Vandag wil ek met julle gesels oor “Voorspoed Christendom” of “Prosperity Christianity” soos dit in Engels genoem word…
Voorspoed Christendom word ook genoem die voorspoed evangelie, die gesondheid en rykdom evangelie, die evangelie van sukses, of saad geloof. Dis ‘n godsdienstige oortuiging onder sommige Christene dat finansiële seën en fisiese welstand die wil van God is, en dat geloof, positiewe spraak en skenkings aan godsdienstige sake ‘n mens se materiële rykdom sal vergroot. Materiële en veral finansiële sukses word daarom deur hierdie mense gesien as ‘n teken van goddelike guns.
Klink onskadelik né? Wat kan dan nou verkeerd wees met rykdom of ‘n geseënde lewe? Dis presies waar satan jou in sy wip vang! Julle sien, liewe lesers, nêrens in die hele Bybel word daar vir ons ‘n geseënde lewe belowe nie! Daar word wel gesê dat ons in hierdie lewe ‘n stryd sal hê en dat ons geloof dikwels met swaarkry gepaard sal gaan.
Julle moet verstaan dat hierdie wêreld verlore is en dat dit aan satan en sy magte oorgegee is. Die oomblik wat jy jou hart aan Jesus gee, dan maak jy ‘n vyand van satan en hierdie wêreld. Dit beteken dat daar swaarkry vir jou voorlê, maar moenie dat dit jou afsit nie. Jesus sal sorg vir jou dat jy nie ondergaan nie; daarop kan jy maar wed!
Daar was verskeie mense in die Bybel wat super ryk was, maar nooit het daardie geld tussen hulle en God kom staan nie. Kom ons vat vir Job as ‘n voorbeeld. Hy het vreeslik baie gehad, maar God het alles weggevat en later weer alles en nog meer teruggegee, maar nooit het Job sy rug op God gedraai nie of toegelaat dat sy rykdom tussen hom en God kom nie.
Voorspoed Christendom is ‘n leerstelling wat teenstrydig is met wat die Bybel vir ons leer. Voorspoed Christendom leer dat as jy geldelike skenkings maak aan die kerk wat Voorspoed Christendom ondersteun, dat God jou geldelik sal seën meer as wat jy gee. Hierdie leerstelling kom nêrens in die Bybel voor nie.
Julle sien, liewe lesers, God het ons nie ons geld nodig nie! Die kerk sal bly voortbestaan met of sonder ons geld, want God sorg en voed sy kerk! Prys die Naam van die HERE! As jy ‘n R100,000 vir die kerk gee, dan sal jy ‘n goue sterretjie langs jou naam in die Boek van die Lewe kry, maar dit beteken nie dat God jou skielik gaan seën met R1 miljoen rand nie! God is nie ‘n dobbelmasjien nie en die Christendom is nie ‘n casino om op te wed nie! Verstaan julle waarom hierdie leerstelling so gevaarlik is en waarom dit teenstrydig met die Wood van God is?
Ons is op hierdie aarde gesit met een doel en dis om God te leer ken en om naasteliefde te beoefen. Mense vra dikwels wat die doel van die lewe is en dis presies dit: om te leer om jou naaste lief te hê soos jouself! Dis nie om jouself te verryk of om beroemdheid te verwerf nie, want jy kan dit nie eendag saam met jou vat nie. Hierdie is verganklike dinge wat aan die aarde behoort.
Wat bly vir ons as Kinders van die HERE oor? God se belofte dat die swaarkry wat ons nou beleef, net tydelik is en dat die beloning wat ons gaan kry omdat ons die pad enduit geloop het, ons stoutste verwagtinge gaan oortref! Dis waarvoor ons werk! Prys die Naam van Jesus!
Onthou dat ons nie dinge vir Jesus doen omdat ons iets terugverwag nie. Ons doen dit omdat ons vir Jesus lief is en omdat ons dit wil doen! Dis waarom ek hierdie boodskappe drie keer per week skryf; omdat ek dit wil doen. Dis my bydrae tot die Koningryk van God en ‘n bewys van my liefde vir die HERE! Ek soek nie geld daarvoor nie en ek soek ook nie beroemdheid nie. Dis die gesindheid wat Jesus by jou soek, liewe leser! Doen wat jy vir Jesus doen omdat dit vir jou ‘n plesier is om die wingerd van die HERE te werk en nie omdat jy dit moet doen of omdat jy iets terug verwag nie.
Onder aan hierdie boodskap is die video wat iemand vir my gestuur het. Dis op YouTube. Kyk gerus daarna as julle kan. Dis ongelooflik om te sien net hoever satan bereid is om te gaan om die Kinders van die HERE te mislei en waarom ons versigtig moet wees vir die ding.
Mag die HERE hierdie boodskap aan julle harte seën!