So baie seer en leiding

Jesus gebruik omstandighede in ons lewens om ons te leer wat liefde is sodat ons dit wat ons ontvang, weer aan ander kan uitdeel.

Ons het so drie jaar gelede ‘n pikswart worshondjie met bruin vlekke op sy pote gekry met die naam van Milo. Die vrou aan wie hy behoort het, moes trek en kon hom ongelukkig nie saam vat nie. Sy was baie lief vir hom, maar haar kêrel en haar huis hulp het die arme hond vreeslik mishandel. Hy was toe reeds drie jaar oud toe ons hom gekry het en hy was wat hulle ‘n “rescue” noem.

Arme Milo was vir alles bang. Hy het wye draaie om die swembad geloop en wou nie naby dit kom nie. Hy was bang vir motorfietse en het gaan wegkruip onder ‘n stoel as een voor die huis verby gekry het. Ons het later geleer dat die vrou aan wie hy behoort het se kêrel ‘n motorfiets gekry het en dat hy gereeld vir Milo in hulle swembad gegooi het. Hy was dood bang vir pantoffels en koerante, want dis waarmee hulle hom geslaan het as hy stout was. Hy sou onbeheer begin tjank-blaf as jy met jou pantoffels uittrek of met ‘n koerant loop en hy dit sien.

Hy het almal vir wie hy bang was aan die voete of die hakskene gebyt. Jy kon niks vir enige iemand in die huis aangee nie, of Milo het op jou afgestorm en jou aan die voete gebyt; meestal sonder waarskuwing. Hierdie gedrag het vir meer as ‘n jaar aangehou en almal in die huis se geduld tot op die uiterste getoets. Ons het probeer om te verstaan en so lief vir hom te wees as wat ons kan, maar dit het nie gelyk of dit gewerk het nie.

Eendag, uit absolute moedeloosheid het ek net begin bid en ek het vir Jesus gevra of Hy nie kan ingryp nie, want teen daardie tyd het almal in die huis op lugkussings rondom Milo geloop en ons geduld was aan flarde! Dis waar dinge begin het om te verander.

Ons besef nie altyd wat se krag gebed het nie. Ons bid en as niks gebeur nie, dan skryf ons dit af en ons dink dat Jesus daardie dag seker nie geluister het nie. Ek kan jou egter verseker dat Jesus elke gebed wat jy bid na luister. Ek het baie getuienisse daarvan en ek het op geleentheid twee wonderwerke sien gebeur deur gebed! Sommige gebede vat egter net langer om vervul te word as ander en dis ook belangrik om te weet dat Jesus nooit ‘n gebed sal toestaan as dit waarvoor jy bid jou van Hom sal wegvat nie. As jy dus bid vir ‘n miljoen rand, dan gaan jy dit tien teen een nie kry nie, want Jesus weet wat so baie geld aan mense maak; selfs die wat dink dat dit geen effek op hulle lewens gaan hê nie.

Soms is die antwoord op die gebed wat ons bid “nee”. Onthou dat Jesus Sy eie tydlyn het wat Hy volg en dat die tyd van die mens van geen belang is vir die HERE nie. As jou geliefde sterwend is en jy bid vir genesing, maar daardie persoon se werk wat hy of sy vir Jesus gedoen het, is volbring, dan gaan Jesus se antwoord op jou gebed “nee” wees. Dis nie dat Jesus nie meer lief vir jou is nie of nie meer omgee nie; dis leuens van satan daardie. Dis omdat Jesus se tyd nie ons tyd is nie en Sy weë is nie ons weë nie. Jesus het sy redes en ons verstaan dit nie altyd nie, maar later as die seer en die pyn minder word, dan begin ons om te verstaan.

Milo het skielik drasties begin verander na ek gebid het vir ‘n uitkoms, maar dis nog nie die einde van die storie nie! Die Gees van die HERE is ‘n wonderlike leidsman, prys die Naam van Jesus! Alle diere ken net die mees suiwerste vorm van liefde. Dis ‘n liefde waar daar niks sleg is nie en ‘n liefde waar jy die rondom jou voor jou eie belange stel. Dis dieselfde liefde wat Jesus vir ons het en wat Hy so graag wil hê ons moet uitleef… Vir enige dier om aan te pas by ons manier van liefde moet uiters frustrerend wees, want dis ‘n liefde wat hulle nie ken nie, maar hulle kan dit vir ons wys en dis wat so wonderlik is om ‘n dier te kan hê, want hulle het jou onvoorwaardelik lief, net soos Jesus.

Iemand het eenslag gesê dat slegte honde nie gebore word nie; hulle word so gemaak. Daardie woorde is meer waar as enige iets anders, want diere sien die slegte goed wat ons doen en hulle boots dit na, want hulle dink dis normaal. Dis wat satan aan ons ook doen. Hy sit ons in ‘n hok en dan steek hy jou gedurig met ‘n stok sodat jy kan kwaad raak en kan vloek vir sy vermaak. As jy nie vir Jesus aan jou kant het om daardie bitterheid uit jou siel te verwyder nie, dan begin daardie bitterheid groei en voor jy weet, oorheers dit alles!

In die wat nie vir Jesus in hulle lewens het nie, groei hierdie bitterheid en raak hulle nog meer bitter, maar weet julle wat? As jy ‘n Kind van die HERE aan so iemand blootstel, dan begin daardie bitterheid om weg te gaan. Nie alles gelyk nie, maar baie stelselmatig. Die lig in jou sal die duisternis in ander altyd oorweldig, want God se Woord sê so! Die pad wat jy met so iemand loop is nie maklik nie, want satan gee nie beheer sommer net so oor nie, maar onvoorwaardelike liefde en geduld oorwin op die ou end! Prys die Naam van Jesus.

Ek staan vandag hier en ek kan nie vir Jesus genoeg bedank vir alles wat Hy in my lewe gedoen het nie. Ek sou nooit uitgedraai het soos dit as dit nie vir Hom was nie. Ek het ‘n klein hondjie wat begin het om vir my te leer wat onvoorwaardelike liefde is; ‘n liefde waar jy verby die slegte en die seer kan kyk net soos Jesus na ons kyk. ‘n Maklike pad is dit nie en ek sukkel om daaraan gewoond te raak, maar ons vat dit een stap op ‘n slag.

Kom ons bid saam.

My Vader ek wil vra dat wie ook al hierdie boodskap lees, vervul sal word van U liefde vir ons. Dat hulle sal verstaan wat onvoorwaardelike liefde is en daardeur sal begryp hoe lief U ons het. Ek wil daardie leuen wat satan so lief is voor dat U vreeslik teleurgesteld is in ons kragteloos stel deur die Naam van Jesus. Ek wil ook vra dat wie ook al saam met my nou bid, dat U vir hulle in u arms sal neem en hulle sal troos, want ek weet hoe satan ons kan verniel. Verbid daardie wonde in hulle lewens met olie en wyn, my HERE sodat hulle kan genees en U hulle weer op die regte plek kan sit waar hulle ander na U toe kan lei. Prys die Wonderlike Naam van Jesus. AMEN!

(Visited 97 times, 1 visits today)
Tagged , , , , .