Amerikaanse Sonsverduistering op 21 Augustus 2017

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media
Print Friendly, PDF & Email

Amerika gaan op Maandag, 21 Augustus 2017 ‘n totale sonsverduistering beleef wat regoor die kontinent sigbaar gaan wees.

Hierdie sonsverduistering gaan begin aan die weskus in die staat van Origon en eindig aan die ooskus in die staat van South Carolina. Die sonsverduistering gaan letterlik regdeur die hele Amerika loop; regdeur die middel van die land. Soos die sonsverduistering oor Amerika beweeg gaan daardie gedeelte van die land, van die mees noordelike grens tot die mees suiderlike grens in tussen 80% en 100% duisternis gehul wees.

Hierdie sonsverduistering gaan begin om 09h05 PDT (19h05 SAST) en eindig om 14h47 EDT (21h47 SAST). Die afkortings beteken as volg: PDT – Pacific Daylight Time, EDT – Estern Daylight Time, SAST – South African Standard Time. Ek het die tye omgeskakel na Suid Afrikaanse tyd om dit meer verstaan baar vir julle te maak.

Die van julle wat gereelde lesers is, sal weet dat die HERE sy koms al ‘n geruime tyd aankondig op verskynsels in die hemelruim. Ek verwys nou na die reeks bloed mane van 2014 en 2015 (Sien Bloed Maan) en ook van die Venus en Jupiter Planete wat agtermekaar verbybeweeg het in 2015 en so een baie helder ster in die hemelruim gemaak het. (Sien Jesus kondig Sy koms aan) Hierdie sonsverduistering is dus geen toeval nie en dit is geen vorm van vermaak soos wat die wêreld dink dit is nie! Hierdie is ‘n waarskuwing, net soos al die ander waarskuwings wat ons in die verlede al ontvang het.

Ek het dit al baie gesê, maar ek gaan dit weer sê: Liewe Kind van God, as jy nog nie gereed is om die Koning te ontmoet nie, dan behoort jy teen die tyd al baie bekommerd te wees. Ek weet maar net te goed dat daar mense is wat vir my lag, maar vir julle sê ek dat die mense vir Moses ook gelag het en so ook vir Jesus. Ek is dus geen uitsondering nie.

Die HERE het vanoggend vir my Handelinge 8:26-40 gegee. Dis die gedeelte wat gaan oor hoe Filippus die Hofdienaar van Etiopië tot bekering gelei het en hy uiteindelik gedoop is. Ek voel dus gelei om hierdie waarskuwing uit te stuur, maar onthou ook dat gebed sake verander.

Satan begeer om hierdie wêreld oor te neem. Die wêreld leier is reeds hier. Al wat nog verhoed dat satan sy planne in plek kan sit, is ons en ons gebede vir ‘n wêreld wat op die rand van die afgrond is. Ons hou terug, want daar is siele wat die HERE in hierdie laaste sekondes nog wil bereik. Miskien is jy wat hierdie lees een van hulle. Indien dit so is, volg dan asseblief hierdie skakel: Hoe kan ek gered word?

Hierdie is ‘n waarskuwing is om gereed te maak. Hierdie is NIE die wegraping nie.

In Mattheus 24:32-33 sê die HERE vir ons: “En leer van die vyeboom hierdie gelykenis: Wanneer sy tak al sag word en sy blare uitbot, weet julle dat die somer naby is. So weet julle ook, wanneer julle ál hierdie dinge sien, dat dit naby is, voor die deur.” Hierdie gebeurtenis dui daarop dat die tyd naby is.

Julle moet ook weet dat niemand op hierdie aarde gaan weet wanneer die wegraping gaan kom nie. Die HERE is baie duidelik in Mattheus 24:36 “Maar van dié dag en dié uur weet niemand nie, ook die engele van die hemele nie, maar net my Vader alleen.” In die volgende vers sê die HERE dat die einde net soos in die dae van Noag sal wees. Niemand wou vir Noag glo voor die einde nie gekom het nie.

Moet dus asseblief nie in ‘n gat in die grond gaan sit en wag vir die einde nie. Gaan uit en waarsku die mense rondom julle. Laat hulle lag as hulle wil. Die spreekwoord sê mos: wie laaste lag, lag die lekkerste!

Ek kan vir julle egter dit sê: die wegraping gaan ‘n totale verassing wees! Die HERE is versot op verassings en Hy gaan ons verras wanneer ons dit die minste verwag.

Prys die Naam van die HEER!

(Visited 103 times, 1 visits today)