Die gelykenis van die onvrugbare vyeboom

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Baie van wat Jesus vir ons doen, is ons nie eers bewus van nie. Ons weet byvoorbeeld glad nie hoe baie Jesus vir ons intree voor God die Vader nie. Wanneer God die Vader ons wil straf  oor die hardheid van ons harte, dan tree Jesus in.

Ek het hierdie gedeelte ‘n paar dae gelede in Lukas 13:6-9 gekry gedurende my oggend gebed: [6]  En Hy het hierdie gelykenis uitgespreek: ‘n Man het ‘n vyeboom gehad wat in sy wingerd geplant was, en hy het gekom en vrugte daaraan gesoek en niks gekry nie. [7]  Toe sê hy vir die tuinier: Kyk, drie jaar kom ek om vrugte aan hierdie vyeboom te soek en ek kry niks nie; kap hom uit. Waarvoor maak hy die grond nog onvrugbaar? [8]  Maar hy antwoord en sê vir hom: Meneer, laat hom nog hierdie jaar staan totdat ek om hom gespit en mis gegooi het. [9]  As hy dan vrugte dra, goed; maar so nie, dan kan u hom anderjaar uitkap.”

Hoe baie keer oordeel ons nie en vra waarom ‘n sekere iemand nog op aarde is nie? Kom ons wees eerlik; ons almal doen dit. Jy wonder dan of die wêreld nie ‘n beter plek sal wees sonder daardie persoon nie. Wat dink julle sou gebeur het as die HERE dit van ons gedink het? As Hy gewonder het waarom Hy Sy tyd en energie moet mors op iemand wat die hele tyd weier om die regte ding te doen?

Julle weet, dis juis wat ons so uniek maak; ons vryheid van keuse. Voor ons die vrye keuse gemaak het om die HERE te volg, het ons ook die grond rondom ons onvrugbaar gemaak. God die Vader wou ons al baie keer uitkap en in die vuur gooi, maar dan kom Jesus in en sê: “Pa, nie nou al nie. Laat Ek eers rondom hom spit en hom bemes en as hy volgende jaar nie wil dra nie, dan kan Ons van hom ontslae raak.”

Is die liefde van onse HERE nie ongelooflik nie? Hoeveel kanse dink jy het elkeen van ons nie al gehad nie? Hoeveel keer is die grond om ons nie losgespit en ons met krag van bo toegerus nie? Ons verdien nie die genade wat op ons uitgestort word nie, tog gee die HERE dit aan ons omdat Hy ons oneindig lief het.

Liewe leser, wees dus geduldig met die om jou wat nie op dieselfde vlak as jy is nie. Onthou dat die HERE geduldig was met jou tot jy begin het om te groei. Hy het God die Vader gekeer om jou uit te kap. Wys nou vir die HERE dat jy ook geduldig kan wees, selfs al is die uiters moeilik!

Prys die HERE!

(Visited 2 473 times, 1 visits today)