Ek is seker daarvan dat as ek vir julle vra of julle weet wat ‘n balanseer balk is, baie van julle presies sal weet waarvan ek praat. Ons wat oud genoeg is, sou dit op skool gesien het en as jy die Olimpiese Spele op TV volg, dan sou jy al die gimnastiek roetines gesien het wat van die meisies op hierdie balanseer balke doen!
Nêrens in die Bybel belowe die HERE vir ons ‘n maklike lewe vol melk en heuning nie. Vir ons is die lewe soos ‘n balanseer balk waarop jy jou toertjies van die lewe moet doen. Wat ons baie keer vir die HERE moet doen is angswekkend en baie moeilik, maar ons doen dit nogtans, want die Bybel sê vir ons in Matteus 16:27 “Want die Seun van die mens staan gereed om met sy engele in die heerlikheid van sy Vader te kom, en dan sal Hy elkeen vergeld volgens sy dade.” Dis waarom ons hierdie waaghalsige toertjies op die balanseer balk van die lewe doen, omdat alles wat ons nou deurgaan eendag ryklik beloon gaan word! Maar dis meer as dit, ons doen dit ook om ons liefde vir die HERE te bewys!
Vir party van ons is die lewe maar taamlik rof. Ek wil julle vertel van iemand, maar omdat ek die persoon se privaatheid respekteer, gaan ek nie name noem nie. Hierdie persoon se ma is oorlede tydens sy geboorte. Sy pa het later weer getrou. Toe hy nege jaar oud word, het sy stiefma in ‘n motor ongeluk omgekom. Sy pa het toe vir ‘n derde keer getrou, maar op twaalfjarige ouderdom is sy pa aan kanker oorlede. Die enigste direkte familie wat hy oorgehad het was sy oom en tannie. Op sestien jaar het sy oom sy tannie in een of ander argument dood geskiet voor hy homself dood geskiet het. Hierdie persoon is 16 jaar oud en sy wêreld het sopas in duie gestort!
Die lewe is vol onstabiliteit en dinge wat ons nie verstaan nie, maar as iets soos dit met sommige Christene gebeur, dan gaan hulle wydsbeen oor daardie balanseer balk gaan sit en klou die balk vas met albei arms! Ons wil so graag die HERE dien, maar as dinge so bietjie uit balans raak, dan gaan sit ons plat op die balanseer balk en sê: “Dis malligheid! Ek wil nie so lewe nie!” Dan gryp ons die balanseer balk met albei ons arms vas en sê: “Ek gaan nie enige iets mal aanvang nie! Ek gaan net hier sit en die balk styf vas hou met my bene en my arms. Ek en my gesin gaan op ons eie wees; ons gaan niemand pla nie; ons woon in ‘n sekuriteit kompleks; ek gaan my kinders tuis leer en uit die son hou, want die son is nie goed vir hulle nie; hulle gaan valhelms dra oral waarheen hulle gaan en ek gaan niks buitengewoon vir die HERE doen nie. Ek sal kerk toe gaan en miskien twee persent van my lewe aan die HERE gee.” Jou grootste wens is om in jou slaap te sterf sodat jy niks voel nie.
Dan, in jou slaap sterf jy en los jy die balanseer balk. Skielik staan jy voor die troon van die Vader en spring jy in die lug op met jou arms uitgestrek na bo soos iemand wat nou net die mees komplekse toertjie uitgevoer het! Watse punt dink julle gaan die Vader vir jou vertoning op die balanseer balk van die lewe gee?
As enige een van ons na die Olimpiese Spele kyk en die gimnas kom op die balk uitgestap; gaan sit wydsbeen oor die balk; klou vir drie minute vir lewe en dood aan die balk vas; klim dan stadig af en spring in die lug op met albei hande uitgestrek, wat se punt dink julle sal daardie gimnas kry? Wat gaan die beoordelaars op hulle punte state skryf?
Die skokkende is dat dit die roetine is wat so baie Christene volg! Ek wil niks buitengewoon doen nie, want ek wil nie val nie! Eendag gaan hulle van die balk moet afklim en besef dat hulle voor die Heerser van die Hemel en Aarde staan! Wat gaan ons doen? Voor die HERE staan met leë hande? Dink julle die HERE gaan sê: “Mooi so goeie en getroue dienskneg? Jy het die veiligste lewe gelei wat daar denkbaar is! Jy het nooit gegly nie en jy het nooit geval nie! Goed vir jou!”
Liewe leser, dis nie die lewe wat die HERE vir jou ingedagte het nie, maar dis waar die meeste mense heen op pad is! Die vraag wat jy jouself moet vra is: Wil jy gaan waar die meeste mense heen op pad is of wil jy werklik uitstaan?
Ja, die lewe is moeilik en daar is oomblikke wat mens tot in jou siel bang raak vir omstandighede buite jou beheer, maar met die HERE aan ons sy, kan ons oor berge spring! Waarom dan aan die balk gaan vasklou? Glo jy dan nie dat die HERE jou uit elke situasie kan red nie?
Die geheim is om nie te gaan sit en moed op te gee nie. Dis waar dat slegte dinge gebeur en dat ons nie altyd beheer daaroor het nie, maar dis wanneer slegte dinge gebeur en jy opstaan en sê dat my omstandighede nie gaan dikteer wie ek is nie, dis dan wanneer jy begin om ‘n verskil te maak!
Die Bybel sê vir ons in Mattheus 7:21 “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.” Die HERE gaan jou nie beloon as jy niks gedoen het nie. Net soos in die Olimpiese Spele, wen jy net as jy die beste is! Wees daarom die beste wat jy kan wees vir die HERE! Prys Sy Naam!