Vandag gaan ek met julle stil staan by die boek van Job. Ons almal ken sekerlik gedeeltes van die verhaal.
Die verhaal begin in die Hemel met satan wat die Here uitdaag en sê dat Job so Godvresend is omdat die Here vir hom alles gegee het, want Job was ‘n baie ryk man. Satan het gesê dat as God se besittings wegvat, hy God sal vloek. Die Here het toegelaat dat satan Job se besittings wegvat. Eerstens het al sy vee gesteel, daarna is al sy werkers doodgemaak en laastens het ‘n sterk wind die huis waarin sy seuns en dogters was omgewaai sodat hulle omgekom het. Job het op die grond geval toe hy die nuus hoor, maar hy het God nie gevloek nie. In plaas daarvan het hy gesê dat hy naak in die wêreld ingekom het en weer naak daaruit sal gaan. Die Here gee en die Here neem!
Weer het satan hom voor God gestel, maar die keer het hy gesê dat enige iemand al sy besittings sal gee vir sy lewe. Maar as die Here hom siek sal maak, dan sal hy God vloek. Weer het die Here toegelaat dat satan Job aanval, maar hy mag nie sy lewe neem nie. Job het bose swere oor sy hele lyf gekry; van sy kop tot by sy voetsole. Hy het sy sere met ‘n potskerf op ‘n ashoop gekerf terwyl sy vrou vir hom sê dat hy God moet vloek en eerder sterwe as om so aan te gaan. Sy antwoord aan haar was dat sy soos ‘n dwaas praat!
Die verhaal gaan voort waar Job sy geboorte dag vervloek en sy vriende kom om saam met hom te wees. Telkemale redeneer sy vriende met hom oor sy toestand en probeer hulle ‘n oorsaak soek waarom die Here sal toelaat dat Job so versoek word. Job het selfs met God geredeneer en getwis oor sy toestand, maar niks gebeur nie. Deur dit alles, waar mense selfs vir Job gelag het oor sy toestand, het Job geweier om God te vloek!
In hoofstuk 38 antwoord God vir Job uit ‘n storm uit en vra waar hy (Job) was toe die Here die aarde en alles wat daarop is gemaak het? God het Job herinner daaraan dat hy net ‘n mens is en geen mag het oor enige iets nie, tog wil hy wat Job is vir God onderrig? God maak die reëls en ons as mense is onderworpe daaraan, maar self hoef God nie by die reëls te hou nie! Job het bely dat hy verkeerd was, homself in God se hande geplaas en gevra dat God hom moet leer.
Die verhaal van Job eindig waar ons sien dat Job meer geseën was as sy begin. Die Here te teruggegee alles wat satan weggevat het, met rente!
Hoe van toepassing is hierdie nie op ons lewens van vandag nie? Hoe baie van ons kan deur ‘n beproewing soos die gaan soos Job gedoen het? As kinders van die Here loof ons God as dinge goed gaan, maar sodra die slegte ons tref, dan rebelleer ons teen die Here en wil ons weet waarom hierdie dinge met ons gebeur! Hoe dwaas kan ons nie optree nie!
God maak die reëls, maar Hy hoef nie by die reëls te hou nie, tog doen Hy dit om ons ontwil! Die Here is vir ons oneindig baie lief. Hy toets ons, nie om ons af te breek nie, maar om van ons beter mense te maak. Bid die Here vir wysheid om te kan verstaan. Stel jouself gedurig onder God se hand. Laat toe dat die Here jou lei en jy sal verbaas wees hoe voorspoedig dit met jou kan gaan!
Mag die Here hierdie boodskap seën!