Die basis van ons kommunikasie

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Om die Bybel te lees en te bid is die basis van ons kommunikasie met Jesus.

Gebed is kommunikasie en daardie kommunikasie vorm die basis van ons verhouding met Jesus. Sonder gebed, is daar geen kommunikasie nie en so lei die verhouding met Jesus skipbreuk.

Om met Jesus te praat is intimiteit met Hom; intimiteit tussen die bruid en die Bruidegom. Deur gebed groei die verhouding en daarmee saam groei die liefde tussen ons wat bid en Jesus. Op hierdie manier word die vlamme van kommunikasie sterker en brand dit al hoe hoër!

Soos Jesus Sy liefde op ons uitstort in gebed gaan jy begin besef dat satan geen houvas op jou siel meer het nie. Dit gaan maak dat satan baie kwaad gaan word vir jou, maar jy hoef nie te vrees nie, want Jesus is altyd met jou.

Jesus het so ‘n paar dae gelede vir my hierdie visioen gegee. Ek kon sien hoe satan in ‘n sirkel loop. Hy was briesend en hy het my naam aanhoudend gevloek. Ek kon nie die vloekwoorde hoor nie, maar ek het geweet dat hy ver verby kwaad was! Satan het gesê dat hy alles gegee het en alles probeer het om my te laat val, maar ek bly opstaan en teruggaan na Jesus toe en nie na hom toe nie. Hy het hard geskreeu uit frustrasie uit en weer rympies gevloek.

Die visioen het opgehou, maar ek het skielik besef hoe pateties en hoe magteloos satan werklik is. Hy roem hom op groot dinge, maar hy kan net doen wat hom toegelaat word. Ons het die mag om deur Jesus vir hom nee te kan sê en daar is niks wat hy daaraan kan doen nie.

As ons in gebed met Jesus is, dan help dit as ons Jesus se teenwoordigheid kan voel, want dit stel ons gerus. Net die gevoel dat Jesus daar is; Sy hande op ons skouers; is genoeg om enige bekommernisse wat ons mag hê heeltemal weg te vat. Soms weet ons net Jesus is daar, selfs al kan ons Hom nie voel nie.

Sommige mense hou nie op om te bid voor hulle Jesus se teenwoordigheid voel nie. Daar is niks daarmee verkeerd nie, want om jou so voor Jesus te verneder wys vir Jesus dat jy ernstig is met Hom. Sy aanraking op daardie oomblik laat die woestyn van jou lewe skielik blom met duisende op duisende klein blommetjies. Dis soos water op die droogste gedeeltes van jou siel; ‘n yskoue see briesie op die warmste van dae. Wat ‘n voorreg om die Heerser van die Heelal te kan dien! Prys Sy Wonderlike Naam!

Jy wil nie hê dat Jesus daardie gevoel van jou moet wegvat nie, want jy smag na Sy teenwoordigheid. Dis soos om in Jesus se arms toegevou te word en saam met Hom op die wolke te loop sonder enige vrees dat jy deur die wolke gaan val terug aarde toe. Ek weet dat daar van julle is wat presies weet wat ek bedoel, want julle was ook al daar! Dis wat Jesus doen as jy jouself voor Hom verneder en dis waarom sommige mense nie ophou bid voor hulle nie daardie weer gevoel kan voel nie.

Jesus is die hele tyd binne ons en Sy Gees vloei deur ons soos ‘n rivier in vloed. Ons moet net so nou en dan vir Jesus na die oppervlak bring terwyl ons vergeet van die wêreld en sy bekommernisse. Vergeet so ‘n bietjie van alles wat môre gedoen moet word, gaan op jou knieë en vra vir Jesus om jou aan te raak. Vergeet van die tyd. Hou dan aan met bid en smeek tot Jesus jou kom optel. Ek kan getuig dat daar geen beter gevoel is as dit nie!

Jesus het jou lief, liewe leser! Liewer as wat jy ooit sal besef. Sy Vaderhart bloei vir jou. Hy begeer om by jou te wees, maar Hy is ‘n ware Heer en Hy sal Hom nooit aan jou opdring nie. Dis waarom jou altyd die eerste stap moet doen en dit is om af te gaan op jou knieë. Moenie gebed speel nie. Jesus weet wanneer jy ernstig is en wanneer nie. Wys vir Hom dat jy Hom net so lief het soos wat Hy vir jou het en kyk dan wat gaan gebeur!

Prys die Wonderlike Naam van Jesus!

(Visited 143 times, 1 visits today)
Tagged , , , , .