Wat sê die Bybel omtrent pornografie?

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Pornografie is vandag multimiljoen rand industrie en die aanvraag daarna is gastronomies! Dis een van die mees gesoek te onderwerpe op enige Internet soek enjin en ook een van die grootste geldmakers…

Dis die deel waar Satan die mees suksesvolste is; veral onder die kinders van God! Hy het dit reggekry om dit wat goed is (seks tussen man en vrou) te vervang met lustigheid, owerspel, verkragting en homoseksualiteit.

Die woord “pornografie” is afgelei vanuit twee Griekse woorde: “porneia”, wat verband hou met seksuele immoraliteit, en “grafo” wat te doen het met iets wat op skrif gestel word. Gewoonlik gaan “grafo” oor iets wat geskryf is, maar dit kan ook na sketse of prente verwys.

Pornografie is ‘n strik waarin baie mense trap; Kinders van die HERE ook! Dit begin gewoonlik heel onskuldig met geskryfde pornografiese teks. Daarvandaan vorder dit na prente van naak vrouens. Die verskoning van “kuns” of vryheid van spraak word gewoonlik gebruik om dit te regverdig.

Pornografie is net so verslawend soos dwelms. Die gebruiker soek voortdurend sterker dosisse daarvan om te voorsien in sy behoefte. Prente van kaal vrouens word baie vinnig opgevolg deur “harde pornografie” wat seksuele dade uitbeeld, daarna lesbianisme, homoseksualiteit en in die egste graad, bestialiteit.

Baie mense redeneer dat omdat hulle slegs daarna kyk, dit nie so erg is nie… Jesus sê egter duidelik in Matteus 5:28 “Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat na ‘n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg.” 1 Korintiërs 6:16 lees ons: “Of weet julle nie dat hy wat ’n hoer aanhang, met haar een liggaam is nie? Want die twee, sê Hy, sal een vlees wees.” Is dit nie presies waaroor pornografie gaan nie?

As Christene is ons duur gekoop deur Jesus se bloed. Ons is verenig in Jesus en daarom deel van sy liggaam. 1 Korintiërs 6:17 sê “Maar wie die Here aanhang, is een gees met Hom.” As ons dan een gees met die HERE is, hoe kan ons dan nog steeds egbreuk pleeg en ons oorgee aan ons eie begeertes deur na pornografiese prente te kyk?

1 Korintiërs 6:18-20 word die volgende gesê [18] Vlug vir die hoerery. Enige sonde wat ’n mens doen, is buite die liggaam; maar wie hoerery bedryf sondig teen sy eie liggaam. [19] Of weet julle nie dat julle liggaam ’n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie? [20] Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort.”

As jy eers in daardie slaggat getrap het is dit bitter moeilik om daaruit te kom. Die goeie nuus is dat redding beskikbaar is. Jesus kan jou help om hierdie sonde te oorwin, maak nie saak hoe moeilik of onmoontlik dit klink nie.

Hier is die stappe om jou te help:

  1. Bely jou sonde – 1 Johannes 1:9 “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.”
  2. Vra God om jou te reinig, te hernu en om jou verstand te vernuwe. – Romeine 12:2 “En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.”
  3. Vra God om jou denke te vul met Filippense 4:8 “Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is — watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit.”
  4. Leer om jou liggaam te gebruik vir heiligmaking. – 1 Tessalonisense 4:3-4 [3] Want dit is die wil van God: julle heiligmaking; dat julle jul moet onthou van die hoerery; [4] dat elkeen van julle moet weet om sy eie vrou te verkry in heiligheid en eer.”
  5. Verstaan die doel van seks en laat jou vrou toe om jou daarin te vervul. 1 Korintiërs 7:1-5 [1] MET betrekking tot die dinge waaroor julle aan my geskryf het — dit is goed vir ’n man om ’n vrou nie aan te raak nie. [2] Maar vanweë die hoererye moet elke man sy eie vrou hê, en elke vrou moet haar eie man hê. [3] Die man moet aan die vrou die verskuldigde welwillendheid bewys, en net so ook die vrou aan die man. [4] Die vrou het nie mag oor haar eie liggaam nie, maar die man; en net so ook het die man nie mag oor sy eie liggaam nie, maar die vrou. [5] Onttrek julle nie aan mekaar nie, behalwe met wedersydse ooreenstemming vir ’n tyd lank om julle aan vas en gebed te kan wy; en kom weer bymekaar, sodat die Satan julle nie in versoeking bring deur julle gebrek aan selfbeheersing nie.”
  6. Besef dat indien jy volgens die Gees lewe sal jy nie hunker na die vlees nie. Galasiërs 5:16 “MAAR ek sê: Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie.”
  7. Neem praktiese stappe sodat jy nie verkeerde materiaal sien nie. Installeer filters op jou rekenaar wat hierdie materiaal uitskei en soek ‘n Christen wat vir jou kan bid en deur hierdie verslawing kan help.

Wanneer God sy kinders dus waarsku om van alle vorme van seksuele immoraliteit af weg te bly, is dit nie om hulle ʼn wet op te lê wat swaar is om te hou, of om hul pret te bederf nie. Dit is wel omdat Hy weet watter vernietigende gevolge dit het wanneer hierdie diep dimensie van menswees misbruik word, maar ook hoe pragtig dit is wanneer die seksuele op die regte tyd en in die gepaste ruimte (die huwelik) geniet word! God wil vir jou die beste hê. Moet dus nie toelaat dat jy gevang word in die strik van ʼn bederfde, minderwaardige namaaksel nie.

Mag die HERE hierdie boodskap seën!

(Visited 1 411 times, 1 visits today)