Moenie ontsteld of bang word nie

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media
Print Friendly, PDF & Email

Jesus weet dat baie van julle wonder oor al die beloftes van Sy Woord. Hy weet ook dat julle twyfel…

Daarom wil ek julle vandag vat na Johannes 14 en ek wil hê dat julle mooi moet kyk na wat Jesus se heel eerste woorde is.

“Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My.” (Johannes 14:1)

Die afgelope tyd het ek baie met julle gesels oor geloof en hier sê Jesus nou self presies dieselfde! Is Hy nie ‘n God wat waardig is om geprys te word nie?

Jesus het ons nie verlaat nie. Hy is nog steeds hier en hy kyk en sien wat in hierdie wêreld aangaan, maar terwyl Hy daarmee besig is, is Hy ook besig om vir ons plek te berei. Hy wil ons saamvat sodat ons ook kan wees waar Hy is! Prys Sy Wonderlike Naam!

Hierdie belofte is nog nie vervul nie en ek sê vandag vir julle dat dit vervul gaan word! “Nog ‘n klein tydjie…” (Johannes 14:19) Moenie moed verloor nie. Dinge raak op sy moeilikste net voor jy oor die kruin van die heuwel gaan. Ons is amper daar!

Jesus weet dat Sy Bruid aangeval word deur satan. Hy sien hoe baie van julle struikel en val. Ek ook, want ek is ook ‘n sondaar net soos julle. Maar Jesus sien ook hoe julle weer opstaan om verder te baklei en hoe julle nie toelaat dat satan julle onder kry nie. Dit maak Sy Vader hart baie bly. So bly dat Hy van opgewondenheid wil skreeu: “Dis my kind daardie!” Moenie bekommerd wees as jy val nie. Dis nie hoe jy val wat saak maak nie, maar hoe jy opstaan!

[14]  As julle iets in my Naam vra, sal Ek dit doen. [15]  As julle My liefhet, bewaar my gebooie.” (Johannes 14:14-15)

Vra vir Jesus wat jy nodig het en Hy SAL dit doen en bewaar Sy gebooie. Daar is geen groter bewys van liefde vir Jesus as iemand wat dit wat vir ons gegee is bewaar en dit uitleef nie.

Jesus weet julle is gefrustreerd met hierdie wêreld. Die wêreld daar buite is blind omdat hulle die Gees van die Waarheid nie kan ontvang nie. Hulle kan dit nie ontvang nie omdat hulle Hom nie ken nie. (Johannes 14:17) Ons kan die waarheid sien omdat die Gees van die Waarheid in ons is en omdat ons Jesus ken! Dis waarom die wêreld daar buite rondtas na antwoorde en dit nie kan vind nie.

Onthou; die beloftes is nie dood nie! Moenie dat satan met jou kop smokkel nie. Jesus het gesê dat Hy gaan kom en Hy gaan! Glo dit, want dit GAAN waar word! Vergeet van wat rondom jou aangaan. Konsentreer op Jesus, want dis wat saak maak!

Ek gaan afsluit met die volgende vers soos wat Jesus aan Sy dissipels gegee het.

“Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie. Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie.” (Johannes 14:27)

Mag die HERE hierdie boodskap seën!

(Visited 297 times, 1 visits today)
Tagged , , , , .