As ‘n man voel ek nie gekwalifiseerd om hierdie week se boodskap vir julle te bring nie, maar ek weet van iemand wat is. Lisa Chan is die vrou van Francis Chan, ‘n evangelis van Amerika. Dis haar boodskap wat ek hierdie week vir julle bring omdat ek voel dat die HERE dit belangrik ag dat ons kennis moet neem daarvan. Lisa, oor na jou.
Om te praat oor onderdanigheid is sekerlik die beste manier wat ons as vroue ons liefde vir die HERE kan uitbeeld. Dis die een manier wat ons as Christen vroue kan uitstaan onder die vroue van die wêreld daarbuite. Dis een van die maniere wat die wêreld na ons kan kyk en dan vra waarom behandel daardie vrou haar man so en waarom baklei sy nie vir haar posisie en leierskap nie? Dis die een manier hoe ons Christus kan wys aan die wêreld en hulle terselfdertyd kan aantrek na Hom toe deur die manier wat ons onderdanig is aan ons mans.
Hierdie is ‘n boodskap wat natuurlik geheel en al anders is as wat die wêreld verkondig. Dis die teenoorgestelde wat in elke tydskrif of TV program uitgesaai word, want die boodskap van die wêreld is dat ons as vroue die heeltyd moet soek na mag, onafhanklikheid en beheer. Maar dis die teenoorgestelde van hoe die HERE ons as vroue geroep het om te leef.
Die middelpunt van die evangelie is om onsself die heeltyd te verloën en die hele tyd te lewe in totale oorgawe tot God. As jy nie bereid is om die HERE eerste te stel in alles nie of ‘n respek het vir die Woord van die HERE het nie of die wil het om alles wat die HERE beveel het te gehoorsaam nie, dan kan ons nie aan beweeg na enige ander onderwerp nie, want hierdie drie dinge vorm die basis van Christenskap. Om te probeer aan beweeg sonder hierdie drie dinge in plek, gaan wees soos om die kar voor die perde in te inspan. Jesus sê: “Wie my gebooie het en dié bewaar, dit is hy wat My liefhet.” (Johannes 14:21) en Hy het ons beveel om onderdanig te wees aan ons mans.
Ek gaan vir julle lees uit Efesiërs 5:22-24 “[22] Vroue, wees aan julle eie mans onderdanig, soos aan die Here. [23] Want die man is die hoof van die vrou, soos Christus ook Hoof is van die gemeente; en Hy is die Verlosser van die liggaam. [24] Maar soos die gemeente aan Christus onderdanig is, so moet die vroue dit ook in alles aan hul eie mans wees.”
Ek is seker dat julle hierdie boodskap al voorheen in een of ander vorm gehoor het. Vir my was onderdanigheid baie soos om kinders groot te maak. Julle weet mos hoe slim jy is en altyd die beste weet hoe om kinders groot te maak tot jy jou eie het. Jy het die onderwerk deeglik bestudeer en jy weet net mooi alles en dan kom die HERE en Hy bewys jou verkeerd! Dan kom jy agter dat jy eintlik niks weet nie; hoe swak jy werklik is en hoe baie jy die HERE in jou lewe nodig het! Dit was dieselfde vir my in my huwelik met Francis. Ek het in ‘n Christen huis groot geword, het die Woord van die HERE geken en ek het gedink dat ek onderdanigheid ten volle verstaan, maar dit was ‘n heel ander ding toe ek eers getroud was!
My eerste les wat die HERE my gegee het hoe om onderdanig te wees, was met ons eerste Kersfees saam. Ek en ‘n vriendin het uitgegaan om kersversierings vir ons huise te koop en ons het hierdie ongelooflike mooi Kersvader figure raakgeloop wat so ongeveer 60 sentimeter hoog gestaan het. Die figuurtjies het lap klere aangehad met geweefde hare en baarde; hulle arms kon swaai en hulle kon die mooiste kers liedjies sing; te pragtig! Ons het dit gekoop en huis toe gegaan en alles was net perfek tot my man by die huis gekom het. Hy het gevra wat dit was en ek het verbaas geantwoord dat dit Kersvader is. Hy het gesê dat hy nie vir Kersvader in ons huis wil hê nie. Ek was stomgeslaan, maar wat nog erger was, was toe hy gesê het ek moet dit terugvat na die winkel waar ek dit gekoop het.
Die eerste ding wat deur my gedagtes gegaan het was dat hy sopas vir my gevra het om my Kersvader wat ek met my geld gekoop het terug te vat. Maar wat die konfrontasie afgeweer het was toe hy vir my gesê het dat hy nie werklik ‘n probleem met Kersvader het nie; hy hou maar net nie van die idee dat dit so prominent in die huis staan nie. Ek het toe maar vir Kersvader opgepak en dit terug gevat na die winkel toe. Die eerste ding wat die mense by die winkel wou weet is of daar iets met Kersvader verkeerd is. Ek wou eers sê dat daar niks met Kersvader verkeerd is nie, maar dat daar eerder iets met my man verkeerd is, maar ek het myself ingehou. As ek nou terugkyk op die voorval, dan dink ek aan wat die HERE gesê het toe Hy gesê het dat ons aan ons mans onderdanig moet wees in alles. Vir my was dit ‘n harde slag en my ego het baie gehawend anderkant uitgekom, maar dit was so ‘n groot geskenk van die HERE om te verstaan wat Hy bedoel het in Sy Woord; om te hoor wat Hy gesê het en bereid te wees om deur te druk daarmee.
Die Woord van die HERE sê vir ons in Efesiërs 5 dat ons as vroue gehoorsaam moet wees aan alles, maar dit verwys nie na die gevalle waar jou man jou vra om te sondig nie. Ons almal staan onder die sambreel van die HERE se wil; ons mans ook. Elke slag wat jou man onder daardie sambreel uitstap om wat ook al te doen; te kul op sy belasting opgawe, na pornografie te kyk of om dronk te word op naweke; wat ook al die geval mag wees, dan is dit ons plig as vroue om te sê dat so lief soos ons ons mans het, hulle respekteer en onderdanig aan hulle wil wees, moet ons die HERE meer gehoorsaam wees. (Handelinge 5:29)
Om aan ons mans onderdanig te wees is nie maklik nie. Om met ‘n evangelis getroud te wees is makliker, maar dis nie maklik nie, want ons is beide sondige wesens en ek weet julle gaan my nou nie glo nie! Vir julle wat nog nie getroud is nie, neem hierdie ter harte en let op na wat die HERE jou gaan roep om te doen. As jy ‘n man sien wat besluite neem gebaseer op die wil van die HERE en jy sien hoe hy ‘n pad met die HERE stap, dan is dit makliker om onderdanig aan so iemand te wees. Let op dat die klem val op makliker, nie maklik nie! Die HERE weet presies hoe dit voel om met jou man getroud te wees en hy weet ook hoe ‘n mooi mens jy kan word in Hom, ongeag van hoe gelowig of ongelowig jou man is.
Ek het die week ‘n stukkie gelees wat deur Moeder Theresa geskryf was wat so passend is: Ek weet dat die HERE my nooit meer sal gee as wat ek kan hanteer nie, maar ek wens net dat Hy my nie so baie vertrou het nie! Voel jy partykeer dat die HERE jou te veel vertrou? Elke moeilike ding wat jou pad kruis en nie ‘n direkte uitvloeisel is van jou eie sonde is nie, was aan jou toevertrou deur die HERE. Die HERE vertrou jou met elke toets wat Hy jou gegee het om deur te staan net soos Hy jou vertrou met die man wat Hy jou gegee het.
Ek wil vir julle nog ‘n stukkie lees, veral vir die van julle wat moeilike mans het. Dit staan in 1 Petrus 3 “[1] Net so moet julle, vroue, aan jul eie mans onderdanig wees, sodat, as sommige aan die woord ongehoorsaam is, hulle ook deur die wandel van die vroue sonder woorde gewin kan word [2] as hulle jul reine, godvresende wandel aanskou het.” Ek wil veral die gedeelte beklemtoon wat sê sonder woorde, want om iemand sonder woorde te kan oortuig is die werk van die Heilige Gees.
Kom ek vra julle die vraag: wat sien julle mans in julle as hulle na julle kyk? Sien hy ‘n stil Godvresende vrou wat kosbaar is vir die HERE? Sien hy werke wat van die HERE getuig? Met ander woorde, sien jou man die HERE in jou as hy na jou kyk? Jou man gaan dit baie makliker vind om jou lief te hê en vir jou te sorg op ‘n Goddelike manier as hy die HERE in jou lewe sien. Net soos jy dink dat dit makliker sal wees om saam met hom te leef as hy net ‘n bietjie meer Godvresend was, net so dink jou man van jou.
Die gedeelte wat ek wil hê julle moet onthou is in Efesiërs 5:22-24. Die HERE is die hoof van die gemeente en die HERE het die man oor die vrou aangestel. Die HERE gaan die man verantwoordelik hou vir die besluite wat hy geneem het, net soos Hy vir jou verantwoordelik gehou het oor die besluite wat jy geneem het rakende jou man.
Prys die HERE vir hierdie boodskap en baie dankie aan Lisa Chan vir haar bydrae.