Tyd raak min

Vertel hulle dat Ek hier is, dat Ek alles sien en alles hoor! Daar is niks wat gebeur wat ek nie sien of hoor nie.

Hierdie tyd is soos geen ander nie en Ek het jou in hierdie tyd geplaas om ‘n doel te dien in My groot plan. Dit behoort nou duidelik vir jou te wees dat die pad van die mens besig is om op ‘n einde te kom.

Ek het die mens toegelaat dat om kennis op te doen, te verstaan en vorentoe te beweeg op maniere wat nooit deel was van My oorspronklike plan nie. Alhoewel ek die mens so baie aangebied het in terme van geestelike wysheid en openbaring het hy nogtans die pad van die wêreld gekies in plaas daarvan om die pad te wandel wat Ek vir hom uitgesit het. Dis hierdie pad wat die mens nou stap wat gaan lei tot sy geestelike dood weg van sy Skepper af.

In sy strewe na mag en meerderwaardigheid het die mens weggeloop van die waarheid en alles wat net ontvang kan word deur ‘n intieme verhouding met My, sy Skepper. Dis waarom dit nou tyd is om die beskerming wat Ek hierdie wêreld gegee het nou weg te vat sodat die chaos en die donkerte wat nie deel is van My nie, kan seëvier.

As Ek dit gaan doen, gaan dit ‘n groot skeiding maak tussen die wat ek naby aan My hart hou en die wat die pad van donkerte stap omdat lig en donkerte nie gelyktydig in dieselfde plek kan bestaan nie. Moet daarom nie die motiewe van die Een Ware Skepper bevraagteken nie, want My weë is nie julle weë nie.

Die regverdiges gaan saam met die onregverdiges lei, maar My plan vir die redding van die menigte is perfek. Hulle uitroep om genade sal tot in My Koningryk gehoor word en Ek sal hulp stuur aan hulle soos Ek My oordele laat geld. Baie van die wat gaan roep om hulp gaan die wees wat tot op daardie tyd geen nut vir My in hulle lewens gesien het nie. Baie sal ook uitroep na My in woede en radeloosheid omdat hulle nog nie geleer het dat Ek is wie Ek is nie. Dis waarom Ek op My skepping aandring om elke aspek van wie Ek is te leer ken. Ek is die lig, maar Ek het ook die duisternis gemaak.

My wens is dat almal My sal lief hê en My sal dien, maar Ek forseer niemand nie. Ek gee, maar ek neem ook weg. Ek laat reën, maar ek hou ook die reën terug. Ek sit in die as as jy in die as sit, Ek huil as jy huil en Ek is bly as jy bly is. Terwyl jy op hierdie aarde is, laat Ek toe dat jy swaar kry, maar net omdat Ek weet dat dit jou geloof gaan versterk en omdat dit jou sterker in My gaan maak.

Alles in die lewe is ‘n keuse wat gemaak moet word. Jy kan in die donkerte uitroep om My of jy kan jou hart aan My gee saam met jou pyn en My vra om dit vir die groter doel te gebruik. Julle sal nie My plan vir die mensdom verstaan voor dit nie eendag ten volle aan julle bekend gemaak word nie. Dis waarom Ek vra dat julle My sal vertrou, selfs al lyk dinge nou hoe sleg. Ek is en sal altyd in beheer wees van alles wat gebeur, selfs al verstaan julle dit nie.

Raak ontslae van die eie ek, dit wat jy wil hê en dit wat jy wil hê moet gebeur. Niks van wat nou gebeur kan ooit vergelyk met dit wat Ek jou gaan gee nie. Ek laat versoekinge toe en Ek is die lewensaar van alles wat bestaan, want daar is niemand anders behalwe Ek nie. Ek het reeds groot werk deur jou gedoen en daarom vra Ek dat jy My sal vertrou in hierdie laaste uur.

Ek sal jou bonatuurlik versterk omdat Ek in jou leef en saam sal ons die pad stap. Jy is geskape in My beeld en saam sal ons oorwin. Ek is in jou hart en jy in Myne. Onthou: die oorlog is klaar gewen. Al wat nodig is vir jou om te doen is om aan die wêreld te wys dat jy anders is. Dat Ek in jou is en dat Ek is wie Ek sê Ek is!

Hou aan wandel op My pad en in My waarheid, want Ek is die waarheid, die lig en die lewe en Ek is die Koning van jou hart. My woord deurboor die hart en die siel van die mens. My Woord gee lewe aan die donkerste van plekke en sal nooit leeg na My terugkeer nie. Ek is jou verlossing en jou skuiling; ‘n sterk toring om in weg te kruip as die storms kom.

Mag die HERE hierdie boodskap seën!

(Visited 104 times, 1 visits today)
Tagged , , , , .