Die millennium regering

Heer Jesus, help ons om ons aardse toetse in perspektief te hou en te weet dat ons baie gou saam met U sal wees. Amen!

Nou dat die jaar amper op sy einde is en so baie mense met vakansie is, sal julle seker agtergekom het dat die boodskappe minder word. Ek dink die HERE weet dit en dis waarom Hy ons die geleentheid gee om te rus en saam met familie te wees gedurende hierdie tyd van die jaar. Dankie Jesus!

Die HERE weet dat sommige van julle ‘n swaar kruis vir Hom dra, maar hou moed! Die HERE sê dat Hy jou nooit sal verlaat nie! Selfs al verlaat ons hom en beweeg ons uit die vuur van heiligmaking uit of selfs al bly ons agter langs die pad omdat ons net nie meer verder kan gaan nie; die HERE bly met jou! Een ding moet jy onthou; altyd! Jy behoort aan die HERE. Jy is Syne en jy is NOOIT in der ewigheid verlore nie!

Maar nou eers vir vandag se boodskap.

Iemand wat ek ken het vir my hierdie droom wat hy gehad het aangestuur. Hy sê dat hy in sy slaap hom skielik in ‘n kantoor gebou bevind het saam met sy vrou, maar alles in die gebou was in ‘n vervalle toestand asof daar ‘n baie sterk wind deur die gebou gewaai het. Stukke van vensters en mure het oral gelê. Die gebou was so beskadig dat daar gate in die mure was en dat stukke bou materiaal en venster buite op die grond gelê het.

Iets was egter anders gewees: die lug het anders geruik… dit was vars en skoon en die kleur van die hemel was ‘n helder blou. Tot die sonlig het helder en meer vars gelyk! Buite kon jy sien hoe alles besig was om spontaan te herstel: bome, gras en plant lewe. Dit was amper asof daar ‘n nuwe Eden besig was om te vorm.

Ek en my vrou het begin om die bou rommel  wat in die gebou gelê het op te tel sodat daar later ‘n paadjie was om deur te loop. Dis toe dat ek agterkom dat die mure en die vensters van die gebou besig was om hulleself te herstel. Dit het baie vreemd gelyk!

Ons het uit die gebou uitgehardloop en op ons kinders afgekom. Hulle was jonk en het gewissel in ouderdom van vyfjaar oud tot tiener ouderdom. In werklikheid is hulle almal groot en het hulle kinders van hulle eie! Hulle het helderkleurige klere aangehad en het almal kaalvoet geloop.

Ons is almal van die grond af opgelig. Nie baie hoog nie; net so boom hoogte. Oral waar ons gekyk het, was paaie, sypaadjies, huise en bome besig om hulleself te herstel. Oral was groot oop spasies met baie gras, blomme en insekte. Alles het skoon gelyk, asof dit splinternuut was.

Ek onthou dat ek afgekyk het en gedink het hoe lekker die kinders sal speel as daar ‘n meer vir hulle was. Skielik het die HERE toegelaat dat die meer vorm! Sommer net so; vanself! Die aarde het ingesink en water het die insinking opgevul.

Ons het afgekom grond toe en op die oewer van die meer gaan staan. Die sand was die witste sand wat ek nog ooit gesien het. Die gras om die oewer was gras groen en oral was palmbome wat die meer soos ‘n tropiese paradys laat lyk het. Skoenlappers het oral gevlieg. Daar was eekhorinkies, en voëls van elke spesie denkbaar! Oral was lewe!

Soos ons geloop het, het die Gees van die HERE vir ons allerhande kreatiewe gedagtes gegee en soos ons daaroor gedink het, het die HERE dit voor ons gevorm. Ons het gou agtergekom dat God die Vader, Jesus en die Heilige Gees teenwoordig was en ons genooi het om hulle te help vorm aan hierdie nuwe wêreld. Ons het letterlik met ons verbeelding gespeel om so die landskap te vorm.

Ons het ook verstaan dat ons niks uit ons eie gedoen het nie, maar dat die HERE ons toegelaat het om dit wat ons gevorm het te kon doen. Ons kon sien hoe gelukkig Hy was om te sien hoe ons dit geniet het om die wêreld te vorm.

Ons liggame, so jonk soos ons was, het ‘n ligbruin, amper koper kleur vel gehad. Ons het so vry gevoel! Vry van enige iets wat ons voorheen kon beperk het. Die knie wat my soveel las gegee het al was weg en ek het vrye gebruik van al my ledemate gehad!

Dit was die einde van die droom.

Wat ‘n wonderlike HERE dien ons nie? Wat ‘n wonderlike voorsmaak van die nuwe Millennium wanneer ons saam met die HERE hierdie aarde gaan vorm en dit gaan terugneem soos dit veronderstel was om te wees. Halleluja! Wat ‘n perfekte gedagte.

Mag die HERE julle seën!

(Visited 29 times, 1 visits today)