Jesus het vir my die volgende gedeelte in die Bybel gegee en nadat ek dit gelees het, het ek net daar gestaan en gedink hoe wonderlik dit is om ‘n Lewende God te dien!
Kom ons begin met die gedeelte uit 2 Korintiërs 3:2-6 “[2] Julle is ons brief, geskrywe in ons harte, geken en gelees deur alle mense; [3] omdat julle duidelik ‘n brief van Christus is deur ons diens berei, geskrywe nie met ink nie, maar met die Gees van die lewende God; nie op klip tafels nie, maar op die vleestafels van die hart. [4] So ‘n vertroue het ons deur Christus by God. [5] Nie dat ons uit onsself bekwaam is om iets as uit onsself te bedink nie, maar ons bekwaamheid is uit God, [6] wat ons ook bekwaam gemaak het as dienaars van ‘n nuwe testament, nie van die letter nie, maar van die gees; want die letter maak dood, maar die gees maak lewend.”
Ek weet daar is van julle wat hierdie gedeelte nie gaan verstaan nie, daarom gaan ek dit vir julle uitlê.
Ons wat gered is en skoon gewas is in die Bloed van die Lam is daardie brief waarna Paulus verwys. Ons lewens getuig daarvan dat God in ons woon! Prys Sy Naam! Ons is die saad wat in die goeie grond gesaai is wat vermenigvuldig het; dertig, sestig en honderdvoudig! Hierdie brief is nie op klip tafels geskryf nie, maar op die vleestafels van elkeen van ons harte! Wat ‘n wonderlike HERE dien ons nie!
Dis daardie liefde wat ons vir ons medemens voel en deur daardie liefde het ons absolute vertroue in God. Maak nie saak wat gebeur nie, ons kan rustig slaap, wetend dat niks met ons sal gebeur sonder die absolute Wil van die Vader nie! Ek kan julle verseker dat ek wêreldlinge ken wat alles wat hulle besit sal gee vir daardie versekering wat ons verniet ontvang het!
Ons vertroue op Jesus is van so ‘n aard dat ons onsself as onbevoeg en onbekwaam ag, maar deur God is ons bekwaam. Ons is bekwaam omdat ons dienaars van die Nuwe Testament is, deur Jesus Christus en deur die Gees wat lewens maak! Ons is daarom nie gebind deur die Wet nie, want die Wet maak dood. Ons is gebind deur die Gees, want die Gees maak lewend!
Ek sê dit al vir baie lank en hier bevestig die Gees dit uit die Woord uit! Jesus het in Mattheus 22:37-39 gesê “[37] Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. [38] Dit is die eerste en groot gebod. [39] En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”
Hierdie is die enigste wet wat ons as Kinders van die HERE het, want alles hang van jou liefde vir Jesus af en jou liefde vir ander af. Niks is meer belangriker as dit nie! Geen reël, regulasie, verordening of gewoonte wat jy volg is van enige belang nie, net jou naasteliefde is! Hierdie is die Wet wat op die vlees tafels van ons harte geskryf is. Dit is die Gees wat lewend maak! Verstaan julle? Prys die Naam van Jesus!
Moenie dat satan vir jou vertel dat jy nie goed genoeg is nie. Hierdie gedeelte wys dit uit as ‘n leuen, want jy is deur God bekwaam gemaak. Jy is goed genoeg om saam met Jesus op Sy Heilige berg te kan staan. Jy is goed genoeg om in die wegraping geneem te kan word. Dis die waarheid daardie, liewe leser en enige een wat anders sê is ‘n leuenaar!
“Vader en Koning Jesus, wat ‘n wonderlike voorreg is dit nie om U te dien nie. Om daardie versekering te hê dat ons waardig is, is iets wat nie met aardse geld gekoop kan word nie. Ek wil bid en vra dat U elkeen wat hierdie boodskap lees sal seën met ‘n oop gemoed om te kan verstaan, my HERE. Prys die wonderlike Naam van die Vader. AMEN!”
Mag die HERE hierdie boodskap aan ontelbare baie harte seën!