Weet julle dat die Here die hele tyd met ons praat, maar dat ons Hom nie altyd hoor nie?
Ek het die volgende verduideliking per epos ontvang en ek moet sê dat hierdie verduideliking selfs vir my omkant gevang het! Ek het nog altyd gewonder hoe ek ‘n begrip soos die aan iemand gaan verduidelik, maar ek het nooit verwag dat die HERE vir my so ‘n maklike verduideliking sal stuur nie! Dis dinge soos dit wat my net laat besef wat ‘n ongelooflike wonderlike God ons dien! Kom ons begin!
Die dag as jy ‘n selfoon koop het jy twee dinge nodig om dit te laat werk: ‘n sim-kaart wat binne in die selfoon moet pas en lugtyd by een van die diensverskaffers. Jesus is die sim-kaart. Hy is die begin. Sonder Jesus wat die sim-kaart verteenwoordig werk die selfoon nie. Die lugtyd is ons gebede. Ons moet baie bid, anders raak ons lugtyd op! Die netwerk is God die Vader. Jesus laat ons toe om direk met God die Vader te kan gesels, maar dan moet ons lugtyd en ‘n goeie ontvangs hê. Dis waarom dit so belangrik is om baie te bid en met God te gesels; sodat jy genoeg lugtyd het om daardie belangrike oproep te kan maak as dit die dag saak maak!
Die probleem met alle selfone is dat hulle nie altyd ontvangs het nie. Weet ons dit nie almal nie? Jy moet op die regte plek wees, anders het jy nie ontvangs nie. As jy binne in ‘n gebou instap, dan belemmer dit jou ontvangs. Dieselfde met sonde. Sonde in die lewe van Christene veroorsaak dat die ontvangs met die netwerk wat God die Vader is, belemmer word. Dan is jy nie meer op die regte plek nie. Kommunikasie met God die Vader raak dan al hoe moeiliker en baie Christene hou dan op om op hulle selfone te gesels. Dis dan wanneer ons probleme regtig begin.
In Jesaja 43:1 lees ons: “Ek het jou verlos; Ek het jou by jou naam geroep; jy is myne!” Ons is God se kinders; sy eiendom! Voordat die ontvangs heeltemal opraak, sal God alles in Sy vermoë doen om die ontvangs weer te herstel en jou op die regte plek te kry. Dis dan wanneer die slegte dinge gebeur, want God probeer jou aandag trek deur vir jou te wys dat jy op die verkeerde plek is.
In Handelinge Nege lees ons hoe God vir Saulus so met ‘n weerligstraal getref het. God het vir hom letterlik gewys dat hy op die verkeerde plek was! Dieselfde gebeur in baie Christene se lewes en dan kan hulle nie verstaan waarom nie. Hulle blameer dan vir God, maar al wat God wou doen was om aan jou te wys dat daar ‘n probleem was met jou ontvangs is! God weet dat een slegte insident in jou lewe jou weer sal laat bid en sal laat terugkeer na Hom toe. Dis waarom die Here toelaat dat dit gebeur.
Liewe leser, kyk wat is verkeerd in jou lewe. Herstel jou ontvangs met God en alles sal weer regkom! Jou ontvangs met God is die kern waarom alles draai. God kan nie dinge in jou lewe verander of regmaak as jou ontvangs met die netwerk nie reg is nie. Herstel dit asseblief heel eerste!
Mag die HERE hierdie boodskap seën!