Heer Jesus, ek wil bid dat U dié wat hierdie lees se oë sal oopmaak en dat hulle sal verstaan dat om alles in U hande te plaas, die beste is wat enige van ons kan doen. Amen!
Die van julle wat nou al ‘n ruk saam met my is, sal weet hoe baie ek al oor die pad wat die HERE met ons loop, geskryf het. Ek het op geleentheid ook geskryf oor die HERE se klaskamer en hoe die lesses wat ons leer baie keer moeilik is om te leer.
Julle sien, al hierdie lesse het een doel en dit is vir jou om te verstaan dat die HERE in beheer is van alles. Niks op hierdie aarde gebeur ooit sonder die HERE se goedkeuring nie! Dit mag miskien lyk asof die HERE baie ver van sommige gebeure is en mens mag dalk wonder waarom die HERE toelaat wat hy toelaat, maar ons moet onsself berus dat daar ‘n doel daarmee is, selfs al maak dit nie vir ons sin nie.
Die tweede doel van hierdie lesse is om jou te leer dat jy alles in die hande van die HERE moet los en moet ophou om jou te bekommer oor dinge wat jy nie kan verander nie. Die HERE het al op meer as een geleentheid vir my gevra waarom ek my bekommer, want as ek myself nie eers langer kan maak nie, wat blykbaar baie maklik is om te doen, waarom bekommer ek my dan oor dit wat ek nie kan verander nie! (Mattheus 6:25-34)
Ek kan vir julle getuienis op getuienis vertel, want my hele lewe is een groot getuienis tot die HERE. Vandag kan ek vir julle sê: Vra en vir jou sal gegee word! Los jou bekommernisse in die hande van die HERE en kyk hoe dit soos mis voor die son verdwyn.
Dit klik maklik né? Ek kan julle verseker dat dit my jare gevat het om te leer, want ons wil mos altyd in beheer van alles wees! Vandag kan die mense om my my nie verstaan nie, want niks ontstel my nie. Ek is altyd vriendelik en ek loop en gesels met almal, selfs die wat ek glad nie ken nie! En as iemand my ‘n onreg aan doen, dan los ek dit in die hande van die HERE, want die vergelding kom my nie toe nie!
Ek het twee weke gelede twee en ‘n halwe duisend rand verloor deur ‘n kontrak wat ek twee maande gelede gekanselleer het, maar wat in werklikheid nooit gekanselleer was nie. Ek het dit uitgevind toe die geld uit my rekening uitgetrek was. Soos enige ander mens het ek eers daaroor baklei, want ‘n onreg is my aangedoen, maar die Gees van die HERE het ‘n manier om jou te oortuig wanneer om iets te los. My huis mense is nou nog vir my kwaad hieroor, maar as die HERE sê los, dan los jy. Jy redekawel nie daaroor of gaan aan op jou eie nie. Deur die HERE ongehoorsaam te wees, gaan jy net jou tyd mors op iets wat jy nie kan regkry nie. Die teks vers sê mos: As die HERE die huis nie bou nie, tevergeefs werk die wat daaraan bou. (Psalm 127:1)
Vra en vir jou sal gegee word, maar dan moet jy glo. Ek bedoel waarlik glo met hart, siel en verstand! Wees dan dankbaar oor dit wat die HERE vir jou gaan gee, selfs al het jy dit nog nie ontvang nie. Jy gaan moet glo soos ‘n kind! Die HERE het my so ‘n paar jaar gelede tot op die rand van bankrotskap gevat voor ek die een verstaan het. Eers as jy verstaan dat daar vir jou geen uitweg oor is om te probeer nie en glo die enigste pad is, dan begin jy verstaan.
Vandag kan ek vir die HERE enige iets vra en as dit nie in die pad gaan staan tussen my en Hom nie en ek nie ‘n groot kop gaan kry daaroor nie, sal die HERE voorsiening maak daarvoor. Iets waarna ek wil hê julle moet na oplet, is hoogmoed. Die HERE haat hoogmoed en hy sal nooit iets aan jou gee as Hy sien dat dit jou hoogmoedig gaan maak nie. Dit kom neer op daardie goed wat tussen jou en Hom gaan kom staan. Dus, moenie vir ‘n miljoen rand vra nie, want jy gaan dit nie kry nie! Die HERE wil nommer een in jou lewe wees en enige iets wat Hom gaan onttroon in jou lewe as nommer een, gaan Hy nie toelaat nie.
Jy moet ook verstaan dat dit nie ‘n geval van vra en dadelik kry nie. Meeste van die goed wat jy voor gaan vra gaan tyd vat, want die HERE moet baie veranderinge agter die gordyn maak sodat jy kan kry waarvoor jy gevra het. Wees daarom geduldig, want hoe meer kompleks die item, hoe langer gaan dit vat.
Daar het elk laasjaar begin soek na ‘n ander motor. Ek het eers gebid en vir die HERE gesê wat dit is wat ek soek. Ek het geen model of kleur genoem nie, want die HERE hou van verassings en Hy hou daarvan om vir jou iets te gee wat jy nie verwag nie. In sommige gevalle, iets baie duurder as wat jy verwag, maar net as dit nie tussen jou en die HERE gaan kom nie!
Die vorige keer het die HERE vir my ‘n baie goeie tweedehandse motor gegee, maar die keer was dit ‘n nuwe een. Ek het nog nooit in my lewe ‘n nuwe motor besit nie en ek het gesê: “HERE, hoe gaan ek dit kan bekostig?” Maar die HERE was my klaar een vooruit! Daar was ‘n demonstrasie model met 4000 km op wat klaar ingery was. Die voertuig se ruite was getint en dit was ge-microdot teen diefstal; alles goed wat opsioneel is en waarvoor die koper ekstra moet betaal. Die voertuig was klaar geregistreer, dus sou ek nie die registrasie gelde hoef te betaal nie, want die voertuig word net oorgedra van die handelaar na my omdat dit ‘n nuwe voertuig is. Sien julle waaraan die HERE alles gedink het? Ek het die voertuig al amper ‘n jaar en nog nie een maand het ek ‘n tekort gehad om daarvoor te betaal nie. My bekommernis om dit te kan bekostig was dus so ongegrond! Julle moet ook weet dat ek vir myself werk en daarom nie ‘n vaste inkomste het nie! Dit sal dinge vir julle in perspektief plaas waarom ek gewonder het!
Ek het gevra vir ‘n opgradering van my rekenaar en die HERE het daarvoor gesorg! Ek moes spaar, maar die HERE het gereeld gesorg dat daar ekstra geld daarvoor was om te spaar. My huis se dak moet reggemaak word. Dis ‘n uitgawe van etlike duisende, maar ek weet dat die HERE op die regte tyd sal voorsien. Hy doen altyd, want ek vra daarvoor!
Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. (Filippense 4:6)
Verstaan julle? Ons dien ‘n Lewende God, liewe leser en Hy sorg vir die wat Syne is! Hierdie is een van die geestelike geskenke wat die HERE vir jou gee as jy jou lewe in Sy hande sit en Hom in beheer van alles sit.
Ek daag julle uit om dit te probeer. Sit vandag vir Jesus agter die stuur van jou tandem fiets dan klim jy agterop waar jy geen beheer het, behalwe om net te kan trap nie en kyk dan wat gaan gebeur. Ja, ek weet dis ‘n snaakse gevoel. Dit was maar vir my ook in die begin, maar vandag is ek glad nie spyt oor my keuse nie! Ek kan julle sê; dis ‘n rit vol opwinding!
Prys die Wonderlike Naam van Jesus!