Een van ons mede-leraars het ‘n kort boodskap oor Heiligheid gepos in ons Suiderkruis Groep, maar Jesus sê dat ek daaroor moet uitbrei.
Die oorspronklike boodskap wat gepos was het gegaan oor wellus en Jesus se woorde in Mattheus 5:28 “Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat na ‘n vrou kyk om haar te begeer, reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het.”
Weet julle hoe maklik gebeur dit? Veral in vandag se tyd. Dit vat net een sekonde van te lank kyk en satan het jou in sy wip gevang. Dis waarom ons as Kinders van die HERE so op ons hoede moet wees, want dis so maklik om te oortree!
Wat my regtig bang maak is die feit dat die wegraping van die Bruid voor die deur is. Ons wag nie meer vir Jesus om te kom nie, ons wag nou vir die basuin om te blaas en dit kan enige oomblik wees! Ek dink nou hoe baie daar is wat dink hulle is gereed; wat dink dat God ‘n God van liefde is en dat God sal verstaan, maar dan vergeet ons Paulus se woorde in 1 Petrus 1:14-16 “Soos gehoorsame kinders moet julle nie jul lewe inrig volgens die begeerlikhede wat tevore in julle onwetendheid bestaan het nie. Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word, omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig.”
“Wees heilig, want Ek is heilig.” Dis die kern van die saak! Liewe Kind van God, jy kan nie meer bekostig om jou met hierdie goed op te hou nie. Dis waar dat Jesus liefdevol is en dat Hy genadig met ons is, maar Hy is ook gebind aan dieselfde reëls as ons en daardie reëls sê dat as jy nie heiligheid nastreef nie, kan jy nie in die wegraping geneem word nie!
Hierdie is geen grap nie liewe leser! Jesus wil nie hê dat jy deur die verdrukking moet gaan nie, want die verdrukking is nie vir die geredde Kind van God nie. Hy sê tog immers in Romeine 5:9, Romeine 8:1, 1 Tessalonisense 5:9 en in 1 Tessalonisense 1:10 dat ons wat gered is deur die Bloed van die Lam verlos is van die Toorn van God die Vader, maar dan MOET jy volgens die reëls speel! Jy MOET heiligheid nastreef! Jy kan nie ‘n Kind van God wees terwyl jy ‘n kompromie met sonde aangaan nie! ‘n Fontein gee nie bitter en soet water nie; ‘n dienskneg kan ook nie twee meesters dien nie. Verstaan julle?
Dan is daar die kwessie van masturbasie. Hierdie is ‘n sonde wat gekoppel is aan wellus en dis ‘n sonde wat opsetlik gedoen word, wetende dat dit verkeerd is! Daar is geen manier wat enige iemand ‘n sonde soos dit kan regverdig nie.
Liewe Kind van God; waarom speel jy met jou ewigheid? Kry hierdie luste van jou onder beheer terwyl jy kan, want binnekort gaan dit te laat wees. Ek weet maar net te goed dat dit nie maklik is nie, maar niks wat ooit die moeite werd was, was nog ooit maklik gewees nie.
Die maklikste metode is om jou gedagtes hiervan weg te vat. Dink aan ‘n mooi natuur toneel. ‘n Huisie in die woud waar die wind deur die dennebome waai. Of dink aan ‘n waterval wat in ‘n meer stort. Bewonder die gedagte in jou verstand; die rippels wat die water maak; die beweging van die bome in die wind. Die vuur wat in die kaggel van die huisie brand. Satan sal jou uitlos as hy sien dat sy plan nie werk nie. Hy hou nie van sukkel nie, want daar is baie makliker teikens om aan te val as wat hy met jou gaan sukkel.
Ons tyd op hierdie aarde is baie min. Enige oomblik kan daardie basuin blaas en om dan uit te vind wat jy nie gereed was nie, gaan nie ‘n lekker ondervinding wees nie. Bou daarom jou gebed altaar op en sorg dat jou huis in order is. Ek vra dit in die Naam van Jesus.
Mag die HERE hierdie boodskap aan julle harte seën!
