Die krag van gebed

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Ek het hierdie getuienis etlike jare gelede gelees en vandag gaan ek dit gebruik as ‘n boodskap sodat julle moet glo dat daar krag in gebed is!

Daar was ‘n sekere vrou wat een aand laat moes werk om ‘n baie belangrike projek vir haar werk afgehandel te kry. Waar sy gewoonlik om 5 uur die middag altyd huis toe gegaan het, het sy op hierdie dag eers om 8 uur die aand huis toe gegaan.

Gelukkig het sy nie ver van haar woonstel af gebly nie en was dit nie te ver om te loop nie. Sy moes egter besluit om al met die pad langs te loop wat langer sou vat of sy kon kortpad deur die park vat. As sy deur die park sou loop, sou dit aansienlik vinniger wees en sy sou baie gouer by die huis kom, maar die park was berug dat dit ‘n gevaarlike plek in die aand was om deur te loop. Verskeie ander meisies is al in die verlede in die nag in die park aangeval en sy wou dit nie oor haarself bring nie.

Die ekstra afstand sou beteken dat sy aansienlik later by die huis sou kom en daarom het sy besluit dat sy die kans sou waag, maar eers het sy tot die HERE gebid en gevra dat die HERE haar moet beskerm terwyl sy deur die park loop.

Halfpad deur die park het sy ‘n man langs ‘n boom gesien staan. In die maanlig kon sy sy gesig duidelik sien, maar hy het skielik weggekyk en kort daarna weggeloop van haar af. Die vrou het aangeloop tot sy deur die park was en daarna by haar woonstel.

Die volgende oggend het sy gehoor dat nog ‘n vrou in die park waar sy deur minute vroeër deur geloop het, aangerand was en in die hospitaal opgeneem was. Die polisie het ‘n verdagte gearresteer, maar hulle was op soek na ander mense wat deur die park geloop het daardie aand in ‘n poging om die verdagte vas te maak aan die misdaad.

Die vrou het na die polisie kantore gegaan en met een van die speurders gesels. Sy het vertel wat sy gesien het en die speurder het haar gevra of sy die verdagte sal kan uitken. Sy het geantwoord dat sy sou kon. Op die uitkennings parade het sy dan ook inderdaad die verdagte wat die polisie gearresteer het tussen vyf ander uitgeken as die man wat sy in die park gesien het.

Sy het die speurder gevra of sy met hom kon gesels, want sy wou weet waarom hy haar nie aangeval het nie, maar ‘n volgende vrou. Die man se antwoord het haar verbaas omdat hy gesê het dat daar ‘n man saam met haar was. Sy sê toe dat sy alleen was, maar die man het weer geantwoord dat daar ‘n ander man saam met haar was, want hy het hom gesien saam met haar stap!

Julle sien, ons dink altyd dat ons alleen is in alles wat ons doen en dat Jesus nie altyd met ons is nie, maar ons is verkeerd. Ons dink ook dat gebed nie altyd werk nie en ons bid baie keer uit gewoonte uit as om dit werklik te bedoel. Met hierdie getuienis wys Jesus vir ons dat ons nooit gebed moet onderskat nie, veral nie die skiet gebede nie. Jesus is daar, nie net as ons Hom nodig het nie, Hy is ALTYD daar! Prys Sy Naam!

Daarom liewe leser, as jy bid, bid of jy dit bedoel, want Jesus hoor jou, selfs al dink jy nie so nie. Ook daardie gebed wat jy uit gewoonte opsê word aangehoor! Moet dit nooit vergeet nie!

Mag die HERE hierdie getuienis in julle harte seën!

(Visited 521 times, 1 visits today)
Tagged , , , , .