Mense vra baie keer vir my: hoe praat ek met Jesus? Vir baie van julle kan dit na ‘n dom vraag klink, maar ek kan julle verseker dat daar baie mense is wat in die stilligheid wonder oor hierdie vraag.
Mense praat nie graag oor hoe hulle bid nie, want hulle is bang hulle word deur ander gespot daaroor. Nou bly hulle maar stil of hulle vermy die onderwerp van bid asof dit een of ander pes siekte is.
Julle sien, is bid ‘n integrale deel van Christen wees. Om met die HERE te kan praat is seker een van die mees wonderlikste voorregte wat ons as Kinders van God kan hê.
Jesus se dissipels het ook gewonder hoe ‘n mens moet bid en dis waarom die HERE vir hulle in Mattheus 6:9-13 geleer het hoe om die Onse Vader te bid. Die probleem is dat ons nie besef hoe ‘n kragtige gebed dit is nie! Ek sien hoe baie van julle julle Bybels nou oopslaan om na die Onse Vader te gaan kyk! Gaan kyk gerus, liewe Kind van die HERE, want ek gaan nou vier punte daaruit haal net om aan julle te wys hoe volledig en kragtig hierdie gebed is!
Ons vra: “laat u wil geskied” en daarmee vra ons die HERE om beheer oor ons lewens uit te oefen en ons bevestig as te ware dat Hy (Jesus) in beheer daarvan is, nie ons nie!
Ons vra: “gee ons vandag ons daaglikse brood” en daarmee, net soos bo, bevestig ons ons afhanklikheid van die HERE. Ons bevestig ook dat ons niks is sonder Hom nie en dat ons die HERE nodig het in elke aspek van ons lewens.
Ons vra: “vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe”. Hierdie is ‘n baie taai ene… Ons wil so graag hê dat Jesus ons sondes moet vergewe, maar ons sukkel om ons medemens wat teen ons oortree te vergewe. As jy mooi daarna kyk, dan bid jy eintlik vir naasteliefde…
Ons sê: “verlos ons van die Bose”, maar ons besef nie wat dit is wat ons vra nie. Om verlos te word van die bose beteken om verlos te word van satan en al sy planne wat hy met ons het. Met net vyf woorde stel jy vir satan en alles wat hy mag beplan skadeloos! Ek gebruik daardie gedeelte self in my oggend gebed omdat dit so kragtig is!
Soos julle kan sien; as jy soos dit kan bid; dit uit jou hart uit bedoel en dit toepas; gaan daar gaan niks op aarde wees wat jou gaan kan keer nie! Geen mag van satan; geen plan; niks gaan enige krag hê om te kan voortbestaan nie!
Nou kom ons by die volgende vraag: praat Jesus ooit terug? Natuurlik praat Hy terug! Die probleem is net dat ons Hom nie altyd kan hoor nie en die rede is omdat daar sonde in ons lewens is.
Julle sien, sonde maak ‘n geestelike geraas. Hoe meer sonde, hoe groter die geestelike geraas. Satan weet dit en dis waarom hy so hard probeer dat jy so veel as moontlik moet sondig! Daardie geestelike geraas maak dat jy die HERE se stem nie kan hoor nie. As dit gebeur, dan kom daar skeiding tussen jou en die HERE. Begin julle nou verstaan?
Jy sal die stem van die HERE begin hoor as jy die sonde in jou lewe onder beheer begin kry. Ek gaan met julle eerlik wees as ek sê dat dit nie so maklik is nie. Dit is moontlik, maar dan gaan jy moet leer om die vleeslike in toom te hou. Ek kry dit by tye reg, maar dan moet jy mooi luister, want die stem van die HERE praat baie sag.
Hoe weet ‘n mens jy praat met die HERE? Jy voel dit letterlik aan. Hierdie is een wat ek nie vir julle kan beskryf nie, maar iemand wat al daar was, sal presies weet wat ek nou bedoel. Dis ‘n gevoel van geluk, vrede en liefde wat jy nie in woorde kan omskryf nie. Dis soos ‘n kombers en jy voel lus om jou daarin toe te draai en jy wil nie los nie. Mense wat al ervarings in die Hemel gehad het, het dit ook so beskryf. Nie een van hulle wou terugkom nie. Nou dis hoe jy weet.
Vir baie is dit moeilik om te begryp en hulle veroordeel dit as iemand ‘n Woord van Profesie ontvang. Daar is een raad wat nog altyd vir my gewerk het en dit is om vir die HERE te vra as jy nie seker is of dit wat jy lees, wel van Hom af kom nie. Ek kan julle verseker dat dit werk, want ek het dit al toegepas!
Ek hoop dat julle wat hierdie lees, nou ‘n beter insig sal hê en ek bid dat die HERE hierdie boodskap aan julle harte sal seën!
Prys Sy Naam!