Ek gaan vandag verder met ons Bybelstudie en Mattheus 25 met julle behandel.
Mattheus 25:1-13 begin met die gelykenis van die tien maagde wat vir die Bruidegom gewag het. Hierdie gedeelte het Jesus vertel met die oog op die wegraping en hoe sekere mense gereed gaan wees om Hom te ontmoet en ander nie gaan wees nie. Die olie waarna verwys word is die olie van die Heilige Gees. Vyf van die meisies het nie genoeg gehad nie en hierdie is ‘n waarskuwing aan ons vandag, want as jy die wegraping wil meemaak, dan gaan jou lampie vol van die olie van die Gees moet wees.
Hoe kry mens dit reg? Jare gelede in die een kerk wat ek aanbid het, het hulle so ‘n koortjie gesing: “Lees jou Bybel, bid elke dag en jy sal groei.” Dit is sekerlik die beste raad ooit! Dis hoe jy jou lampie vol olie kry, want as jy dit doen, dan sal die Gees van die HERE met jou wees en jou begin oortuig van wat reg en wat verkeerd is. So sal jy leer waarmee die HERE nie tevrede is in jou lewe nie en jy sal kan regmaak en vergifnis vra vir dit wat jy verkeerd doen. En as julle wonder oor die hele reg en verkeerd doen ding, dan het ek die week ‘n baie interessante stelling gesien: As daar iets in jou lewe is wat tussen jou en Jesus staan, dan moet dit gaan!
Soos ek al seker baie gesê het: jy sal nooit perfek wees nie, maar jou bedoeling met die HERE kan perfek wees. Ek neem myself as ‘n voorbeeld, want ek is alles behalwe perfek. Ek sê soos Paulus op geleentheid gesê het; ek wil die goeie doen, maar dan staan die kwade my by. Daar is geen manier op hierdie aarde wat enige een van ons ons eie heiligheid kan bewerkstellig nie. Jy gaan altyd vir Jesus nodig hê, want sonder Jesus gaan elke poging wat jy aanwend tevergeefs wees! Doen daarom van jou kant af wat jy kan en laat die Gees toe om aan te vul waar jy tekort skiet. Ek het eenslag vir Jesus gevra hoe dit moontlik is vir enige iemand om perfek te wees in hierdie lewe en Hy het geantwoord: “Sorg jy vir die klein goedjies en Ek sal sorg vir die groot goed.” Is Jesus nie wonderlik nie?
In Mattheus 25:14-30, lees ons van die gelykenis van die talente. Hierdie is weer ‘n waarskuwing om nie ‘n lui dienskneg vir die HERE te wees nie. Ons almal het ‘n talent van die HERE ontvang. Myne is om te skryf, ander s’n is weer om musiek te maak, sommige kan bid en ander weer kan met mense onderhandel. Gebruik daardie talent van jou om mense na die HERE toe aan te trek.
Daar is mense wat weet wat hulle talent is, maar hulle onderdruk dit doelbewus omdat hulle lui is. Dis op hierdie mense wat hierdie gelykenis van toepassing is. Die wat hulle talent onderdruk omdat hulle skaam of bang is wat mense gaan dink. Op die ou end van die dag is dat wat Jesus dink wat saak maak en as jy jou talent onderdruk, want gaan Jesus dink?
Verstaan julle nou waarom die talent van die een want niks gehad het weggevat is en vir die een gegee het wat baie gehad het? Die talente wat die HERE uitgee is kosbaar en as joune gaan begrawe, dan is daar vir jou geen rede om dit meer te wil besit nie. Gebruik wat die HERE jou gegee het. Baie keer is dit net om vriendelik met mense te wees. Moenie dit wat die HERE jou gegee het onderdruk of begrawe nie. Dis wat hierdie gelykenis beteken.
In Mattheus 25:31-46, lees ons van die finale oordeel. In hierdie gedeelte behandel Jesus uit en uit naasteliefde, want Hy sê in vers 40 “Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen.” Alles wat jy dus aan jou naaste doen, doen jy aan Jesus! As jy daardie stinkende bedelaar met die vuil klere wegjaag, dan jaag jy vir Jesus weg, maar ongelukkig sien ons dit nie altyd so nie.
Ek het al die verskonings gehoor… Hy gaan dank of dwelms met die geld koop… Wie se geld is dit? Joune of Jesus s’n? Wie se suurstof asem jy elke dag in. Wie sorg dat jy elke oggend wakker word en dat jy die energie het om te gaan werk? Jesus sorg en daarom behoort alles aan Hom!
Iemand het eenslag vir my gevra wat die betekenis van die lewe is? Ek kan vir julle sê wat dit is! Om jou naaste lief te hê soos jouself. Om verby mense se velkleur, hulle gebreke en hulle tekortkominge te kan kyk en hulle te sien as mede-erfgename van die Koningryk! Ons ken nie die harte van mense nie, net God ken dit en tog wil ons oordeel oor dit wat ons niks van verstaan nie. Hou op daarmee, want die oordeel kom ons nie toe nie!
Ons almal wonder van tyd tot tyd of ons waardig gaan wees om die wegraping mee te kan maak. Alles wat ek hierbo genoem het en wat in Mattheus 25 staan is dit wat jou waardig maak. Ek kan alles opsom in hierdie enkele woorde: Liefde vir die HERE, Gebed en Naasteliefde. (Mattheus 22:37-40) Kan julle sien hoe alles inmekaar pas?
Mag die HERE hierdie boodskap seën!