Die geleerdes sê dat die Aarde tot nou toe ongeveer ses duisend jaar oud is vandat God die mens geskape het.
Dis ses duisend jaar van geskiedenis; ses duisend jaar van konings, profete en beloftes; ses duisend jaar van wonderwerke, herlewings en rebellie en regdeur alles het God die wêreld dop gehou en regdeur al hierdie geskiedenis het Hy besluit wanneer elke siel hierdie tydlyn binne sal gaan deur gebore te word. Hy het Abraham gekies om die stamvader van Israel te word, Moses om die Israeliete uit Egipte te lei, Hy het David gekies om vir Goliat te verslaan. Hy het die apostels uitgekies vir die koms van Jesus op Aarde, maar nou het Hy elkeen van ons gekies om in hierdie tyd gebore te word, om nou hier te wees op hierdie oomblik in die geskiedenis.
Maar waarom nou, waarom nie Elia nie, of die profete nie of selfs Paulus nie? Waarom het God ons gespaar om in die laaste hoofstuk hier op aarde te wees? Die antwoord kry ons in Efesiërs 2:4-7 “[4] Maar God, wat ryk is in barmhartigheid, het ons deur sy grote liefde waarmee Hy ons liefgehad het, [5] ook toe ons dood was deur die misdade, lewend gemaak saam met Christus—uit genade is julle gered— [6] en saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus, [7] sodat Hy in die eeue wat kom, kan betoon die uitnemende rykdom van sy genade in goedertierenheid oor ons in Christus Jesus.”
Hierdie sê vir my dat ons wat nou lewe gekies is om hierdie finale meesterstuk van God se plan persoonlik te beleef. Om te skyn vir Christus in ‘n wêreld wat besig is om koud en donker te raak en om ‘n getuie te wees vir God se genade oor ‘n wêreld wat in donkerte verdrink. Om die waarheid te spreek in ‘n tyd waar leuens al hoe harder word en om uit te hou; nie omdat ons self sterk is nie, maar omdat God sterk is deur ons. AMEN!
In Handelinge 17:26 lees ons “En Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het.” Dit beteken dat God nie geraai het toe Hy besluit het wie op watter tyd gebore sou word nie. Hy het presies geweet en Hy het beplan vir jou om nou in hierdie tyd te leef!
Nog voor die fondasie van hierdie wêreld gelê is en voor Genesis 1:1 het God al geweet in watter tyd elkeen van ons sal leef! Hy het jou gesig gesien en bepaal dat jy die een is wat nou in hierdie tyd sal leef. Hy het geweet watter las jy gaan dra en die toetse wat vir jou uitgelê is. Hy het geweet wie jou teenstanders sal wees en Hy het geweet hoe moeilik dit vir jou sal wees om die geloof te behou. Selfs al beskou die wêreld die geloof as malligheid en wensdenkery, het God besluit dat jy die een gaan wees om jou lig te in die laaste dae te laat skyn. Jy is nie laat gebore nie; jy is presies op tyd gebore! God se perfekte tyd!
Toe Jesus aan Sy dissipels in Mattheus 24 beskryf het hoe die laaste dae gaan lyk; die leuens, die verleiding en die oorloë; het Hy jou ingedagte gehad en Hy het geweet dat Jy die een sal wees om Sy Naam hoog te hou ten spyte van die weerstand; dat jy jou lamp aan die brand sal hou selfs al doof die rondom jou se lampe uit! Hy kon enige iemand gekies het, maar God het jou gekies! Nie omdat jy sterk is nie, maar omdat dit jou doel is. Dit beteken dat jou lewe nie net nog ‘n lewe is nie; jou versoekinge is nie doelloos is nie en jou geveg teen satan gaan nie ongesiens verby nie.
Ons leef sekerlik in die mees profetiese tyd sedert die geboorte van Christus en dis nie iets om te vrees nie, maar om te eer. Wat ‘n voorreg is dit nie om deur God vertrou te word om ‘n rol te kan speel in hierdie finale hoofstuk van die Bedeling van Genade nie! Wat ‘n eer is dit nie om God se Naam te kan dra in hierdie tyd nie en om te dink dat God aan elkeen van ons gedink het voor tyd begin het!
God het geglo dat jy hierdie resies kan hardloop en dit volbring; dat jy deur Hom sterk genoeg sou wees om te kan oorwin! Hierdie is nie net die einde nie, maar die volbringing van God se Woord. Die tyd loop al hoe vinniger en vinniger uit en jy was gekies om in hierdie tyd hier te wees om dit te help volbring! Wat ‘n eer is dit nie?
Moet dus nie moed verloor nie! Jy oorleef nie net nie; jy was met die hand gekies om nou te lewe! Jy was in die hart van God nog altyd deel van die plan en nou is dit ons tyd! Ons tyd om te skyn vir Jesus! Dis ons doel! So skyn vir Jesus met ‘n helder lig en hou moed dat alles wat jy deurgaan deur God gesien word en dat niks wat nou met jou gebeur doelloos is nie!
Mag die HERE hierdie boodskap aan julle harte seën!
