Jesus, maak ons oë oop sodat ons die pad wat ons op is duidelik sal sien. Bewaar en seën ons en lei ons tot die ewige lewe. Amen!
Hoe baie keer gebeur dit dat ons iets het, maar dan wil die HERE nie toelaat dat ons die beter item kry nie? Kom ons sê jy het hierdie blou trui, maar blou is nie regtig jou kleur nie. Die blou trui werk en dit hou jou warm, maar jy sou eerder ‘n rooi trui verkies het. So gaan jy op Internet en begin jy soek.
Terwyl jy soek, kom jy op ‘n webruimte af met ‘n storie oor ‘n ma beer wie se kleintjies amper verdrink het toe hulle oorgeswem het na ‘n eiland in die middel van die dam. Dis egter een van hierdie webruimtes waar jy vier reëls lees en dan gebombardeer word met advertensies oor alles waarna jy al op Internet gesoek het. Die gevolg is dat jy deur 20 bladsye moet werk net om uit te vind of die klein beertjies dit gemaak het al die pad na die eiland. Die storie op elke bladsy van die webruimte is net genoeg om jou nuuskierig te hou sodat jy na die tien talle advertensies sal kyk.
Soos verwag kan word, sien jy die perfekte rooi trui wat jy so graag sal wil hê op elke bladsy soos jy lees. Die ergste is dat dit presies die regte tipe rooi is waarna jy al so lank soek! Jy staar in ongeloof, want jy het jou voete al deur geloop in winkels opsoek na daardie spesifieke rooi, maar jy kon dit nêrens kry nie en hier sit dit reg voor jou!
Jy kliek op die advertensies wetend dat dit ‘n uitnodiging is vir moeilikheid. Ek gaan tog maar net kyk; redeneer jy… Jy is mos sterk genoeg om die vinnig vloeiende water van temptasie te kan weerstaan as jy net kyk…
Die impuls om te koop is skielik daar en voor jy weet wat aangaan het jy die transaksie beklink. Jou gewete protesteer, maar jy probeer dit sus met die feit dat jy nou iets het wat jy graag wil hê en wat boonop beter gaan lyk as die blou trui wat nou al vol vuil kolle, honde en kat hare is. Dis waar dinge vir jou begin skeef loop, want jy het die deur vir satan oopgemaak. Daar is skielik uitgawes wat jy nie voor beplan het nie en dan besef jy dat jy in ‘n strik getrap het!
Liewe lesers, moet niks doen as jy in jou gees voel dat dit nie reg is nie. Die HERE het tien teen een iets beter vir jou ingedagte en nou wil satan jou gedagtes aflei deur vir jou iets te laat koop wat miskien mooi lyk, maar geheel en al minderwaardig is of hopeloos te duur is.
Satan se demone staan in rye en wag vir so ‘n geleentheid; vir jou om die deur van selfsugtigheid oop te maak. Maar dis nie die demone se skuld nie. Dis jou vlees en jou selfsugtigheid wat ingegee het en al wat satan gedoen het, was om jou die res van die pad te ry soos ‘n resiesperd!
Dis kere soos dit wat ‘n mens sien net hoeveel geld en tyd ons mors op nietighede. Dis dan dat jy die HERE hoor sê: “Sal dit nie wonderlik wees om vry te wees van hierdie gevoel om alles te wil hê net soos jy dit wil hê nie?”
Jy dink dan: “Wat ‘n plesier sal dit nie wees nie!”
Jy besef dan dat jy twee keuses het: jy kan stoei met die kleinlike en dinge kry net soos jy dit wel hê of jy kan die klein dingetjies ignoreer en konsentreer op die ware betekenis van geluk en vrede in jou lewe.
Hoe meer jy jou sin kry, hoe meer word jy vasgevang in ‘n web van doellose passie. Intussen is die lewe besig om voor jou oë verby te gaan hoe verder jy met die rivier van temptasie af vloei. Uiteindelik beland jy in ‘n diep donker vallei waar jy oorstroom word deur die modder van die lewe terwyl jou drome hoog bo in die berge is.
Liewe lesers, satan het die perfekte slagysters vir elke geleentheid denkbaar! Hierdie slagysters word deur demone bestuur wat jou gedurig aanjaag om te kyk of jy nie in die slaggat wil trap en jou sover kry om tyd te mors op nuttelose dinge nie. Al wat jy werklik hoef te gedoen het, was om die HERE te dank dat jy ‘n blou trui het om aan te trek en dat Hy jou vry gemaak het van die wil om die rooi een te wil besit.
Voor jy dus uitvaar om jou eie sin te bevredig, vind eers uit wat die Heilige Gees daaroor te sê het. Onthou daardie ou spreekwoord: Die vere maak nie die voël nie; die voël maak nie die vere! Dit wat werklik saak maak in die lewe is aan die binnekant; nie die buitekant nie. Satan se plan is baie eenvoudig; om jou ewigheid te steel!
Daarom, bid en vind uit of dit wat jy wil doen in lyn is met die Wil van die HERE voor jy enige iets doen.
Prys die Naam van Jesus!