Hoe maklik beland ons nie in ‘n blindekol waar ons ons Mede Christene nie meer kan sien nie… Dan strompel ons voort met die idee dat ons en ons alleen reg is en almal anders verkeerd is?
So ‘n rukkie gelede het iemand vir my gevra of ek glo dat daar ‘n Vader, Seun en Heilige Gees as ‘n eenheid of as drie individue. Ek moet erken dat die vraag my eers totaal omkant gevang het, want dit is letterlik jare dat iemand so iets van my gevra het! Ek het gerekend dat ons al verby daardie stadium was waar klassifikasies soos dit vir enige iemand saak sal maak, maar ek was duidelik verkeerd!
In die heel eerste kerk wat ek ooit in my lewe was, het hulle mense gedoop in die Naam van die Vader, Seun en Heilige Gees. Daar was vir ons geleer dat dit die regte manier is om te doen omdat dit is hoe Jesus Sy dissipels geleer het om te doen.
Later in nog ‘n kerk het ek geleer dat die doop in die Naam van Jesus reg is omdat dit die een is wat Paulus geleer het soos wat die Heilige Gees aan hom openbaar het. Die doop wat Jesus geleer het was nie verkeerd nie, maar om een of ander rede was die weergawe wat die Heilige Gees geleer het meer reg…
Later, soos ‘n mens begin groei in die Gees, begin jy dink, wat dan die verskil is? Of jy nou gedoop word in die Naam van die Vader, Seun of Heilige Gees en of jy gedoop word in die Naam van Jesus, jy is mos gedoop, is jy dan nie? Daar is geen manier wat die een doop meer reg as die ander een is nie, want die end resultaat is dat die bekeerling gedoop is!
Wat die kwessie van die Vader, Seun en Heilige Gees betref, glo ek dat hierdie een van God se verborgenhede is en dat dit nie vir ons as mens nie gegee is om te verstaan nie. Dis waarom ek baie skepties is om ‘n opinie daaroor te lewer.
Elke kerk genootskap het sy manier van glo. So is ek aanvanklik geleer dat die Vader, Seun en Heilige Gees drie persone is, maar later is ek geleer dat Vader, Seun en Heilige Gees eintlik een persoon is met drie verskillende titels…
Ek gaan vir julle nou een vraag vra: maak dit werklik saak? As ek te doen kry met kwessies soos dit wat mense blindelings laat stry oor dinge wat hulle nie verstaan nie of nie vir ons gegee is om te verstaan nie, dan word my hart so seer.
Julle sien, ons is bereid om mense uit die pad te stamp of plat te loop net om ons punt te bewys. Ek glo nie in Silas se leer nie, maar ek glo in Paulus se leer, want Paulus is meer reg! Sien julle waar die blinde kolle in die geloof vandaan kom? Wat maak dit saak wie se leer dit is? Kom alle leer maar nie van die HERE af nie? Is ons nie veronderstel om in die leer van die HERE te glo nie? Waarom dan daaroor baklei?
Wat maak dit saak wie se doop reg is? Wat maak dit saak of die Vader, Seun en Heilige Gees een of meer as een is? Wat belangrik is is dat Jesus op Golgota vir ons gesterf het en dat ons vrygekoop is deur Jesus Bloed! Dis wat belangrik is! As jy dit glo, gaan jy vir ewig lewe! ‘n Klomp leerstellings gaan jou nie in die Hemel bring nie!
Ek weet dat ek nog nie vir julle ‘n opinie gegee het oor hoe ek glo wat die Vader, Seun en Heilige Gees betref nie. Ek glo dat hulle gelyktydig drie, maar ook een is. Soos ek in die begin gesê het, dis ‘n verborgenheid van God en daarom nie vir ons gegee om te verstaan nie. Dus gaan ek nie my siening probeer regverdig nie. Om oor hierdie dinge te stry dien nie tot stigting van enige iemand nie en om iemand se leer te klassifiseer as reg of verkeerd gebaseer op hierdie dinge lei net tot een ding: ‘n baie groot blindekol in die geloof!
Prys die Naam van Jesus!