Iemand het hierdie storie vir my gestuur en ek het dit so treffend gevind, dat ek dit vandag met julle wil deel. Dit dien as voorbeeld net hoe die wêreld ons as Christene dophou.
Daar was hierdie priester in Engeland wat ‘n afspraak gehad het om na te kom aan die anderkant van die dorp. Hy het besluit om van die plaaslike busvervoer gebruik gemaak om tot daar te kom omdat die kerk waar hy was nie vervoer gehad het nie en dit die goedkoopste manier van vervoer was.
Toe die bus opdaag, het hy ingeklim en sy kaartjie by die bestuurder gekoop. Nadat hy gaan sit het, het hy opgelet dat die bestuurder vir hom Twee Rand te veel kleingeld gegee het. Hy het dadelik daaraan gedink om die geld terug te gee omdat dit verkeerd sou wees om dit te hou, maar toe kom ‘n ander gedagte by hom op. “Vat die geld; dis net Twee Rand! Wie gaan nou bekommerd wees oor Twee Rand. Die bus agentskap maak so baie geld dat hulle skaars die Twee Rand sal mis. Aanvaar dit as ‘n geskenk van die HERE af!” het die stem vir hom gesê.
Die priester het gedink hieroor. Dis waar dat Twee Rand ‘n baie klien bedraggie is en dat niemand dit sekerlik gaan mis nie. Hy kan die geld net in sy sak steek en maak of hy nie eers agtergekom het dat hy te veel kleingeld ontvang het nie! Terwyl hy hieroor dink het die bus by sy bestemming aangekom. Die priester het opgestaan en na die voorkant van die bus geloop. Net toe hy wil uitloop, het hy omgedraai en die Twee Rand aan die busbestuurder teruggegee. “Jy het my Twee Rand te veel kleingeld gegee. Hier is jou Twee Rand terug,” het hy gesê.
Die busbestuurder het geglimlag en gesê: “Is jy nie die nuwe leraar in die dorp nie?”
“Ja, ek is,” het die priester geantwoord.
“Ek wonder nou al ‘n geruime tyd waar ek Sondae wil gaan aanbid en ek het aspris vir jou hierdie Twee Rand te veel gegee om te sien wat jy sou doen. Ek dink ek sal van Sondag af na jou kerk toe kom,” het die busbestuurder gesê.
Die priester het geskok van die bus afgeklim. Terwyl die bus wegry het hy die naaste paal vasgegryp, opgekyk en gesê: “O’ HERE, amper het ek U Seun vir Twee Rand verkoop!”
Julle sien, die manier hoe ons as Christene optree is vir baie mense daar buite die enigste Bybels wat hulle ooit sal lees. Hierdie getuienis wys ons net hoe die wêreld ons as Christene dop hou. Die dag as jy besluit om ‘n Christen te word, dan dra jy die Naam van Jesus op jou voorkop en op jou skouers. Jy word letterlik ‘n ambassadeur van die een wat Sy lewe vir jou gegee het! Waak dus teen jou gedagtes, want dit word woorde! Waak teen jou woorde, want dit word dade. Waak teen jou dade, want dit word gewoontes. Waak teen jou gewoontes, want dit word deel van jou karakter en mense oordeel jou aan jou karakter.
Die eindtyd is nie naby nie, dit is hier! Moenie die Bruilofsfees van die Lam mis vir Twee Rand nie! Ek sal almal van julle graag voor die Troon van die Vader wil sien. Wees daarom opreg soos duiwe in julle alledaagse wandel. Laat julle ja julle ja wees en julle nee julle nee en betaal aan die keiser wat die keiser toekom en aan God wat God toekom!
Prys die Naam van Jesus!