Gebed kan partykeer so ‘n gewoonte ding word. Ons gaan om voor die HERE te wees sodat ons versterk kan word en daardeur kan doen wat nodig is, maar dis nie waaroor dit gaan nie.
Die fokus van gebed moet nie wees op ons nodig het nie, of wat ons wil gaan doen, of wat ons wil hê die HERE moet vir ons doen nie. Die fokus moet wees om beskikbaar te wees vir die HERE en wat ook al Hy wil hê ons moet doen.
Vir ons wat werk esels is, is dit moeilik, want ons wil dadelik aan die werk spring en werk. Baie van ons kry vervulling uit ons werk uit, want daardeur bewys ons dat ons nodig en onmisbaar is. Ongelukkig vervul dit nie die HERE se behoefte om te weet dat ons Hom net so lief het nie…
Daar is vrede en verkwikking vir ons siele in die arms van die HERE en Hy is so versot daarop as ons tyd in ons lewens maak om saam met Hom te wil wees. Moenie dus nie toe laat die vyand kom en jou tyd saam met die HERE te steel nie.
Dis waar dat die HERE baie bly is as ons iets vir die Koningryk van die Hemele doen, want dis waarvoor Hy ons geroep het. Hy is egter meer bly as ons Hom in waarheid en krag aanbid met harte wat aan die brand is vir Hom!
Julle moet onthou dat ons almal kruise vir die HERE dra, maar dat dit nie altyd dieselfde kruis is wat ons dra nie. Daar is kruise van siekte, skete, pyne en nog baie meer. Ons moet daaraan dink as ‘n oefening om nederig te bly, want net soos die weermagte van die wêreld hulle troepe oefen om fiks te wees, net so is ons onder opleiding van die HERE en laat die HERE hierdie dinge in ons lewens toe om ons in oefening te hou.
Die koms van die HERE is nie meer ver nie en Hy is met elkeen van ons; sy aan sy met ons, ongeag watter kruis jy ook al mag dra en Hy lei saam met jou. Die doel is nie net om jou sterker te maak nie, maar ook om jou oë oop te maak en jou harte wyer te maak vir Sy teenwoordigheid in jou lewe.
Vreugde volg altyd op die hakke van swaarkry en die HERE se seën kom oor ons ure nadat ons gelei het vir Hom. As hierdie nie die volgorde van dinge was nie, dan sou ons nooit staande kon bly in hierdie moeilike tye nie. Ons is in baie opsigte soos silwerware wat bevlek is. Die HERE kom met sy poleer lap en poleer al die vlekke van die wêreld uit ons lewens uit totdat ons weer glinster!
Dis hoe die HERE ons gereed hou om te dien: altyd skoon en blink gepoleer. Op die manier dra ons verkwikking uit na ander in die wêreld. Daar is ‘n gedurige skoonmaak proses aan die gang in ons lewens, want na elke versoeking van die vyand is daar vlekke in ons lewens. Hierdie skoonmaak proses sal eers eindig die dag as ons saam met die HERE in die Hemel is.
Voor dit kan gebeur is daar eers werk om te doen deur die goeie te laat groei en die slegte uit te kap en dit moet daagliks gedoen word sodat ons kan groei. Daar kan nie net versoekinge wees nie, want dan gaan ons opgee. Ook kan daar nie net oorwinnings wees nie, want dan gaan ons laks word. Dis waarom die HERE dinge in ons lewens balanseer met skoonmaak, poleer en verfyning. Kyk na die goeie wat die HERE in jou lewe gedoen het. Kyk na die oorwinnings en wees bly daaroor, maar hou jou wapenrusting aan en jou swaard gereed, want die vyand slaap nooit nie.
Die HERE is met jou, liewe leser. Elke oomblik van die dag; heeltyd besig om ons te voed en lief te hê. Moenie kosbare tyd laat verbygaan om nie by die HERE te wees nie. As jy tyd mis om saam met die HERE te wees, sal jy nie behoorlik gewapen en gereed wees om die aanvalle van die vyand tee te kan staan nie.
Laat die HERE toe om jou elke dag gereed te kry en moet Hom nie op die agtergrond skuif nie. Kom na die HERE en kom rus by Hom sodat Hy jou siel kan verkwik.