Bekommernisse oor ons tekortkominge

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Baie keer gebeur dit dat ons meer bekommerd is oor wat die HERE van ons dink as was ons bekommerd is oor wat die HERE in ons raaksien!

Ons sien baie keer net hierdie sondige wese wat net kan sondig en dan herinner satan met graagte ons aan al die verkeerde dinge wat ons doen of gedoen het. Ons raak dan neerslagtig en dan wonder ons of die HERE ons werklik vergewe het…

Klink dit bekend? Dan gaan ek vir julle die volgende storie vertel.

Daar was ‘n sekere man wat elke oggend en middag twee groot emmers water by ‘n rivier gaan haal het vir sy huis. Hy het die emmers oor ‘n juk gehang en die juk dan op sy skouers geplaas voor hy begin loop het. By die rivier het hy die emmers volgemaak, hulle weer aan die juk gehang en dan die juk weer op sy skouers geplaas. Die emmer aan die regter kant het ‘n klein gaatjie ingehad en sovêr die man geloop het, het die emmer gelek. As die man by die huis gekom het, was die emmer aan die regterkant net half vol. Natuurlik was die emmer baie selfbewus oor sy tekortkoming en eendag het hy by die man gaan kla daaroor. Die man het die emmer na buite gevat en gesê dat hy moet kyk na die kant van die pad waar die heel emmer hang. “Wat sien jy?” vra die man “Niks, behalwe vir sand nie,” antwoord die emmer. “Wat sien jy aan die kant waar jy hang?” ‘n Ry blomme het begin groei aan die kant wat die stukkende emmer hang as gevolg van die water wat elke dag uit hom gelek het. Die emmer het begryp dat daar niks aan die heel emmer se kant gegroei het nie, omdat daar nooit water daaruit gelek het nie, maar as gevolg van sy tekortkoming het die man mooi blomme om elke dag na te kyk as hy met die pad afloop om water te gaan haal.

So gaan dit in ons lewens ook. Ons wil graag perfek wees vir Jesus, net soos Hy perfek was. Ons sukkel om hierdie perfeksie na te streef en op die ou end raak ons gefrustreerd deur ons tekortkominge. Net soos met die emmer, sien ons nie die groter prentjie nie. Dit gaan nie oor die gate in die emmer nie, liewe kind van die HERE, maar oor die heilige water binne in. Dit gaan dus nie oor hoe jy uiterlik lyk nie; dit gaan oor hoe jy die lewe benader. Is jy vriendelik met ander? Sien hulle die HERE se lig in jou lewe? Is jy goed vir die wat minder bevoorreg as jy is? Dis die dinge wat die blomme langs die pad laat groei en nie die gate in jou lewe nie! Julle moet onthou dat jou liggaam net ‘n aardse kruik is. Hierdie liggaam is gebind aan die aarde. Hy wil sondig en hy wil hom oorgee aan vleeslike begeertes.

Mense vra gereeld vir my wat die Bybel sê oor sekere aspekte van hulle lewens. Ek kan baie verse uithaal wat vir julle gaan wys hoe verkeerd baie dinge is wat ons elke dag doen, maar wat gaan ons daardeur bereik? Ons gaan onsself bind in ‘n klein bondeltjie en ons gaan so hard probeer om die gate in ons lewens toe te stop dat ons geheel en al gaan vergeet waarom hierdie gate daar is. Dis belangriker om die wil van die Here te doen as om bekommerd te wees oor die gate!

Ek gaan afsluit met ‘n versie wat ek per e-pos ontvang het van ‘n gereelde leser:

“Here, my lewe is so vol gate, ek wil so graag weer heel wees.”

Toe sê Hy vir my – “My kind, as daar nie gate in jou lewe was nie, waardeur sou My LIG dan kon skyn?”

Dankie Here dat U ons aanvaar ons net soos ons is, by U bly ons elkeen spesiaal. Amen!

Prys die wonderlike Naam van Jesus!

(Visited 153 times, 1 visits today)