Wie was Nikodémus?

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Die Bybel gee nie vir ons veel agtergrond oor wie Nikodémus was nie, behalwe dat hy ‘n Fariseër was. Hy word ook net genoem in die Evangelie volgens Johannes en uit dit wat ons lees, kan mens aflei dat Nikodémus nie met sy mede Fariseërs saamgestem het nie.

Die eerste keer wat die naam Nikodémus genoem word is in Johannes 3:1-15 waar hy in die nag na Jesus gekom het en Jesus aan hom die wedergeboorte verduidelik het. Ons lees daarna weer van hom in Johannes 7:50-51 waar hy aan die ander Fariseërs gesê het dat mens nie iemand veroordeel voor jy nie sy kant van die saak gehoor het nie. Die laaste keer wat ons van hom lees is in Johannes 19:38-42 waar hy na die kruisiging ‘n mengsel van mirre en aalwee verskaf het vir Jesus se begrafnis. Hy was ook self teenwoordig by die begrafnis.

Een ding moet julle verstaan en dit is dat die mense in Jesus se tyd baie anders was as nou. Hulle het nie die kennis van die Bybel of die verstand gehad om die geskrifte te interpreteer soos ons vandag het nie. Vandag weet ons almal wat Jesus bedoel het met die gelykenisse wat Hy gespreek het, maar die mense van daardie tyd het dit nie verstaan nie. Dis dan waarom Jesus altyd in gelykenisse tot hulle gespreek het. Nooit het hy enige iets aan die skare gesê as dit nie deur gelykenisse was nie.

Dis dan ook waarom die Fariseërs en die Skrifgeleerdes so hooggeag was in Jesus se tyd. Hulle was daar om die geskrifte aan die mense duidelik te maak, maar dis wat hulle nie gedoen het nie. Hulle het eerder hulle posisies gebruik om swaar laste op die skouers van die mense te laai en verder het hulle hulleself verryk uit die tempel uit! Jesus het dit geweet en die Fariseërs en die Skrifgeleerdes het geweet hy weet dit. Dis waarom hulle van hom ontslae wou raak. Jesus was ‘n bedreiging vir hulle voortbestaan, maar hulle het geweet dat hulle dit nie kon doen sonder die skare nie. Die manipulasie van die skare was die sleutel tot sukses vir hulle planne.

Om iemand te kan veroordeel in daardie tyd, moes die hele Sanhedrin teenwoordig wees en moes elkeen van hulle saamstem dat die veroordeelde skuldig was. Dit was belangrik dat hulle die veroordeelde se kant van die saak aanhoor. Daardie aand voor die kruisiging was al die lede van die Sanhedrin nie teenwoordig nie. Jesus se veroordeling en die daaropvolgende kruisiging was dus nie volgens die wet nie.

Om die storie teen die muur te laat vassit was dit nodig dat vals getuienisse ingebring word; mense wat getuig het dat Jesus gesê het dat hy die tempel sal afbreek en in drie dae weer sal opbou. Jesus het natuurlik nie verwys na die tempel as gebou nie. Die hele veroordeling en Jesus se kruisiging was dus hoogs onreëlmatig, maar ons weet vandag dat dit nodig was en dat dit so moes gebeur.

As dit nie so gebeur het nie, dan sou ons nie vandag die vryheid gehad het om tot die HERE te bid soos ons vandag het nie en sou die vergifnis van ons sondes deur die bloed van die Lam nie moontlik gewees het nie. Satan het gedink hy het gewen, maar hy het eintlik een van sy grootste nederlae ooit gehad en hy het dit nie eers besef nie! Prys die HERE!

Daarom liewe leser; of jy nou ‘n geredde Christen is of nie; die HERE het vir jou sondes op die kruis gesterf! Die onregverdige manier wat Hy behandel is bewys dit! Jy kan hierdie geskenk aanvaar of jy kan dit verwerp. Die keuse is joune om te maak, maar weet dat die gevolge van jou keuse ook net joune gaan wees om te dra. Maak dus die regte keuse, want daar is verkeerde keuses ook!

As jy gereed is, gaan op jou knieë en bid tot die HERE. Moenie bekommerd wees oor wat jy gaan sê nie. Die Gees van die HERE sal jou lei om te sê wat jy moet sê. Sê dit wat in jou hart opkom om te sê. Die HERE sal jou hoor en Hy staan gereed om jou al jou oortredinge te vergewe!

(Visited 1 231 times, 1 visits today)