Ek het op geleentheid oor hierdie onderwerp geskryf, maar die HERE wil hierdie les graag herhaal.
Ons almal word op een of ander stadium deur die flitsende liggies en die idee van baie geld wen gevang. Ek was ook al daar… Dit gebeur met ons almal, maar sommige word nooit uit hierdie tronk bevry nie. Satan hou hulle gebind sodat hulle nie tot hulle volle potensiaal kan groei nie. Moenie toelaat dat satan ooit soveel mag oor jou kan uitvoer nie, liewe Kind van God! Jy is tog immers ‘n oorwinnaar in die HERE en soos die teksvers sê; “Want met U loop ek ‘n bende storm, met my God spring ek oor ‘n muur.” (2 Sameul 22:30)
Baie dink dat om lotto te speel of om te dobbel nie verkeerd is nie, want dit was in die Bybelse tyd ook toegepas. Hierdie siening is net die helfte van die waarheid en tipies satan gebruik hy hierdie halwe waarheid om jou in te trek tot jy nie meer daar kan uit nie.
Dit is waar dat daar in die Bybelse tye die lot gewerp is oor ‘n verskeidenheid van kwessies. So was daar op bevel van die Here geloot om uit te vind wie die skuldige was wat by die inname van Jerigo wat die goed gevat het wat vernietig moes word (Jos 7: 14-18). Daar is ook tussen Saul en sy seun geloot om uit te vind wie verkeerd gedoen het (1 Sam 14:38-43). Diensbeurte van die priesters by die tempel was ook deur middel van loting aangewys. Selfs in die Nuwe Testament kry ons die aanwys van die apostel in Judas se plek deur loting (Hand 1:21-26), maar slegs nadat die leiding van die HERE daarin gevra is.
Nou kom die interessante gedeelte: nêrens in die Bybel word dobbel en die lotery as sulks veroordeel nie; nietemin waarsku die Bybel ons in 1 Timotheüs 6:10 om weg te bly van die liefde vir geld: “Want die geldgierigheid is ’n wortel van alle euwels; en omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van die geloof en hulleself met baie smarte deurboor.”
Die skrif hierbo sê nie verniet dat ons van die HERE afdwaal en dan die deur vir satan oopmaak om ons met allerhande smarte te versoek nie. Gaan kyk maar na iemand wat so baie geld gewen het. Negentig persent van hulle is na die tyd slegter daaraan toe as wat hulle was voor hulle begin het. Laasgenoemdes het agterna almal gewens dat hulle nooit begin het nie.
En dit liewe Kind van God is wat die HERE jou teen probeer beskerm. Daardie smart en lyding wat agterna volg. Ek weet, satan wys vir jou hoe gelukkig jy gaan wees en wat jy alles met daardie geld sal kan maak, maar weet dit: dis alles oë verblindery! Dis ‘n perfek gestelde slaggat wat wag dat jy daarin moet trap!
Baie mense gebruik die verskoning dat hulle lotto speel omdat hulle daardeur geld aan die armes skenk. As dit dan so is, waarom gee jy nie die geld direk aan iemand wat behoeftig is nie? Wat jy doen deur lotto te speel is ‘n baie onbybelse manier van geld skenk! Boonop, is die doel van gee dan nie om te gee sonder om iets terug te verwag nie? As jy geld “skenk” deur lotto te speel, verwag jy mos iets terug, dan nie?
Die wat die lotto program bedryf probeer hulleself afmaak as iets goed deur te sê dat die geld aan armes geskenk word. Kom ons wees eerlik. Hoeveel keer het enige een van julle al gehoor geld wat so geskenk is? Dit gebeur omtrent net as iemand hoër op begin vrae vra! Die hele doel van lotto is om ‘n baie klein groepie mense skat ryk te maak, terwyl dit miljoene verarm! Diegene wat aan ‘n lotery deelneem is dikwels diegene is wat dit die minste kan bekostig.
Die hele Suid Afrikaanse lotto stelsel is so opgestel om te sorg dat die wen kans ongelooflik klein is. Die wen kans is selfs kleiner as die lotto stelsels van ander lande. Volgens die Suid Afrikaanse lotery stelsel, wat bestaan uit 48 syfers en ‘n wen nommer van ses syfers, is die kans om te wen 12.7 miljoen teen een! In vergelyking: die kans om deur weerlig getref te word is 5 miljoen teen een en die kans om in ‘n vliegtuig ongeluk betrokke te wees 11 miljoen teen een! U kan self die somme maak!
In Spreuke 13:11 lees ons, “Goed wat uit niks verkry is, word minder; maar hy wat met die hand bymekaarmaak, kry altyd meer.” Ek het hierdie al gesien! Iemand wat hard werk vir sy geld en dit op ‘n eerlike manier verdien, het altyd meer as iemand wat dit verniet gekry het. Dit geld ook vir mense wat groot somme geld erf. Kyk maar hoe spandabelrig hulle is en julle sal verstaan!
In Hebreërs 13:5 word verklaar, “Julle gedrag moet vry van geldgierigheid wees. Wees tevrede met wat julle het, want Hy het gesê: Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie.” Wees tevrede met wat jy het, want die HERE sal jou nooit verlaat nie. Het Hy dan nie gesê dat daar nie ‘n haar van jou kom af sal val sonder Sy toestemming nie? Waarom wil jy dan skatryk wees? Glo my; dit gaan nie tot eer van die HERE wees nie.
Ons verwagting behoort in die Here te wees wat sal verskaf in al ons behoeftes op Sy tyd en nie op ons tyd nie. Moenie op die hand van vlees vertrou nie! Vertrou op die HERE!
Prys die Naam van die HERE!