Jy kry mos daardie dae waar alles eenvoudig net verkeerd loop. Maak nie saak wat jy doen nie, niks wil net reg loop nie!
Mens raak dan later so moedeloos dat jy net wil opgee en soos Job op ‘n ashoop gaan sit en soos Jeremia klaagliedere tot die Here sing! Dan wonder ons waarom die Here ons so toets en of ons nie dalk iets verkeerd gedoen het nie!
Die antwoord is nee; jy het nie altyd iets verkeerd gedoen nie. Nêrens in die Bybel belowe die Here vir ons ‘n lewe van gemak as ons besluit dat ons Hom wil volg en ‘n Christen wil wees nie! Die Here belowe wel vir ons ‘n lewe van oorvloed, maar nie in terme van geld soos baie dit graag sal wil h nie.
Die Here sê ook in sy Woord dat hy die wat hy liefhet tugtig! Die doel is nie om ons te verkleineer nie, maar om ons beter en sterker Christene te maak! Kyk maar na ‘n atleet as voorbeeld. Hy kasty sy liggaam op allerhande maniere om homself beter, sterker en vinniger te maak. Net so doen die Here met ons. Hy kasty ons om ons beter, sterker en vinniger te maak.
Baie reageer deur te dink dat as die slegte dinge gebeur, hulle vir die Here ‘n mislukking is. Honderd-en-vyftig-biljoen keer nee! Jy is nie ‘n mislukking nie. Nie eers naastenby nie. Moenie dat satan jou gedagtes manipuleer nie!
Daar is egter ook gevalle waar ons as Christene doelbewus moeilikheid soek en as slegte dinge gebeur, dan wil ons God blameer as dinge verkeerd loop… Onthou dat die Here ‘n groot voorstander is van verantwoordelikheid. Dit is God se Wil dat ons as Christene verantwoordelik moet optree! As jy dus te vinnig met jou motor ry en jy kry ‘n spoed kaartjie as gevolg daarvan, dan is dit nie die Here se skuld nie. Die Here laat toe dat hierdie dinge oor jou pad kom om jou te wys op die nutteloosheid van jou aksies en die moontlike gevolge wat dit vir jou en ander kan inhou.
In die ou dae as ek as kind iets verkeerd gedoen het of moedswillig opgetree het, dan het my pa my sommer net daar en dan ‘n raps oor die agterwêreld gegee. Hy het dit nie gedoen om my te mishandel nie, maar om my aandag daarop te vestig dat ek moet oplet wat ek doen en dat hierdie optrede van my tot niks goed kan uitloop nie. Die Here doen dieselfde met ons as Sy kinders. Ons kry partykeer sulke rapse om ons te wys op die nutteloosheid van ons besluite en om te verseker dat verandering plaasvind!
Onthou: die lewe is soos een groot legkaart. As ek vir u een stukkie van ‘n legkaart gee en vra dat u vir my moet sê hoe die hele prentjie lyk, gaan u vir my antwoord dat dit onmoontlik is. U gaan natuurlik heeltemal reg wees! As ons egter daardie een stukkie vat en insit tussen al die ander stukkies, dan sien ons gewoonlik waarom daardie stukkie nodig was en waar hy in die geheel inpas. Net so is die lewe ook. As iets sleg in die lewe gebeur, dan staar ons onsself so blind teen daardie een stukkie sodat ons glad nie die groter prentjie sien nie. Ons blameer dan vir God! Dit het al baie met my gebeur!
Staan egter terug en laat die Here toe om vir jou te wys waar daardie stukkie inpas en kyk dan! Dis dan wanneer jy sien dat daardie toets ‘n doel gehad het. Van my kragtigste getuienisse van wat Jesus vir my gedoen het sou ek nooit gehad het as ek nie deur die toetse wat ek gegaan het, gegaan het nie! Prys die Here vir die slegte dinge wat met my gebeur het, want vandag kan ek getuig daar een waaragtige lewende God is wat regeer! AMEN!
Wanneer alles net verkeerd loop en u ‘n krisis op hande het, onthou Jesus se woorde aan sy dissipels die aand net voor sy kruisiging in Johannes 14:1: “LAAT julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My.” Psalm 62:9 som dit vir my die beste op: “Vertrou op Hom altyd, o volk! Stort julle hart uit voor sy aangesig! God is ’n toevlug vir ons.”
Ek wil afsluit met Paulus se woorde in 1 Korintiërs 13:12: “Want nou sien ons deur ’n spieël in ’n raaisel, maar eendag van aangesig tot aangesig. Nou ken ek ten dele, maar eendag sal ek ten volle ken, net soos ek ten volle geken is.”
Mag die Here hierdie boodskap seën!