Ek weet dat baie van julle wonder oor die titel van vandag se boodskap! Ek het dit doelbewus so gekies om julle aandag te trek!
Ek hoef seker nie te vra hoeveel van julle al op ‘n dieet was nie, né! Ons almal was al een of ander tyd in ons lewe en raai wat? Dit werk wonderlik in die eerste week en selfs in die tweede week, maar teen die derde week dan val die hele ding plat en tel ons meer gewig op as wat ons voorheen gehad het! Waarom gebeur dit? Omdat ons moeg raak vir die roetine. Dit raak vervelig en jy kry lus vir die dinge wat jy nie mag eet nie. Voor jy dan weet wat gebeur, is jy terug waar jy begin het en het jy al die gewig weer opgetel!
Dieselfde gebeur met ons geestelike lewens. Ons trek weg met ‘n vaart en halfpad deur die ding dat verloor ons stoom en voor ons weet wat gebeur, is alles maar net weer soos dit was. Christenskap is presies soos om ‘n dieet te volg. Dis ‘n lewensstyl verandering en nie ‘n straf nie. Jy maak ‘n voorneme om minder te eet en om daardeur gewig te verloor. In die begin is dit moeilik, maar later word dit makliker soos jou liggaam aanpas by die nuwe lewens styl.
Om die HERE te dien is presies dieselfde. Jy kan nie daardie 30 sekondes wat jy in die oggend bid gebruik om jou hele lewe in orde te hou nie. Dit gaan nooit werk nie. Op soortgelyke wyse gaan die oggend in die kerk nie genoeg wees om jou die hele week te hou nie. Vir ‘n dieet om suksesvol te wees, moet jy dit in jou lewe integreer. Jy moet elke dag reg eet en jy moet jouself weer hou van dinge eet wat nie goed is vir jou nie. Christenskap is presies dieselfde. Jy moet die HERE in jou lewe integreer en Hom in alle aspekte van jou lewe ken. Jy moet as te ware niks doen sonder die goed keuring van die HERE nie! Jy moet jouself weerhou van sonde, want dis nie goed vir jou nie.
Die HERE sê in Sy Woord dat ons die lig van die wêreld is. (Mattheus 5:14) Ons is die sout van aarde. (Matteus 5:13). Jy moet jouself verloën om agter die HERE aan te kom. (Lukas 9:23) As jy nie bereid is om hierdie te doen nie, kan jy nie die HERE se dissipel op aarde wees nie. (Lukas 14:27)
Kom ek verduidelik: Die HERE moet so in jou lewe geïntrigeer wees dat mense dit van ver af sal sien en aangetrek word na jou toe. As sout in kos gegooi word is die reaksie altyd dieselfde. So moet ons reaksie op dit wat rondom ons gebeur ook altyd dieselfde wees. Julle moet besef dat net soos met ‘n dieet, daar geen maklike middel pad is nie. Jy kan ook nie halfpad ophou en dink jy het nou oorwin nie. Dit werk nie so nie! Dis alles of niks! As jy in ‘n dieet nie alles gee nie, gaan jy niks wen nie. Die HERE sê ook so in Sy Woord. Dis waarom jy jouself moet verloën. Jou liggaam sal altyd die sondige rigting wil inslaan. Die pad van minste weerstand, wat die maklikste is, maar jy moet jouself verloën en jou van hierdie dinge weerhou! As jy nie bereid is om hierdie dinge te doen nie, dan sê die HERE dat jy nie Sy dissipel kan wees nie! Dis harde woorde, maar dis hoe belangrik dit vir die HERE is dat ons moet verstaan hoe belangrik dit is wat ons doen.
Al gewonder hoekom so baie dinge in jou lewe verkeerd gaan? Waarom jy geen deurbrake kan maak nie. Waarom jy altyd so sukkel? Hier is jou antwoord! As jou hart en gedagtes nie is by wat jy besig is mee nie, dan maak jy dit aansienlik makliker vir satan om jou aan te val! Die HERE het ‘n sambreel van beskerming daar gestel vir al sy kinders. Solank jy binne daardie sambreel van beskerming bly is jy veilig, maar as jy onder die sambreel uitbeweeg deur jou eie liggaamlike begeertes te bevredig dan kan satan jou aanval. Dis waarom jy jouself moet verloën deur weg te bly van sonde.
Om die HERE te volg is nie maklik nie, want satan gaan jou uitlok. Om ‘n dieet te volg is op soortgelyke wyse ook nie maklik nie, maar liewe leser, net jy kan hierdie veranderinge maak. Net jy kan besluit om van mens na dissipel te beweeg. Onthou Jesus se woorde in Openbaring 3:20: “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek by hom ingaan en saam met hom die feesmaal hou, en hy saam met My.” Net u kan die deur van u hart vir Jesus oopmaak! Ek bid dat u die regte besluit sal maak. Dis nog nie te laat nie!
Mag die Here hierdie boodskap seën!