Ons leef voorwaar in die laaste van dae en in hierdie tyd gaan baie opstaan om baie te mislei!
Vandag wil ek met julle gesels oor die kenmerke van ‘n profeet. Maar eers, kom ons kyk wat sê die HERE hieroor aan die Israeliete in Deuteronomium 13:1-5 “[1] As ‘n profeet of een wat as dromer optree, by jou opstaan en jou ‘n teken of wonder aankondig, [2] en die teken of wonder kom uit wat hy jou beloof het met die woorde: Laat ons agter ander gode aan loop—wat jy nie geken het nie—en hulle dien, [3] dan moet jy nie luister na die woorde van dié profeet of na dié man wat as dromer optree nie; want die HERE julle God beproef julle om te weet of julle werklik die HERE julle God liefhet met julle hele hart en met julle hele siel. [4] Julle moet die HERE julle God navolg en Hom vrees en sy gebooie hou en na sy stem luister en Hom dien en Hom aanhang. [5] Maar dié profeet of dié man wat as dromer optree, moet gedood word, want hy het afval verkondig van die HERE julle God wat julle uit Egipteland uitgelei en jou uit die slawehuis verlos het, deur jou af te drywe van die weg wat die HERE jou God jou beveel het om daarop te wandel. So moet jy dan die kwaad uit jou midde uitroei.”
Wees dus versigtig vir die wat sê die HERE het gespreek en dan het die HERE nie gespreek nie! Die HERE beproef ons om te kyk wie waardig gaan wees om dit wat kom te kan mis en net die wat die HERE aanbid in Gees en in Waarheid sal in staat wees om te kan onderskei tussen waarheid en fiksie. Die HERE toets ons om te kyk of ons hom werklik lief het en of ons werklik na sy stem luister om daardeur te weet wanneer dit Hy is wat gepraat het! Prys die HERE!
So ‘n ruk gelede het ek die profesie van ‘n ou dame van Valdres in Noorweë gepubliseer. Hierdie profesie is gemaak in 1968! Min van julle wat hierdie boodskap lees, sou seker toe al gebore gewees het! Alles wat die HERE vir haar in ‘n droom gewys het, het sover waar geword! Hierdie vrou was volgens die toets vir profete, ‘n ware profetes!
In haar getuienis bespreek sy vier fases in die mens se geskiedenis wat sal plaasvind voor Jesus se koms.
- Daar gaan vrede wees tussen die super moondhede (Rusland, Amerika, China). In 1968 toe hierdie profesie uitgegaan het, was die koue oorlog reeds 21 jaar (sedert 1947) aan die gang en het vrede tussen die super moondhede na iets onmoontlik gelyk. Tog het dit 23 jaar later (in 1991) gebeur dat vrede bewerkstellig is.
- Die kerk sal lou warm word in die bediening van God se Woord. Mense gaan nie meer oop wees vir penetrasie preek nie met ander woorde, hulle gaan nie meer wil hoor van sonde, reg en geregtigheid en van redding nie. Om jou kruis op te neem en Jesus te volg gaan nie meer in kerke gehoor word nie. In die plek daarvan gaan om suksesvol te wees meer belangrik wees en so ook om ‘n “gelukkige” Christen te wees waar ons mense met ander leefstyle moet aanvaar as mede broers en susters in Christus. Kerke sal leeg loop. Om dit tee te werk gaan meer en meer kerke hulle deure oopstel vir kuns en kultuur aande om mense te lok en hierdie tendens sal met rasse skrede toeneem hoe nader ons aan Jesus se koms kom. Hierdie gebeur klaar. Ek was in verskeie Europese kerke waar toeriste met flitsende kameras deurloop om die oudhede en die kultuur van die kerk af te neem!
- Morele verval sal meer en meer voorkom. Mense sal saambly sonder om te trou. Mense sal hulle self nie meer wil bewaar vir hulle trou dag nie. Om met so veel as moontlik ander mense rond te slaap sal die norm word en dit sal uit elke hoek geregverdig word. Die mees intieme dinge wat tussen getroude paartjies gebeur sal goedkoop gemaak word en op TV uitgesaai word. Sonde teen die natuur sal alledaags word. Baie Christene sal hierdie verskynsel verwelkom en dit selfs verdedig! Die vreeslikste geweld sal op TV uitgesaai word. Dit sal mense leer om mekaar te moor en mekaar seer te maak. Dit sal onveilig wees in ons strate. Ek hoef seker niks meer hieroor te sê nie, want almal weet hoe waar hierdie stellings geword het.
- Baie mense van die arm lande sal in Europa instroom. Daar sal so baie van hulle wees, dat die Europeërs ongeduldig met hulle gaan word en hulle gaan begin mishandel. Dit gaan wees soos met die Jode net voor die Tweede Wêreld Oorlog. Dan sal ons die volle omvang van ons sonde bereik het: ons onmenslikheid teenoor ons medemens. Weereens hoef ek niks meer uit te brei nie, want almal weet dat van die vlugteling krisis en van die onmenslikheid wat elke dag in hierdie kampe afspeel.
Haar getuienis gaan nog verder met die koms van Jesus wat onmiddellik hierna gaan plaasvind; gelykstaande met die uitbreek van die derde wêreld oorlog. Dit gaan skielik wees en niemand gaan dit verwag nie…
Ons almal weet dat die einde naby is. Ongelukkig weet ons nie wanneer dit gaan gebeur nie, maar ons kan sorg dat ons gereed is. Streef daardie heilige leefstyl na, want soos Jesus Heilig was, so moet ons ook wees! In Mattheus 5:48 sê Jesus “Wees julle dan volmaak soos julle Vader in die hemele volmaak is.” Om ‘n heilige leefwyse te volg is essensieel! In 1 Petrus 2:1 lees ons: “Lê dan af alle boosheid en alle bedrog en geveinsdheid en afguns en alle kwaadpratery;” Met ander woorde, lê die dinge wat ons weet verkeerd is af en hou op om dit te doen! Verder lees ons in 1 Korintiërs 6:10 die volgende: “Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie.” Hierdie is ‘n waarskuwing, liewe leser! As u die verkeerde dinge nie aflê nie, sal u nie gereed wees as die wegraping gebeur nie, selfs al gaan u gereeld kerk toe! U SAL AGTERBLY!
Ek gaan afsluit met ‘n vers in Romeine 12:11-12 “[11] wees nie traag in die ywer nie; wees vurig van gees; dien die Here; [12] verbly julle in die hoop; wees geduldig in die verdrukking; volhard in die gebed.” Moenie ophou om die Woord van die Here te verkondig nie, wees bly maar ook geduldig met die wat u vervolg en die wêreld vir u moeilik maak, maar moet nooit ophou bid nie!
Mag die HERE hierdie boodskap seën!