Ek het die afgelope tyd iets baie interessant geleer en dit is dat ons vir satan hopeloos te veel krediet gee vir alles wat verkeerd gaan.
Julle sien, satan het net een wapen en dit is die leuens wat hy vertel, verder het hy geen mag nie. Hy kan niemand enige iets laat doen wat daardie persoon nie wil nie en hy kan ook nie enige iemand forseer om na sy leuens te luister nie. Satan se mag kom van ons af wat dit vir hom op ‘n skinkbord gee deur na hom te luister en dis die lank en die kort daarvan.
Satan is die grootste leuenaar in die geskiedenis van die mens en sy mag bestaan uit ‘n mengsel van waarheid, halwe waarheid en leuens en met daardie mag van hom kry hy ons as mens om sy vuilwerk vir hom te doen. Agterna staan hy uit die water uit en net soos met Eva, sê dan dat hy nooit gesê het dat jy dit moet doen nie!
Satan gebruik mense. Jy is vir hom niks anders as kanonvoer nie; ‘n doel tot ‘n middel sodat hy by God kan gaan spog hoe God se plan met die mens nie werk nie. Satan het geen liefde vir enige iemand nie; nie eers vir die demone onder hom nie. Moet daarom nie deur die mooi woordjies geflous word nie, want net soos satan is daardie woorde leeg en sonder enige betekenis.
Satan speel op jou gevoel en op jou menslikheid. Hy wys vir jou hoe suksesvol ander mense is en dan oortuig hy jou met sy leuens dat jy net so gelukkig kan wees, maar dat daar ‘n makliker manier is en dit is om te steel. Nooit ooit sal satan vir jou wys wat die gevolge van daardie keuse is nie, want as hy dit doen, dan sal jy miskien twee keer dink.
Onder geen omstandighede wil satan hê dat jy eers moet dink oor dit wat hy sê nie en dis waarom hy ‘n mengsel van waarheid, halwe waarheid en leuens gebruik om met jou gevoelens te speel. So word jy kwaad of begin jy begeer. Dan gebruik hy jou eie vrese om vir God weg te kruip en hy vertel jou hoe teleurgesteld God in jou is. Hy doen dit om jou weg te hou van God af sodat jy nie dalk vergifnis vir jou dade kan gaan kry nie. Op die manier hou hy die mag in jou lewe en kan hy jou manipuleer met sy leuens net wanneer hy wil.
Hoe kan ‘n mens dan oorwin teen iets soos dit? Baie maklik, want Jesus het ons nie soos skape onder die wolwe ingestuur sonder beskerming nie! Ons het die mag, maar satan wil nie hê dat jy dit moet weet nie, want dan gaan hy geen mag oor jou lewe meer hê nie. Gebruik die volgende woorde.
Satan, ek behoort nie aan jou nie; ek behoort aan Jesus. Jy kan my nie meer gebruik nie, want ek is nie joune om te gebruik nie.
Hierdie woorde is al wat nodig is, maar dit beteken nie dat satan jou gaan uitlos nie. Hy sal aanhou probeer, want dis wat hy doen. Moet egter nooit vergeet dat ons die mag het nie. Ons kan die woorde bo gebruik so baie as wat nodig is en mettertyd sal satan jou uitlos.
As daar een ding is wat ek geleer het, dan is dit dat satan van maklike teikens hou. Satan hou nie van teleurstellings nie en hy hou nie van mense wat nie op hulle hoede is vir hom nie, want dit maak dit baie moeilik om so iemand te manipuleer. Onthou dus hierdie woorde as jy weer kwaad word of voel dat jy onregverdig behandel word.
Onthou dat satan omstandighede in jou lewe gebruik om jou te laat sondig. Jy kan te enige tyd vir satan herinner dat jy nie meer aan hom behoort nie en dat hy jou nie meer kan gebruik soos hy wil nie. Hy gaan jou haat daarvoor net soos hy my nou haat omdat ek julle vertel hoe om hom te verslaan, maar ek is nie bang vir hom nie, want hy het geen mag nie. Al die mag behoort aan God die Vader en Sy Wil is wat tel!
Prys die Naam van Jesus!
Amen! Trehk daagliks die volle Wapenuitrusting van God aan – en wandel In die Heilige Gees 🙌🏻✝️