Ek het al voorheen oor hierdie onderwerp gesels, maar die Gees wys vir my dat dit belangrik is om dit weer te doen as herinnering.
In Mattheus 16 lees ons weereens hoe die Godsdienstige leiers van Jesus se tyd ‘n teken by Hom gesoek het. Dit was ook nie die eerste keer dat hulle die versoek gerig het nie, want ons sien dit op ‘n hele paar plekke in die Woord van God opgeteken.
Jesus se antwoord is presies dieselfde beide kere: “‘n Slegte en owerspelige geslag soek na ‘n teken, en geen teken sal aan hom gegee word nie, behalwe die teken van Jona, die profeet.” (Mattheus 16:4) Die teken van Jona is ‘n teken van geloof, maar ons gaan nie vandag hierby stilstaan nie, want dis ‘n gesprek op sy eie daardie! Ek gaan konsentreer op die gedeelte dat geen teken gegee gaan word nie, want dis soos ek dit van die Heilige Gees ontvang het.
Net soos in Jesus se tyd kry ons vandag drie groepe mense: die wat glo in die wegraping van die kerk, die wat op die draad sit en nie ‘n besluit wil maak nie en dan laastens die wat glad nie glo nie en ek bedoel soos in glad nie glo nie; jy kan hulle nie eers oortuig nie!
Dis die draad sitters wat die slegte geslag is wat gedurig deur ‘n teken soek, want praat maar met een van hulle en die gesprek van een of ander bewys sal baie vinnig sy kop uitsteek! Sodra daar een of ander gesprek oor geloof is, dan kom die storie van ‘n teken altyd op. Die van julle wat in die bediening staan sal weet wat ek van praat, want ons sien dit gereeld! Maar kyk wat sê die Gees van God: geen teken sal aan hulle gegee word nie!
Hierdie is natuurlik ‘n waarskuwing, want Jesus sê vir ons in Mattheus 24 dat ons die dag en die uur nie weet nie. Hy sê ook dat die wegraping van die kerk oor hierdie wêreld gaan kom soos ‘n groot skrik en dat daar geen vooraf teken gaan wees nie. Net soos met die vloed sal mense wat nie geglo het nie dit ook nie verstaan voor eers na die tyd nie. Dis waarom die teken van Jona aan hulle gegee gaan word sodat hulle moet glo.
Ons wat gered is en glo, hoe daardie dag natuurlik glad nie te vrees nie, maar ons moet nog steeds let op ons eie wandel. Baie outomaties sal op daardie dag vir ons vergewe word, maar nie moedswillige sonde nie. Wat is moedswillige sonde, vra julle? Dis sonde wat ons weet sonde is en ons weet dis verkeerd, maar ons doen dit nog steeds. Satan het aan ons vertel dat ons nie daaroor bekommerd hoef te wees nie, want Jesus ken ons harte… Leuen, leuen, leuen!
Onthou dat satan die vader van die leuen is. Niks wat hy sê moet jy ooit glo nie! Satan het net een doel voor oë en dis om jou sover te kry om sy straf saam met hom te deel. Hy weet dat hy verlore is en dat hy niks daaraan kan doen nie, maar jy is nie verlore nie en jy kan gered word. Jy het die keuse en jy kan daardie keuse nog maak om die regte ding te doen, maar onthou die waarskuwing dat daar geen teken gaan wees nie.
Net soos in die dae van Noag sal mense aangaan met hulle daaglikse take soos hulle al vir dekades al doen. Mense sal eet, drink en vrolik wees tot op die oomblik dat die wegraping plaasvind. Geen vooraf teken of waarskuwing nie. Jy gaan of gereed wees of jy gaan nie. Een manier om te sorg dat jy gereed is, is om van moedswillige sonde ontslae te raak.
Jesus weet dat jy nie perfek is nie; niemand van ons is nie, ook nie ek nie! Jesus weet ook dat satan baie slimmer is as ons. Hy weet ook dat jy net ‘n mens is wat gedurig moet baklei teen sy eie swakhede asook die begeerlikhede van die vlees. Jesus is nie onredelik nie; Hy het voorsiening gemaak vir al hierdie dinge. Die vlieg in die salf is moedswillige sonde.
Ons almal weet dat dit verkeerd is om na ‘n ander se man of vrou te kyk en hom of haar te begeer, maar dit stop ons nie om te kyk nie. Ons getroudes het tot ‘n gesegde daarvoor: kyk na die spyskaart, maar eet by die huis! Dit is verkeerd, liewe Kind van God en moedswillige sonde! Jesus sê vir ons dat as jy na ‘n man of ‘n vrou kyk en hom of haar begeer, dan het jy reeds egbreuk met daardie persoon gepleeg! Ja, die daad is reeds gepleeg en jy het dit nog nie eers fisies volbring nie! Verstaan julle nou wat ek bedoel by moedswillige sonde?
Ja, Jesus ken jou en Hy verstaan jou hart ook, maar moedswillige sonde is die vlieg in die salf! Verstaan julle die belangrikheid daarvan? Ek hoop so, want ek wil nie sien hoe skape van my kudde na die tyd in die lug op staar en wonder waarom hulle nog hier is nie. Bid vir vergifnis. Jy kan vir die Heilige Gees vra om sonde wat nog in jou lewe bestaan aan jou uit te wys. Jesus sal dit toelaat. Ek weet, want ek het dit gedoen en so op ‘n baie lelike ding afgekom wat ek al van vergeet het! Jy kan dit ook doen!
Liewe lesers, my begeerte is dat julle gereed moet wees. Niemand gaan daardie dag of daardie uur weet nie. Jy gaan of gereed wees of jy gaan nie, maar gelukkig is dit maklik om gereed te wees en dit is om gereeld vergifnis vir jou sonde te vra. Almal van ons kan dit doen en ek hoop van harte dat julle dit ook doen.
Mag die HERE hierdie boodskap aan julle harte seën!