Iemand het eenslag hierdie storie vir my vertel en vandag het die Gees vir my gewys net hoe van pas hierdie storie vandag is.
Daar was ‘n swaeltjie wat een jaar besluit het om nie saam met die ander voëltjies noord te vlieg vir die winter nie. Die pad was lank en vreeslik uitputtend. Waarom al hierdie moeite doen as hy dan alles hier het wat hy nodig het?
In die begin was dit nie so erg nie en was daar redelik genoeg kos en water om van te lewe, maar toe die bome se blare begin afval en die eerste sneeu val, het die swaeltjie geweet dat om hier te bly nie so ‘n goeie idee was nie. Hy het probeer om die beste van ‘n slegte saak te maak vir ‘n rukkie langer, maar dinge het al hoe erger geword tot hy moed opgegee het en die groot trek na die noorde begin het op sy eie.
Skaars het hy op sy reis begin of hy beland in ‘n vreeslike sneeu storm… Die temperatuur het so gedaal dat sy vlerkies gevries het en hy grond toe geval het. Daar het die swaeltjie op die grond gelê, koud en halfpad verkluim. Mettertyd het ‘n koei daar verbygekom en die swaeltjie gesien. Die koei het omgedraai en ‘n groot hoop warm mis op die swaeltjie uit gemis.
Vir die arme swaeltjie kon dinge nie erger nie, want hier het hy koud en halfpad verkluim gelê en nou het hierdie koei sowaar die mees onmenslikste ding denkbaar gedoen deur op hom te mis! Skaars het die swaeltjie gedink hoe onregverdig die lewe is, toe hy agterkom dat sy vlerkies nou skielik weer kan beweeg! Die hitte van die mis het die koue weggevat en hy kry nou weer vir die eerste keer in ‘n baie lang tyd warm! Hy was skielik so bly, dat hy begin het om te sing oor die situasie wat so vinnig verander het.
‘n Kat wat daar naby verbygeloop het, het die swaeltjie hoor sing en besluit om te kom kyk wat aangaan. Hy het die swaeltjie versigtig uit die mis uitgekrap en dit opgevreet! Wat is die les wat ons hieruit leer? Dat nie almal wat jou in die moeilikheid laat beland altyd jou vyand is nie en dat nie almal wat jou uit die moeilikheid help, altyd jou vriend is nie.
Jesus werk met ons op presies dieselfde manier. Hy laat toe dat ons ons eie ding doen, maar dan stuur Hy omstandighede ons pad om ons roete te verander sodat ons nie soos die swaeltjie met die kat wat satan is deurmekaar hoe te raak nie.
Sommige van hierdie lesse is hard om te leer en soms kos dit groot inspanning van ons kant af om dit te laat werk. Maar deur alles is Jesus altyd by ons. Hy sien en hoor alles wat met ons gebeur en julle kan maar weet dat Hy notas vat!
Net soos die swaeltjie skop ons ook baie keer teen die prikkels van verandering in ons lewens. Ons weet wat ons moet doen, maar ons doen dit nie en so beland ons baie keer in meer moeilikheid as wat nodig is, net omdat ons nie wil luister na die leiding van die Gees in ons lewens nie. Daardie eie ek in ons lewens is baie keer die ons grootste vyand.
Om Jesus en die Gees in ons lewens te laat seëvier gaan beteken dat ons eers daardie eie ek uit die vergelyking uit gaan moet vat en dit te vervang met die Wil van die Gees sodat die Gees jou kan lei soos Hy wil.
Net soos met die swaeltjie is ‘n verandering soos dit nie maklik om te aanvaar nie, maar dit is die beste vir ons. Met Jesus in beheer van jou lewe kan jy alles in Sy hande los en jy kan weet dat niks met jou sal gebeur sonder die uitdruklike toestemming van God die Vader nie. Jesus belowe in Sy Woord dat dit so sal wees en daarom kan jy maar pyl trek daarop!
Mag die HERE hierdie boodskap seën!