My weë is hoër as jou weë

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Die afgelope week het ek baie gepraat oor waarom slegte dinge gebeur. Ek kry die gevoel dat hierdie onderwerp vir iemand wat hierdie stuk gaan lees baie belangrik gaan wees, want anders gaan die HERE my nie so baie daaroor laat skryf het nie.

In Jeremia 18:6 vergelyk die HERE ons mense as klei in Sy hande wat Hy kan vorm soos Hy wil: “Kyk, soos klei in die hand van die pottebakker, so is julle in my hand, o huis van Israel!” As ek nou dit in vergelyking bring, dan is ons soos stukkies klei wat die ander stukkies klei wil leer hoe die pottebakker is! As ons hieraan dink, dan besef ons hoe dom dit is vir enige van ons om voor te gee dat ons ‘n ekspert op die gebied van die Bybel is! Die beste wat ons voor kan hoop is dat die HERE homself aan ons sal openbaar sodat ons Sy wil aan die ander stukkies klei sal kan oordra.

In Psalm 25:9 verduidelik die HERE hoe hy die wat nederig is lei en die wat nederig is Sy weg leer. As ons die waarheid wil weet, dan gaan ons eers alle trots uit ons lewens moet verwyder en nederig moet word voor die HERE, want dis hoe ons die waarheid sal leer.

Liewe leser, as jy iemand wil oortuig van die evangelie; is jy soos ‘n bul in ‘n Sjinese winkel? Storm jy in kop eerste in en probeer jy dan so hard om die ander persoon te oortuig dat jy die hele inhoud van die winkel vernietig? Dink ‘n bietjie hieraan: dis mense se toekomstige plek in die ewigheid waarmee ons werk. Onder geen omstandighede mag ons traak-my-nie-agtig daaroor wees nie! Ons kan nie net baklei om die standpunt wat ons dink reg is oor te dra nie.

Ons werk is daarom om slegs die bewyse op die tafel te lê en dan toe te laat dat daardie persoon sy keuse maak. Dis nie ons werk om enige iemand te oortuig nie! Daardie persoon moet sy eie keuse maak en niemand van ons kan dit vir hom maak nie. Om die evangelie in sy keel af te druk is nie die regte manier nie! Wat my die meeste bekommer is die arrogansie wat hiermee gepaard gaan: ek is reg en jy is dus outomaties verkeerd!

Soos ek gesê het, ons werk met mense se plek in die ewigheid. Wees versigtig wat jy sê, want die HERE sê dat ons wat baie leermeesters is, ‘n groter oordeel sal ontvang! (Jakobus 3:1)

Ons is almal klei in die hande van die Pottebakker. Dis nie vir ons om vir die HERE te vra waarom hy die een persoon so gemaak het en die ander anders nie, want die HERE het die mag om voorwerpe te maak soos Hy wil! (Romeine 9:20-21) As jou broer dus weier om die HERE te volg, los hom dan, want die HERE het ‘n doel waarom Hy hom so gemaak het en vir jou anders.

In Jesaja 55:8-9 sê die HERE vir ons dat die Hemel hoër is as die Aarde en daarom is Sy manier van dink nie ons manier van dink nie. Ons bedink menslike dinge en ons probeer sin maak uit die bietjie inligting tot ons beskikking en nou wil jy met God kom redeneer oor waarom Hy iemand gemaak het soos wat Hy in Sy alewige wysheid beskik het? Hoe arrogant is jy?

Ons sien nie die groter prentjie nie, want dis nie vir ons gegee om te kan sien nie. Ons is almal stukkies klei en ons probeer ander stukkies klei oortuig wat reg is deur die genade van die HERE. Berus in die HERE dat Hy weet wat die beste is. Stel jou kant van die saak, maar as die boodskap wat jy het en die feite wat jy op die tafel lê verwerp word, moenie kwaad word nie. Dis nie jy persoonlik wat verwerp word nie, maar die boodskap van die HERE.

(Visited 86 times, 1 visits today)