en huil van blydskap oor nog ‘n siel wat uit satan se afskuwelike kloue ontsnap het! Dan prys ek die Here vir die kennis wat Hy my gegee het om met hierdie projek te kan begin.
Aan die begin kon ek nie verstaan waarom die HERE sekere dinge in my lewe laat gebeur het nie. Nie alles was goed nie, maar vandag weet ek waarom. Die doel agter alles was sodat ek uiteindelik met hierdie blog sou begin en mense na die HERE toe lei! Prys Sy wonderlike Naam! Dankie Jesus!
Julle sien; die dag as jy besluit om die Here te dien, dan is dit soos daardie getuienis wat ek so ‘n tyd gelede gepos het “Saam met Jesus op ‘n Tandem Fiets”. Aanvanklik klim jy voor op die fiets, want jy hou daarvan om in beheer te wees, maar dis net daar waar ons almal die fout van ons lewens maak! Solank as wat ons as mens in beheer van ‘n probleem is, kan die Here nie aan die probleem werk nie en dit ook nie oplos nie. Hy kan jou help trap aan die fiets, maar jy sal nooit al die slaggate in jou lewenspad op jou eie kan mis nie. Solank as wat jy voor op die fiets sit, gaan daar altyd ‘n toutrekkery tussen God en satan oor jou wees.
Een van my lesers sê dat hy eendag so moeg geraak het vir hierdie toutrekkery dat hy vir Jesus gevra het wanneer Hy en satan nou gaan ophou toutrek oor hom, want hy kies vir Jesus en sal altyd vir Jesus kies. Onmiddellik kom die antwoord: “Hou dan op om die tou te wees!” Met ander woorde: hou op om dinge op jou eie manier te wil doen en jouself altyd eerste te wil stel! Gee jou lewe oor aan die Here. Vertrou op Hom ALTYD! Klim agter op daardie fiets en kyk wat gebeur!
Psalm 62:9 sê dit die beste! “Vertrou op Hom altyd, o volk! Stort julle hart uit voor sy aangesig! God is ’n toevlug vir ons.”
As ons bid dan is ons so gewoond om te sê “Dankie vir dit” en “Dankie vir daai” en “Vergewe asseblief dit”, maar ons gesels nie werklik met God nie. Gaan in jou kamer in as jy alleen is, gaan kniel voor die Here en stort jou hart voor hom uit. Vertel Hom alles! Hy weet reeds alles, daarom is daar geen rede om skaam te wees of iets te wil wegsteek nie. Hy wil maar net van jou self af hoor! Neem jou toevlug tot die Here. Dis die een plek waar satan jou nie kan versoek nie en jy kan dit maar op die proef stel!
Een van my ander lesers het ‘n probleem met haar huwelik gehad. Een aand, uit absolute moedeloosheid het sy op Internet gaan soek vir hulp. Google Search het Suiderkruis se stukkie Wat sê die Bybel oor egskeiding en her-trouery heel eerste gelys! Sy het besef dat sy nie hulp met haar huwelik nodig het nie, maar dat sy vir Jesus nodig het! Prys die Here daarvoor!
Ons as mens is ons eie grootste rede vir ons eie hartseer en pyn! Dis omdat ons alewig self die fiets wil bestuur in plaas daarvan dat ons hierdie takie vir die meester fietsryer gee! Ons weet niks van fietsry af nie en in ons onkunde beland ons in allerhande slaggate en raak ons die pad sommer goed byster! Satan kom en lieg dan vir jou en vertel jou dat jy alleen is en dat daar niemand is wat jou kan help, behalwe jouself nie. Raai wat? Ons luister en eet die leun vir soetkoek op!
Ek gaan afsluit met die volgende Bybel vers: Hebreërs 13:5-6 “[5] Julle gedrag moet vry van geldgierigheid wees. Wees tevrede met wat julle het, want Hy het gesê: Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie. [6] Daarom kan ons met alle vrymoedigheid sê: Die Here is vir my ’n Helper, en ek sal nie vrees nie; wat sal ’n mens aan my doen?”
Mag die here hierdie boodskap seën!