Gebaseer oor dit wat mense op Facebook pos, kom ek agter net hoeveel mag ons vir satan oor ons lewens gee. Baie kom dit nie eers agter hoeveel stories in hulle ore gefluister word nie…
Satan het ‘n hele reeks van gereedskap wat hy op ons gebruik. Sy primêre doel is om ons van God te skei en seker te maak dat ons nie ‘n verhouding met die HERE begin nie of as jy reeds ‘n verhouding met Jesus het, daardie verhouding te versuur. As satan dit nie doen nie, dan weet hy dat jy ‘n permanente doring in sy vlees gaan wees en dit is wat hy wil verhoed. Nou praat hy allerhande stories met ons en ons eet alles vir soetkoek op.
Waarom laat die HERE dit toe? Liewe lesers, julle moet verstaan dat ons tyd op aarde ‘n leerskool is vir die ewigheid. Soos jy die rangleer in Jesus se Skool van die Ewigheid klim, so word die lesse al hoe moeiliker. Die doel van hierdie lesse is om jou te leer om na die HERE se stem te luister en Hom alleen te gehoorsaam. Daarna moet jy leer om die HERE te vertrou en te weet dat niks met jou sal gebeur sonder die HERE se wil nie. (Ek sukkel ook nog met hierdie een!) Die goeie nuus is dat met elke aanval en elke slaggat waarin ons trap, leer ons. Satan dink hy oorwin, maar hy verloor eintlik, want jy word al hoe slimmer en jy leer jou vyand ken as ‘n leuenaar! Iemand waarin daar geen waarheid is nie!
Daar is twee soort lesse wat ons moet leer en die eerste is om nie na satan te luister nie. Dit kry jy in gevalle waar iemand sukkel om homself of ander te vergewe. Die HERE het hierdie persoon reeds vergewe, maar satan probeer jou weerhou om ten volle genees te word. Nou hamer hy op al jou foute en tekortkominge en hy wys vir jou hoe “sleg” jy is… of eintlik moet ek sê “was”, want jy is vergewe. Dit vertel satan jou egter nie en aan die einde van die dag is dit wat die HERE dink, dit wat saak maak. Dit wat mense dink of gaan sê is onbelangrik!
Hoe kom ‘n mens oor hierdie ding van jouself nie kan vergewe nie? Deur elke dag op sy eie te vat en op die HERE te vertrou. Sê vir jouself: “Jesus het my vergewe! Ek is vrygekoop!” Doen dit elke slag as satan vir jou vertel hoe sleg jy is en dat jy nie vergewe is nie en jy sal verbaas wees hoe genesing begin posvat! Dit is satan se doel met hierdie tipe aanvalle. Hy wil verhoed dat jy genees en hy wil twyfel by jou skep oor die HERE se vermoëns.
Julle moet weet dat satan jou nooit gaan ophou aanval oor jou verlede nie. Hy sal jou gedurig herinner aan al die slegte dinge wat jy in jou lewe gedoen het; selfs dit wat jy lankal reeds vergifnis voor gekry het! Hy doen dit gereeld met my totdat ek hom antwoord en sê: “Wag ‘n bietjie… ek is vergewe vir daardie!” Dan los hy my vir ‘n ruk lank uit.
Die tweede les wat ons moet leer is om op die HERE te vertrou, selfs al lyk dinge vir ons hoe wanhopig! Baie keer as dinge vir my te veel begin raak, dan sê: “HERE, ek weet U weet wat U doen, selfs al weet ek nie, maar ek sal op U vertrou! U het my in hierdie ding gekry en U kan my weer hier uit ook kry!”
Hierdie les is nie net as dinge skeef loop nie, maar ook as dinge reg loop. Julle moet verstaan dat die HERE ‘n verhouding met jou wil opbou. Hy wil jou begin en jou einde wees. Jou heel beste vriend vir wie jy alles kan vertel. Maar as jy dinge op jou eie gaan begin doen sonder die HERE, dan gaan dinge vir jou skeefloop.
Ek wens ek kan julle vertel in hoeveel mense se lewens hierdie die norm is. Dis een verkeerde besluit op die ander en so beland hulle in huwelike waarin die HERE hulle nooit wou gehad het nie. Huwelike wat giftig is vir beide partye. Dan word beginsels soos vergewe en vergeet vir hulle moeilik om te verstaan of in hulle lewens toe te pas, want al wat hulle ken is die bitter van seerkry en die pot gif wat gedurig eenkant staan en kook… Party lesse is hard om te leer.
Liewe leser: Sien elke aanval as ‘n geleentheid om my vyand beter te leer ken. Die aanvalle sal ook nooit ophou nie tot die HERE kom om ons te kom haal en die kruise van ons skouers af te lig. As jy nie meer weet watter kant toe nie, kyk op en sê: “HERE help, want ek is te swak en te klein.”
Vertrou op die HERE, liewe leser, vertrou met alles wat jy het, selfs al sien jy geen uitkoms nie. Vertrou!
Prys die Naam van Jesus!