Partykeer laat die HERE my so ‘n bietjie terug sit en dan kyk ons so saam na die wêreld. Ek kan julle dit sê: enige iemand wat nie ‘n Kind van die HERE is nie, mis die mees ongelooflikste ervaring van sy of haar lewe, maar dan moet jou lewe totaal in die hande van die Meester Bouer wees.
As jy nog terug hou, kan die HERE net met jou werk soos ‘n pottebakker met klei werk nie. Dit beteken natuurlik geduld om dinge in die hande van die HERE te los sodat Hy dit op Sy tyd kan aanspreek; NIE ons tyd nie.
Die HERE stuur gereeld vir my mense wat ek moet bearbei vir Hom. Die mees algemeenste klagte wat ek kry is die een waar daar gebid word vir iets, maar niks gebeur nie. “Ek bid teen ‘n muur vas” is die frase wat die meeste gebruik word. Liewe leser; het jy al ooit die saak by die HERE gelos of gryp jy dit elke slag en hardloop daarmee op jou rug rond sodat die HERE nie daaraan kan werk nie? Dis jou probleem: jy gryp die probleem en hardloop daarmee weg voor die HERE daaraan kan werk.
Bid oor jou probleem en los dit dan by die HERE. Om oor en oor vir dieselfde goed te bid gaan die probleem nie vinniger oplos nie. So ook nie as jy aanmekaar daaroor kla nie. Los jou probleem by die HERE en vergeet daarvan. Wees geduldig. Die HERE sal vir jou die uitweg gee, maar dan gaan jy geduld moet leer!
Ek weet maar net te goed hoe moeilik dit is om te leer… Ek was self daar en net soos julle het ek ook oor en oor vir dieselfde goed gebid en later by die HERE gesmeek, maar niks het vir my gebeur nie. Dit was eers toe ek geleer het hoe om stil voor die HERE te raak en te erken dat Hy God is en alles kan doen, dan dinge vir my begin verander het.
Vandag vra ek vir die HERE en Hy voorsien. Ek hoef nie eers te wonder daaroor nie, maar dit was nodig dat ek deur al hierdie dinge gaan sodat ek kon leer. Het ek nie op ‘n geleentheid gesê dat ons in God se klaskamer is nie? Jy is hier om te leer, so moenie so hard op jouself wees as jy sukkel nie. Staan daar dan nie in die Woord van die HERE geskryf julle is meer werd as baie mossies nie? (Mattheus 10:31)
Liewe leser, jy is die kroon van God se skepping! Jy is in beheer geplaas van alles wat vlieg, swem, loop en kruip. As die HERE dan vir jou al daardie mag gegee het, om watter onverklaarbare rede bekommer jy jou? Jesus sê dit so goed: as jy dan nie eers die geringste van dinge kan doen om jouself een el langer te maak nie, waarom bekommer jy jou oor dit wat jy nie kan verander nie?
Ek gaan afsluit met die gebed van Reinhold Niebuhr, die Amerikaanse Teoloog: “Here, gee my die vrede om te aanvaar wat ek nie kan verander nie, die moed om te verander wat ek kan, en die wysheid om die verskil te ken. Amen!”
Prys die Naam van Jesus!