Die pad na Heiligmaking

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Ek weet dat baie van julle vra hoe ‘n mens heilig kan lewe. Ek wens daar was ‘n maklike antwoord of ‘n resep wat ek vir julle kan gee en sê “doen dit en jy sal heilig wees”, maar dit is nie hoe dit werk nie.

Heiligmaking is ‘n pad wat jy saam met die HERE loop; ‘n leefstyl wat jy gaan moet aanleer soortgelyk aan ‘n dieet en dit vat tyd om te leer. Jy gaan baie val en jy gaan dit heel waarskynlik nooit ten volle reg kry nie, want jy is ‘n mens. ‘n Mens wat bestaan uit ‘n perfekte siel en ‘n sondige liggaam! Die HERE weet dit maar net te goed en dis waarom die HERE groot klem daarop lê dat ons moet probeer. Selfs al vaal jy, tel die feit dat jy probeer ontsaglik baie!

Die pad na Heiligmaking begin die dag wat jy tot bekering kom en jou laat doop. Dan skryf jy outomaties in by die HERE se skool en word jy in een van die HERE se klaskamers gesit en begin jy by Graad Een. Baie gou word jy bevorder na Graad Twee en daarna na Graad Drie. Soos jy aangaan, word die lesse moeiliker en moeiliker en so raak die kans dat jy kan vaal ook al hoe groter. Jy gaan ook agterkom dat die dinge waarmee jy in Graad Een gestruikel het, jy nou nie meer mee struikel nie. Dis jou maatstaf tot vordering in die klaskamer van die HERE.

Deel van Heiligmaking behels dat jy van sonde in jou lewe ontslae raak en ‘n eerlike leefstyl volg. Soos ek gesê het is dit geen maklike taak nie. Jou vordering gaan van jouself afhang. Ek is al jare hiermee besig en selfs ek vaal nog steeds van tyd tot tyd, maar soos ek gesê het. Die poging tel baie meer as wat ons dink, want net jou poging is klaar ‘n stap tot heiligmaking!

Deel van die Heiligmaking proses is om die Heilige Gees te laat werk in jou lewe. Paulus sê in 1 Korintiërs 1:30 “Maar deur Hom is julle in Christus Jesus, wat vir ons geword het wysheid uit God en geregtigheid en heiligmaking en verlossing.” Op jou eie gaan jy nooit in der ewigheid heilig kan wees nie. Jy gaan jou lewe moet oorgee in die Hande van die HERE sodat Hy dit kan bestuur volgens Sy volmaakte wil. Jesus sê in Johannes 15:4-5 [4] Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie. [5] Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie.” Die enigste pad tot heiligmaking is saam met Jesus!

Om jou kruis op te neem en die HERE te volg sonder om te kla is die volgende stap van Heiligmaking. Julle moet verstaan dat jy gaan val, maar jy val nie altyd deur jou eie swakheid nie. Jy val partykeer omdat die HERE dit toelaat. Jy val omdat jy vir iemand anders help dra aan sy kruis. Jy dra dan as te ware twee kruise. Ek kan nie begin om vir julle te sê hoe baie keer dit al met my gebeur het nie. In die begin het ek dit glad nie verstaan nie en het ek briesend kwaad geword omdat ek so swak was en aanhou val het. Maar die HERE het my daardeur geleer hoe om geduldig te wees en te weet dat Hy ‘n plan het, selfs al sien ek dit nie altyd so nie. Ek het geleer om die HERE te vertrou met alles in my lewe!

Wat ek nie besef het nie, was dat die HERE baie keer iemand anders se las verlig sodat daardie persoon weer krag kan kry om aan te kan gaan. Op stadium soos daardie, word daardie persoon se kruis vir iemand anders gegee om te help dra, maar dis net tydelik. As dit met jou gebeur gaan jy sien dat dinge somer baie skeef begin loop vir jou. Wees bly as dit met jou gebeur en prys die HERE daarvoor wat dit leer jou om jou naaste lief te hê, wat my by die volgende stap bring.

Wees lief vir jou naaste, ongeag wie hulle is en wat hulle doen. Ek stem saam, dis ‘n moeilike een om te leer… Ek het baie lank hiermee gesukkel, maar vandag maak dit seer as ek hoor hoe mense mekaar afkraak net omdat hulle van velkleur verskil. Is ons dan nie almal maaksels van dieselfde HERE nie? Bloei ons nie almal rooi nie? Asem ons nie almal suurstof in nie? Ek praat nie die verkeerde dinge wat mense doen reg nie. Ek praat daarvan om mense te oordeel voor ons hulle ken en dit haat die HERE. Die reg om te oordeel kom ons nie toe nie.

Soos julle kan sien, is die pad na Heiligmaking ‘n moeilike pad om te loop. OP jou eie en sonder Jesus gaan jy dit nooit kan regkry nie. Salomo het gesê dat om die HERE te vrees is die begin van wysheid is! As jy dus ‘n heilige leefstyl wil volg, vra die HERE om jou te help. Die HERE sal op Sy beurt alles in Sy vermoë doen om jou by te staan om jou op daardie “gelukkige plek” te kry. Ek noem dit doelbewus ‘n “gelukkige plek”, want dis ‘n plek waar jy kan rus met ‘n suiwer gewete. ‘n Plek waar jy besef dat die HERE vir jou lief bly selfs al struikel jy. ‘n Plek waar jy weet dat vergifnis altyd beskikbaar is.

Ongelukkig is dit so dat die meeste halfpad ophou omdat die pad so moeilik is om te loop. As jy dus hierdie pad wil loop, wees bereid om die hele pad te loop. Niks is so mooi as iemand wat bereid is om sy kruis op te neem sonder om te kla en heilig te lewe nie. Die eindresultaat is ‘n skoon gewete wat nie ontstel word deur sonde nie.

Ek gaan afsluit met ‘n gedig wat iemand eenslag vir my gestuur het. Dit was in Engels, maar ek het dit so treffend gevind, dat ek dit vertaal het na Afrikaans vir julle.

Ons is Christene. Ons struikel en ons val en ons bly alewig op die verkeerde pad. Maar God werk in ons. My lewe was miskien in my oë een groot gemors wees, maar ek is God se gemors en Hy is besig om hierdie gemors uit te sorteer! Die dag gaan kom wat ek aan die Here se sy sal staan; Sy werk in my volbring! Tot daardie dag kom, sal ek Sy hand in myne vat en Hom toe laat om te doen wat gedoen moet word, maak nie saak hoe pynlik dit vir my mag wees nie, want ek weet dat as Hy klaar is, dit alles die moeite werd sal wees!

Prys die Naam van Jesus!

(Visited 448 times, 1 visits today)