Alles behoort aan die Here

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Ek let die laaste ruk op hoe ‘n gejaag na geld die wêreld geword het… Geen aandag word gegee om God te dank vir wat ons het nie…

Ons almal wil graag die mooi dinge in die lewe hê: groot huis, vinnige motor, opvoeding vir ons kinders, oorsese vakansie, die lys is eindeloos. Daar is niks verkeerd om daarvoor te wens nie. Ek self het al op meer as een geleentheid gewens vir genoeg geld om gemaklik te kan lewe! Maar partykeer wens ons so hand dat ons nie raaksien wat die Here al reeds vir ons gegee het nie. Ons gaan nie terug en tel ons seëninge nie!

Gaan egter terug en kyk wat jy klaar by die Here ontvang het en dan sal jy verbaas wees hoe baie jy werklik het! Gaan vat ‘n slag boek en as jy sien dinge in baie opsigte nie so erg is as wat jy gedink het dit is nie.

Ek gaan myself as ‘n voorbeeld vat en hierdie is ook my getuienis! My motor is deur God aan my gegee. Hoe weet ek dit? Want dit kos my niks om aan die gang te hou nie. As my motor iets kort, dan sorg God dat die geld daar is om te laat doen wanneer dit nodig is, maar net wanneer ek dit nodig het en nooit voor die tyd nie. Die bedrag wat ek nodig het is ook altyd presies reg; nie te veel nie en ook nie te min nie!

Ek het nou maar net een ding uitgesonder, maar daar is nog baie ander dinge wat ek ook kan noem soos my huis en my werk. Ek raak elke dag by my werk seker meer mense se lewens aan as wat ek ooit sal besef en dit liewe leser is waaroor alles gaan. Om die boodskap van die Here aan die mense uit te dra op watter manier ook al moontlik. Ons het nie almal die vermoë om met mense te kan praat nie, maar ons kan ons lig op so ‘n manier laat skyn sodat die wat in die duisternis is, die lig sal sien en na die lig toe sal kom!

Jesus sê vir ons in Lukas 12:22-23 [22] …Moenie julle kwel oor jul lewe, wat julle sal eet, of oor jul liggaam, wat julle sal aantrek nie. [23] Die lewe is meer as die voedsel en die liggaam as die klere.” Om elke dag te kan lewe is meer werd as al die geld in die wêreld!

Weet julle hoe baie mense daar buite geld het, maar siel ongelukkig is? As ek dit sien, dan wonder ek baie keer of dit die moeite werd is om so baie geld te hê of self om alles in die lewe te hê. Tot Salomo het hieroor gewonder, want hy was nie net die slimste mens op aarde nie, maar ook die rykste wat ooit geleef het. Hy het op geleentheid gesê dat alles tevergeefs is!

En hier kom die interessante gedeelte in Lukas 12:31 Maar soek die koninkryk van God, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” Stel die koningryk van God eerste met alles wat jy doen en alles wat jy nodig het sal vir jou bygevoeg word. Die klem is op “wat jy nodig het”, want die Here gee nie iets wat ons nie nodig het nie. Vertrou die Here met alles in u lewe. Hy SAL voorsien, want ons is sy kinders!

In 1 Samuel 2:8 lees ons die volgende: “…Want aan die HERE behoort die pilare van die aarde, en Hy het die wêreld daarop gevestig.” Alles op Aarde behoort aan die Here. Lewe u lewe op hierdie manier en u sal verbaas wees hoe die Here vir u sorg. Prys Sy Wonderlike Naam!

Mag die Here hierdie boodskap seën!

(Visited 255 times, 1 visits today)
Tagged , , , , , .