As ‘n siel deur die HERE gered word, dan ondergaan daardie siel ‘n transformasie en word dit ‘n nuwe mens.
Die Here sê in Jesaja 65:17 vir ons die volgende: “Want kyk, Ek skep nuwe hemele en ‘n nuwe aarde, en aan die vorige dinge sal nie gedink word en hulle sal in die hart nie opkom nie.” Hierdie belofte word verder herhaal in Openbaring 21:5 “En Hy wat op die troon sit, het gesê: Kyk, Ek maak alles nuut.” Julle is reg, hier word natuurlik verwys na die nuwe aarde wat geskep gaan word. Ek haal dit aan om aan julle te verduidelik dat as iemand gered word deur die Bloed van die Lam, hoe die HERE so iemand transformeer na ‘n nuwe mens.
Paulus vat hierdie verduideliking ‘n stap verder in 2 Korintiërs 5:17 “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.” Ons wat gered is, word dus nuwe mense deur die Bloed van Jesus, ons Verlosser! Prys Sy Wonderlike Naam! Die ou dinge soos rusie, haat, twis, onmin, verdeeldheid, afguns, eie willigheid en nog baie meer het verval en hoort dus nie meer in ons lewens te wees nie.
Nadat ons Nuwe Mense geword het, word daar in Efesiërs 4:22-24 aan ons verduidelik hoe ons daarna moet optree: “[22] dat julle, wat die vorige lewenswandel betref die oue mens moet aflê wat deur die begeerlikhede van die verleiding te gronde gaan, [23] en dat julle vernuwe moet word in die gees van julle gemoed [24] en julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid.” Ons moet die Gees van God toelaat om ons gemoed te vernuwe sodat dit wat oud en wêrelds is kan vergaan en ons met die nuwe beklee kan word.
Ek weet wat baie van julle wonder hoe ‘n mens so kan optree in ‘n sondige wêreld… Weereens het die Bybel vir ons die antwoord in Efesiërs 4:25-27 “[25] Daarom, lê die leuen af en spreek die waarheid, elkeen met sy naaste, want ons is mekaar se lede. [26] Word toornig en moenie sondig nie; laat die son nie ondergaan oor julle toorn nie; [27] en gee aan die duiwel geen plek nie.” In u daaglikse handel; praat die waarheid as u spreek. Moenie vir satan die geringste van openinge in jou lewe gee nie. Ek praat nou van persoonlike ondervinding; hoe baie keer het ons nie al die waarheid effens verdraai omdat jy iemand se gevoelens wil beskerm nie. Wie van ons doen dit nie! Aan die einde van die dag moet mens met so baie verdraaiings tred hou dat jy later self deurmekaar raak oor wat gesê is en wat nie. Praat liewer die waarheid van die begin af, dan hoef jy nie so te sukkel om tred te hou by wat jy gesê het en wat jy nie gesê het nie!
As jy kwaad word en glo my u gaan, moet dan nie sondig nie en moenie kwaad gaan slaap nie. Moet ook nie die Gees van God bedroef nie, want deur die Gees is ons verseël tot die dag wat die Here ons gaan kom haal. (Efesiërs 4:30) Wees vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar. Vergewe mekaar se oortredinge soos Christus ook ons tekortkominge vergewe. (Efesiërs 4:32)
Moenie aan hierdie wêreld gelykvormig word nie. (Romeine 12:2) Met ander woorde, moenie doen wat die wêreld doen nie. Moenie met die verkeerde saamstem net omdat dit is wat die wêreld van jou verwag nie of omdat jy mense se gevoelens wil beskerm nie. Onthou, die Bybel mag ons miskien seer maak met die waarheid, maar dit sal ons nooit sus met ‘n leun nie! Amen!
Leef dus u lewe soos ‘n nuwe mens, liewe leser, en gee die duiwel geen plek in u lewe nie. Die koms van die Here is baie naby en dan sal ons wat nuwe mense is en ons lewe as nuwe mense lewe, saam met Hom gaan om vir altyd saam met die Here te wees en wat ‘n wonderlike dag gaan dit nie wees nie! Prys die Naam van die HERE!
Mag die Here hierdie boodskap seën.