Bid vir Suid Afrika

Bid vir Suid Afrika

Ek wil julle vandag vra om asseblief te bid vir hierdie land van ons en ons leiers. Vergeet van die politiek. Vergeet van kleur. Vergeet van wie is reg en wie is verkeerd en vergeet van wie wat aan wie gedoen het. Al daardie dinge is nie belangrik op hierdie oomblik nie.

Ons sit met politieke leiers wat nie besef dat dit wat hulle doen die land in meer arm moede dompel nie. Hulle word verblind deur satan sodat hulle nie die waarheid kan sien nie. Hulle dink dat dit wat hulle doen reg is en dat dit hulle toekom. Aan die ander kant sit ons met politieke leiers wat bereid is om te baklei vir wat reg is, maar hulle weet nie wat aan die gang is nie.

Ek wil vra dat ons sal bid vir die wat in beide kampe is. Bid vir die wat verkeerd doen sodat satan se mag oor hulle gebreek kan word. Bid dan ook vir die wat reg probeer doen sodat die HERE hulle oë sal oopmaak en hulle betyds alarm sal kan maak voor dit te laat is.

‘n Paar maande gelede het ons gebid vir reën en die HERE het ons geseën met reën hier in die noorde van die land, net soos Hy gesê het Hy gaan doen. Ek dink nie mense besef altyd hoe ‘n groot wonderwerk dit was nie, daarom gaan ek dit vir julle uitlig.

Die Vaal dam is 320 km2 groot en as die dam vol is, kan dit 2.6 biljoen kubieke meter water hou. Ek hoef seker nie vir julle te sê hoe ‘n ontsaglike klomp water dit is nie. In die begin van die somer laas jaar, was die dam om en by die 20% vol wat beteken dat daar ongeveer 522 miljoen kubieke meter water in was. Op die oomblik is die dam 63% vol. Dit beteken dat 1.1 biljoen kubieke meter water in die dam ingevloei het sedert die begin van die somer! Dis amper die helfte van die dam se totale inhoud in water of 1.1 triljoen liter water! Verstaan julle nou waarom ek sê dis ‘n wonderwerk? Is daar enige iemand wat hierdie lees wat vir my kan sê die HERE is nie ‘n waarmaker van Sy Woord nie? Of dat die HERE doof is vir die gebede van Sy Kinders?

As gebed dit kan regkry, wat dink julle sal gebeur as ons vir ons land begin bid? Dink julle satan en sy trawante staan ‘n kans? Is daar enige iets wat in ons pad kan staan? As die HERE vir Sy kinders in Amerika kan luister en dinge vir hulle regmaak, waarom nie vir ons nie?

Ek wil nie hê julle moet bid vir ‘n leierskap verandering nie, want die HERE stel mense in posisies aan met ‘n doel. Deur te bid vir ‘n leierskap verandering gaan jy vir die HERE sê dat sy keuse vir Suid Afrika verkeerd was en dit wil ons nie doen nie. Bid eerder vir die opening van oë en die verandering van gesindhede dat mense sal begin sien wat dit is wat hulle doen.

Lesers, die HERE roep ons om te bid. Hy kan en Hy wil, maar ons moet die bid werk doen. Ons moet saam met hom in die bresse tree vir hierdie land en ons moet skouer aan skouer saam met Hom staan. Is jy bereid om dit te doen? Is jy bereid om die HERE se hand te vat en te sê: “Ek sal saam met U staan, HERE!” Doen dit dan, want ons land het mense soos dit nodig, mense wat in hulle binnekamers bid sonder dat enige iemand daarvan weet.

Mag die HERE julle seën in hierdie onderneming.

 

(Visited 128 times, 2 visits today)