Ek is tot alles in staat

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Die HERE kan mense se lewens verander; baie keer voor hulle oë as hulle net bereid is om te luister na die Gees van die HERE.

Die HERE praat gedurig met ons, maar die geraas van hierdie wêreld in die vorm van bekommernisse en dringende wêreldse dinge wat gedoen moet word, maak dat ons die stem van die HERE nie hoor nie.

Ek en my vrou het op geleentheid gaan koffie drink by ‘n koffie winkel. Dis ‘n plekkie wat ons gereeld besoek en ons ken die eienares van al die kere wat ons al daar was. Skaars was ons hierdie keer daar, of sy het begin om ons te vertel hoe die Here met haar gepraat het om iets vir die mense van die ouetehuis te doen. Eers het sy die gevoel afgeskud as niksseggend, maar die gevoel het knaend daar gebly. Sy het die bestuur van die ouetehuis gaan sien om uit te vind of haar besigheid nie iets vir die oumense kan doen nie. Uit die aard van die saak het hulle die geleentheid aangegryp. Eers het sy gedink dat sy sommer uit haar eie sak iets sal maak, maar toe sy begin navraag doen oor skenkings, het die skenkings eenvoudig ingestroom! Die dag van die ete het die tafels gekreun onder die gewig van die kos; so baie was daar! So baie het oorgebly dat hulle later vir die oumense saam weggegee het! Nodeloos om te sê, die dag was ‘n skreeuende sukses!

Hierdie laat my so dink aan die gelykenis van die seuntjie met die twee vissies en die vyf brode in Markus 6: [32] En hulle het met die skuit vertrek na ’n verlate plek in die eensaamheid. [33] En die skare het hulle sien weggaan, en baie het Hom herken en te voet van al die stede af daar saamgestroom en voor hulle uit gegaan en by Hom vergader. [34] En toe Jesus uitklim, sien Hy ’n groot menigte, en Hy het vir hulle innig jammer gevoel, omdat hulle soos skape sonder herder was; en Hy het hulle baie dinge begin leer. [35] En toe dit reeds laat geword het, kom sy dissipels na Hom en sê: Die plek is verlate en dit is reeds laat. [36] Stuur hulle weg, sodat hulle na die buitewyke en dorpe rondom kan gaan om brood vir hulleself te koop, want hulle het niks om te eet nie. [37] Maar Hy antwoord en sê vir hulle: Gee julle aan hulle iets om te eet. En hulle sê vir Hom: Moet ons gaan en vir tweehonderd pennings brood koop en aan hulle gee om te eet? [38] En Hy sê vir hulle: Hoeveel brode het julle? Gaan kyk. En toe hulle dit te wete gekom het, sê hulle: Vyf, en twee visse. [39] En Hy het hulle beveel om almal klompies-klompies op die groen gras te laat sit. [40] En hulle het gaan sit in groepe van honderd en van vyftig. [41] Hy neem toe die vyf brode en die twee visse, kyk op na die hemel en dank; en Hy breek die brode en gee dit aan sy dissipels om dit aan hulle voor te sit. Ook die twee visse het Hy onder almal verdeel. [42] En almal het geëet en versadig geword; [43] en hulle het van die brokstukke twaalf mandjies vol opgetel, en van die visse. [44] En die wat van die brood geëet het, was omtrent vyfduisend manne.”

Julle weet, as die Here vir jou iets op die hart lê om te doen, doen dit, maak nie saak hoe dom dit klink nie. Dit wat die vrou vir die oumense gedoen het, het haar niks gekos nie. Sy was bereid om geld uit haar sak te spandeer, maar God wou dit nie hê nie. Hy wou in die vrou se lewe en oral waar hierdie getuienis gelewer word, bewys dat Hy nog steeds God is en dat niks vir Hom onmoontlik is om te doen nie.

Ek weet dat baie van julle wonder wat my dan so spesiaal maak dat God sulke groot goed deur my wil doen. Die antwoord is om net bereid te wees, maar ons raak bang as ons sien hoe groot die golwe is. Ons begin dan wonder of ons die regte ding doen; wat gaan my vriende sê; hoe gaan die mense reageer; wat as hulle my uitlag? Dan los ons wat ons wou doen net daar en satan wen!

Onthou Filippense 4:23 die week: “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.” Vertrou op Jesus! Hy sal jou nooit in die steek laat nie!

Prys die Naam van Jesus!

(Visited 125 times, 1 visits today)