Vandag wil ek vir julle wys net hoe slinks satan is en hoe vinnig hy ‘n mens kan laat twyfel aan wat waarheid is en wat nie.
Iemand het aan my ‘n boodskap, wat in ‘n Christen Groep op Facebook gepos was, uitgewys waarin ‘n leraar uitvaar teen diegene wat in die wegraping glo. Dit wil sê ‘n wegraping voor die begin van die verdrukking. Volgens hierdie persoon word 80% van die kerk van God mislei deur ‘n leuen en dat ‘n wegraping voor die verdrukking glad nie deur die Bybel ondersteun word nie. Volgens hierdie persoon gaan daar net een wegraping wees en dit gaan gebeur aan die einde van die verdrukking soos in Openbaring beskryf. Hy erken die feit dat ons in die laaste dae leef, maar dat Jesus laat is. Volgens hierdie persoon moet ons ons oë uit die wolke uithaal en ‘n slag die waarheid sien… Eina!
Ek kan verstaan waarom die vir sommige moeilik is om aan ‘n wegraping te glo. Die oorgrote meerderheid van Christene vandag gaan nie gereed wees daarvoor nie. Net die wat Ware Kinders van God is, met die Heilige Gees alomteenwoordig in hulle lewens gaan gereed wees daarvoor en ook net hulle gaan die waarheid van die wegraping besef, want die Gees openbaar hierdie dinge aan die Ware Kind van God. Maar nou met ek eers terug kom op die boodskap voor ek te ver afdwaal!
Soos ek al baie hieroor geskryf het, kom die woord “wegraping” nie in ons Bybel voor nie. Dit is wel opgeteken in die oorspronklike Griekse geskrifte, maar die woord is uitgelaat in die vertalings daarvan. Ons weet nie waarom nie. Die konsep van die wegraping word wel aan ons verduidelik. (1 Tessalonisense 4:13-18) Op soortgelyke wyse kom die woord “Drie Enige God” ook nie in ons Bybel voor nie, maar tog glo is daarin omdat die konsep daarvan aan ons verduidelik word net soos die konsep van die wegraping.
God se Woord kom in twee dele: daar is die Logos Woord wat die geskrewe Bybel is en dan is daar die Rhema Woord wat die openbaring van die Gees van die Waarheid is. Jesus het in Johannes 16:12-13 gesê dat Hy die Gees van die Waarheid (Heilige Gees) sal stuur om ons in die hele waarheid te lei en dis hoe ons die waarheid sal weet. Om die Bybel te kan verstaan moet ons God se Logos Woord en Sy Rhema Woord saam gebruik. Die Logos Woord is een helfte van die waarheid, maar die Rhema Woord is die ander helfte en saam vorm hulle ‘n eenheid soos ‘n perd en ‘n ruiter. ‘n Perd op sy eie beteken niks en so ook nie die ruiter op sy eie nie, maar sit die ruiter op sy rug van die perd en kyk dan wat daardie perd met sy ruiter van vermag! God se Logos en Sy Rhema Woord is dieselfde. Ons met altwee saam gebruik om die hele waarheid te kan besef!
Hierdie persoon erken wel die feit dat 80% van die kerk in ‘n wegraping voor die verdrukking glo en dit behoort klaar vir hom ‘n teken te wees dat hy in gevaar is, want as 80% van die mense sê dat die lug blou is en ek is een van die 20% wat sê dat die lug pienk is, dan gaan ek darem begin wonder of ek nie dalk verkeerd is nie! Verstaan julle?
Liewe lesers, ek verkondig die waarheid as ek sê dat daar ‘n wegraping gaan wees voor die verdrukking, want soos julle weet is die verdrukking niks anders as God se wraak oor ‘n wêreld wat weier om hom te erken nie en daardie wraak kom ons as Kinders van God nie toe nie. ‘n Ouer straf tog nie sy kind as die kind niks verkeerd gedoen het nie!
Soos Paulus vir ons verduidelik in Romeine 5:9, Romeine 8:1 en in 1 Tessalonisense 5:9, kom God se oordeel die Ware Kind van God nie toe nie. Dis nou die van ons wat saligheid verkry het deur Jesus Christus. Waarom sal God se Woord dan sê dat Sy oordeel ons nie bestem is nie as ons dan saam met die sondaars geoordeel gaan word? Ek weier om te glo dat ons bestem is om saam met die sondaars geoordeel te word en dis waarom ek aan die wegraping glo! God is nie ‘n mens wat in Sy eie Woord sal lieg nie!
Ek gaan afsluit met die volgende twee gedeeltes uit 2 Petrus 3 soos deur die Gees geopenbaar. Dit is verbasend hoe hierdie gedeeltes vandag almal waar geword het!
“Dit moet julle veral weet, dat daar aan die einde van die dae spotters sal kom wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel en sê: Waar is die belofte van sy wederkoms?” (2 Petrus 3:3-4 )
“Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.” (2 Petrus 3:9)
Ek wil nie hê dat julle nou moet gaan en hierdie mense met geweld probeer oortuig nie. Jesus se dissipels wou dit ook doen en dis waarom Jesus in Mattheus 15:14 vir hulle gesê het: “Laat hulle staan; hulle is blinde leiers van blindes. En as ‘n blinde ‘n ander blinde lei, sal al twee in die sloot val.” Oortuig die wat oortuig kan word, maar laat die wat nie wil luister nie in die hande van die HERE.
Mag die HERE hierdie boodskap aan julle harte seën! Prys Sy Naam!
