Die tong wat op groot dinge roem

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Jakobus skryf aan die gemeente in Jakobus 3 oor die tong en hoe magtig daardie klein lid van die liggaam is…

Ons almal struikel in woorde; die een wat nie in woorde struikel nie is volmaak en ook in staat om die hele liggaam in toom te kan hou. Ek kan nie en dis nou maar wors! Ek probeer, maar soms vaal ek ook maar misrabel hierin, so moenie sleg voel as julle ook in julle woorde struikel nie.

Hierdie tonge van ons laat ons baie keer in groot moeilikheid beland. Die tong is een van die kleinste lede van die liggaam, maar dit steek ‘n baie groot vuur aan die brand. Vure wat vir dekades lank brand en moeilik is om te blus. Ek praat natuurlik van familie twiste wat soms van een geslag na die ander oorgedra word en so bly ons kwaad vir mekaar maar die rede daarvoor is lank reeds vergeet!

Niemand kan die tong beheer nie. Ons beheer die diere en hulle doen ons wil. Ons stuur magtige skepe en ons vlieg groot vliegtuie, tog is die gedeelte wat daardie groot stuk masjinerie beheer baie klein. Iemand het eenslag van ‘n motor renjaer gesê dat sy motor die vinnigste in die wêreld was, maar dat sy tong nog vinniger was!

Jakobus skryf dat die tong net soos ‘n vuurhoutjie is wat ‘n groot klomp hout aan die brand kan steek. Dis die vuur van ongeregtigheid wat die hele liggaam besmet en dit word vanuit die hel aangesteek. Die tong is ‘n beker vol dodelike gif en onbedwingbare kwaad, want met die tong wat ons God en Sy Skepping mee loof, vervloek ons ons medemens en dit hoort nie so te wees nie.

Wat kan ons daaraan doen? Ek het eenslag die volgende kennisgewing teen iemand se muur opgeplak gesien: “Put brain in gear before engaging mouth.” Dis die beste raad wat ek nog ooit gelees het, want deur net eers te dink oor wat jy gaan sê voor jy dit sê, maak die wêreldse verskil! In Jakobus 1:19 lees ons die volgende vers wat op presies dieselfde neerkom: “So dan, my geliefde broeders, elke mens moet gou wees om te hoor, stadig om te praat, stadig om toornig te word.”

Julle weet, ons almal struikel. Ja, ek ook, maar dis nie hoe ons struikel wat saak maak nie, maar wat ons daarna doen wat tel. Liewe lesers, ons tyd op hierdie aarde is amper om en dit verbaas my hoeveel mense daarbuite rondloop met wrokke in hulle harte. Om die ewigheid in te gaan met so ‘n groot klomp bagasie gaan baie uitputtend wees en dis waarom die Heilige Gees my wys dat ons aan hierdie bagasie ontslae moet raak en gaan onverskoning vra. Dit maak nie saak of jou verskoning aanvaar word of nie. Wat saak maak is dat jy verskoning gevra het en nou is jou kant van die saak skoon. Ek weet dat om verskoning te vra nie maklik is nie, maar as dit is wat nodig is, dan is dit nodig en moet dit gedoen word.

Dan is daar van julle wat vergewe het, maar nog nie vergeet het nie… Ek weet dat dit moeilik is. Jesus het die mense met wie jy elke dag werk daar gesit as deel van jou opleiding om jou gereed te kry vir die ewigheid. Jesus het toegelaat dat hulle jou met die tong slaan, jou vals beskuldig en jou sleg sê. Alles is deel van jou opleiding. As jy dan nou wil kwaad wees daaroor, wees dat kwaad vir Jesus, want Hy is die een wat dit toegelaat het. Voor jy egter te kwaad raak, kyk net eers terug oor wat jy uit die ondervinding geleer het. Mense het my ook al net so sleg behandel, maar ek het baie uit elke ondervinding geleer en ek is vandag seker dat hulle ook daaruit geleer het.

Om wrokke soos dit saam met jou te dra is nie gesond nie, want dit groei in jou en dit vergiftig jou hele liggaam. Iemand het eenslag gesê dat die enigste bitterheid in ons lewes dit moet wees wat ons met die tong kan proe. Ons smaak is aan ons gegee om vir ons te leer, te wys, wat Goed en Bitterheid – Soet en Sleg – in ons lewe aan ons siel, gees en liggaam doen. Ons gees moet dieselfde weersin in bitterheid ervaar – soos ons tong dit ervaar. Daarin, lê ‘n groot les…

Prys die Naam van Jesus!

(Visited 151 times, 1 visits today)
Tagged , , , , , , .