Geloof, absolute geloof

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Jesus is besig om ons geloof te toets en dis waarom so baie van julle voel asof Jesus julle verlaat het…

Jesus het jou nie verlaat nie, liewe leser, hy laat jou net so ‘n bietjie op jou eie loop, want ons is almal wingerdlote in Jesus. Die van julle wat al tuin gemaak het in julle lewens sal weet dat solank jy ‘n plantjie oppas daardie plantjie baie min groei van sy eie toon. Maar as ons daardie plantjie op sy eie los en hom net water gee op sy tyd, dan sal hy vanself groei.

Ja, peste gaan die plantjie aanval, net soos satan ons ook maar aanval. Dis deel van die groot word proses daardie. Toetse moet daar wees. Dis soos eksamens, want jy moet kan bewys dat jy genoeg van iets waarvan jy geleer het weet en die enigste manier om dit te doen is deur ‘n eksamen oor die onderwerp te skryf. Niemand hou daarvan om ‘n eksamen te skryf nie, maar dis die enigste manier om jou vordering te toets.

Net so toets Jesus ons geloof en kyk Hy of ons op ons eie kan staan. Dis deel van die grootword proses daardie, want ons kan nie soos babas die hele tyd van melk afhanklik wees nie. Iewers langs die pad gaan ons vaste kos moet leer eet en die tyd daarvoor is nou.

Jesus het vir my al so getoets en dit was glad nie lekker nie! Vandag is ek baie bly dat ek so getoets was, want die dinge wat ek sou gedoen het omdat ek nie van beter geweet het nie, doen ek nou nie meer nie. My geloof in Jesus is nou baie sterker as wat dit toe was, danksy hierdie toetse. Daarom, liewe leser, staan vas in jou geloof en vertrou Jesus! Hy weet wat Hy doen, selfs al sien ons dit nie.

Iemand op ons Telegram groep het verlede week hierdie uitstekende voorbeeld gepos en ek gaan dit nou weer gebruik omdat ek ondervinding in hierdie veld het. Ek was al verskeie kere voor in die stuurkajuit van verskeie vliegtuie en nee, ek is nie ‘n vlieënier nie. Ek was ook al so gelukkig om te gaan kyk wat agter die skerms gebeur by lugverkeer waar hulle die vliegtuie beheer. Die toerusting wat gebruik word is die beste in die wêreld en die professionaliteit van die mense wat daar werk is ongelooflik. Daardie groen skerms met die kolletjies wat Hollywood so graag vir ons in films wys bestaan nie meer nie. Dis nou gewone plat rekenaar skerms waarop elke detail van elke vliegtuig in die lug opgeroep kan word as dit nodig is. Maar nou eers genoeg hiervan.

As vlieënier vlieg jy soms in toestande in waar die wolke laag is en jy die grond of selfs die lughawe nie kan sien nie. Van die groter passasiers vliegtuie kan in sulke gevalle ‘n “autoland” doen by sommige van die groter lughawens wat in Instrument Landing Stelsel het. Die vliegtuig sal homself dan land sonder dat die vlieënier enige iets hoef te doen, behalwe om die outomatiese loods aan te skakel en op te stel vir die landing. Dis vreesaanjaend om te sien, want jy sien hoe die outomatiese loods die vliegtuig vlieg terwyl jy niks voor jou kan sien nie!

Dis geloof daardie! Die vlieënier het absolute geloof in die toerusting wat hy gebruik en dat dit gaan werk soos dit moet en nie die vliegtuig in ‘n gebou gaan laat vas vlieg nie. Hy het ook absolute geloof dat daardie persoon wat agter die skerm sit en hom moet inbring om te kan land. Daardie persoon is tog immers sy oë as die wolke so laag is omdat hy self nie kan sien waarheen hy gaan nie…

As vlieëniers die toerusting wat hulle gebruik en die mense wat hulle deur die lug lei so kan vertrou, waarom kan ons nie vir Jesus so vertrou nie? Sodra iets in ons lewens verkeerd gaan en die wêreldjie waarin ons lewe so ‘n bietjie deurmekaar skud, dan begin ons twyfel of Jesus nog lewe… Dit laat my so dink aan die skuit waarin Jesus en Sy dissipels was tydens die storm. Wat het Jesus hulle gesê?

“Waarom is julle so bang? Hoe het julle dan geen geloof nie?” (Markus 4:40)

Ek gaan nou vir julle presies dieselfde vra: Het julle geen geloof nie? As die voëls van die Hemel vir Jesus kan vertrou om vir hulle te voorsien en die plante kan aanhou groei ongeag wat met hulle gebeur; waarom kan ons nie vir Jesus vertrou nie?

Ek weet dat om beheer oor te gee moeilik is, want ek was ook al daar in my lewe, maar wat jy terugkry is ‘n gawe baie groter as enige bekommernis! Dis ‘n gawe om Jesus met alles te vertrou en te weet dat niks en ek bedoel absoluut NIKS met jou sal gebeur sonder die Wil van die Vader nie!

In Engels is daar so ‘n oulike spreekwoord: “Try me!” Vandag wil ek jou uitnooi: “Try Jesus!” Moet nou nie wees soos die saad wat op die rotsagtige plekke geval het nie… Alles vuur en vlam tot die bekommernisse kom en dan jou kop onder die grond probeer wegsteek nie. Ek wil hê dat elkeen van julle wat hierdie lees vandag ‘n verdrag met Jesus ondergaan dat julle Hom gaan vertrou met alles wat julle het. Ek weet dis baie gevra, maar as jy vir Jesus jou alles gee, dan gee Hy Sy alles vir jou! “Try me!” Ek kan jou waarborg dat jy nooit spyt sal wees nie!

Die pad is nie altyd lekker nie en soms twyfel ek ook maar, maar dan los ek dit waaroor ek bekommerd is in die hande van Jesus. “Daar is vir jou ‘n probleem, Jesus! Sorteer dit vir my uit, asseblief,” en dan loop ek weg daarvandaan en ek gryp dit nie weer later terug nie. Kyk na die volgende verse uit die Woord uit.

“Kyk na die voëls van die hemel; hulle saai nie en hulle maai nie en hulle bring nie bymekaar in skure nie, en tog voed julle hemelse Vader hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie?” (Mattheus 6:26)

“Kwel julle dus nie oor môre nie, want môre sal hom oor sy eie dinge kwel. Elke dag het genoeg aan sy eie kwaad.” (Mattheus 6:34)

“Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle.” (1 Petrus 5:7)

“Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee.” (Mattheus 11:28)

Ek kan nog baie meer verse uithaal en vir julle wys, maar hierdie is vir nou genoeg. Vertrou in Jesus en alles anders sal vanself in plek val!

Mag Jesus hierdie woord aan elkeen se harte seën!

(Visited 155 times, 1 visits today)
Tagged , , , , .