As ek maar geweet het

Die HERE het ons oneindig baie lief en daarom waarsku Hy die wat hy lief het voor die tyd sodat hulle gereed kan maak vir dit wat kom.

Ek het die volgende waarskuwing van die HERE ontvang wat opgeteken staan in Lukas 12:35-40: “[35] Laat julle heupe omgord wees en julle lampe aan die brand. [36] En julle moet wees soos mense wat op hulle heer wag wanneer hy van die bruilof terugkom, sodat hulle dadelik vir hom kan oopmaak as hy kom en aanklop. [37] Gelukkig is daardie diensknegte vir wie die heer wakker sal vind as hy kom. Voorwaar Ek sê vir julle, hy sal hom omgord en hulle aan tafel laat gaan en hulle kom bedien. [38] En as hy in die tweede of in die derde nagwaak kom, en dit so vind gelukkig is daardie diensknegte. [39] Maar weet dit: as die huisheer geweet het in watter uur die dief sou kom, sou hy gewaak het en nie in sy huis laat inbreek het nie. [40] Julle moet dan ook gereed wees, omdat die Seun van die mens kom op ‘n uur dat julle dit nie verwag nie.”

Jesus se baie duidelik en sonder om doekies om te draai dat ons die dag en die uur nie sal weet nie. Ons sal wel weet as die tyd naby is, maar ons gaan die presiese dag en die uur nie weet nie en daarom is dit so belangrik dat ons gereed moet wees vir daardie dag. As jy dus met dinge besig is wat nie die naam van die HERE groot maak nie, hou dan op waarmee jy besig is.

Iemand het eenslag gesê dat die ding waaroor jy die meeste gaan spyt wees as jy in die Hemel kom, gaan wees hoe min jy vir die HERE gedoen het. Jy gaan wens vir ‘n tweede kans om terug te kan gaan en meer te kan doen. Nou is daardie kans om meer te kan doen! Laat die HERE se lig dus NOU uit jou uit skyn en dra daardie Vrugte van die Gees sodat almal kan sien dat jy anders is as die wêreld, want dit is daardie anders wat mense na die HERE toe aantrek!

Die van julle wat hierdie lees en nog nie gereed is om die HERE te ontmoet nie; vat hierdie as ‘n waarskuwing om gereed te maak!

Daar is ‘n gedig wat sê:

As ek geweet het dis die laaste keer dat ek jou aan die slaap sou sien raak,

sou ek meer moeite gedoen het om jou warm toe te maak.

As ek geweet het dis die laaste keer wat ek jou by die deur sien uitloop, sou ek jou gedruk en gesoen het –

en jou teruggeroep het vir nog ‘n drukkie. As ek geweet het dis die laaste keer dat ek jou stem sou hoor,

sou ek dit op band op geneem het sodat ek dit weer en weer kon speel.

Ons leef so asof daar nog baie tyd oor is om alles te doen wat ons graag wil ..

maar sê nou vandag was die laaste kans!

Ek weet nie wie hierdie woorde geskryf het nie, maar dis uiters toepaslik op vandag se boodskap. In Jakobus 4:14 staan “Want hoedanig is julle lewe? Dit is tog maar ‘n damp wat vir ‘n kort tydjie verskyn en daarna verdwyn.”

Lesers, luister na my woorde: Die ewigheid gaan ‘n baie lang tyd wees om sonder die HERE te wees. Ons tyd is min. Maak die regte keuse en maak dit nou.

Mag die HERE hierdie boodskap aan julle harte seën!

(Visited 866 times, 1 visits today)
Tagged , , , , .