Hoe satan ons tekortkoming teen ons gebruik

Dis skrikwekkend om te sien hoeveel mag ons vir satan oor ons lewens kan gee… Die egste is dat baie van ons dit nie eers agterkom nie!

So ‘n tyd gelede was daar die verhaal in die media oor ‘n vrou wat selfmoord gepleeg het oor ‘n geslagsveranderings operasie wat nie uitgewerk het nie. Aanvanklik het ek gedink dat dit net ‘n geïsoleerde geval was totdat ek verder gelees het en agtergekom het hoeveelheid mense sulke operasies laat doen en dit dan later weer terug laat verander omdat hulle nie tevrede is met die resultate nie. Daar is tot ‘n webruimte op Internet wat opgedra is aan mense wat spyt is oor wat hulle gedoen het!

In die verhaal van die vrou, wou haar ouers haar as kind nie hê nie. Sy het gedink dat as sy ‘n man was, alles reg sou uitwerk en sy die aanvaarding kry wat sy so na smag. Ongelukkig het dit nie gebeur nie…

Wat satan nie vir jou vertel nie, is dat behalwe vir voortplanting,  enige iemand se geslag groot en deels irrelevant is! Die feit dan jy ‘n man of ‘n vrou is beteken nie dat jy enigsins beter of slegter daaraan toe is nie. Vrouens is biologies beter toegerus op oorlewing as mans, maar dis hoe God dit bedoel het. Dis om die vrou toe te rus om haar kinders te kan grootmaak en te kan beskerm teen gevaar. Mans is weer fisies sterker en meer aggressief omdat dit vir hulle nodig is om gevare te kan afweer met hulle hande. Beide geslagte kan op hulle eie funksioneer, maar sit die twee bymekaar en jy vorm ‘n band wat bitter moeilik is om te breek, want waar die man te kort skiet, vul die vrou aan en andersom!

Dit alles het my laat dink hoe baie mense daar in die wêreld is wat luister na satan en hulleself dan laat vermink in die proses! Ek vat nou alle veranderinge wat jy aan jou liggaam kan maak as ‘n geheel saam; van geslagsverandering tot bors inplantings en so meer. Julle weet, daar is net een persoon wat liggaamsdele perfek kan maak en dit is die Here. Gaan gesels gerus met mense wat hierdie veranderinge gemaak het en jy sal verbaas wees hoe baie mense agterna spyt is oor dit wat hulle gedoen het.

Satan sal vir jou op ‘n baie subtiele manier vertel dat jy op een of ander manier beter daartoe sal wees as jy ‘n man of ‘n vrou was. Of as jy reeds ‘n vrou is, jy op een of ander manier meer aantreklik sal wees as jou borste groter of kleiner was… Dis absolute LEUNS!

Liewe kind van God: onthou dat satan vir jou as mens niks voel nie. Hy stel net in een ding belang en dit is jou onsterflike siel. Satan weet dat hy die oorlog teen God nie kan wen nie. Hy weet ook wat sy uiteinde gaan wees, daarom probeer hy so veel moontlik siele saam met hom in die hel kry om sy straf saam met hom te deel! Satan haat die mens met ‘n haat wat nie beskryf kan word nie, want as mens is jy geskape na die ewebeeld van God. Satan was die mooiste engel in die Hemel en jy herinner hom aan alles wat hy nooit meer kan wees nie! Al wat hy dus wil hê is dat jy daardie tempel van God wat jou liggaam is, deur jou eie toedoen moet vernietig of vermink! Pasop vir hom, want hy vernietig deur leuens!

Liewe leser, moenie vir satan luister nie! Die Here het jou so gemaak met ‘n doel. Ons sien nie altyd die doel nie, maar daar is ‘n rede! Ek gaan afsluit met die volgende storie:

Daar was ‘n sekere man wat elke oggend en middag twee groot emmers water by ‘n rivier gaan haal het vir sy huis. Hy het die emmers oor ‘n juk gehang en die juk dan op sy skouers geplaas voor hy begin loop het. By die rivier het hy die emmers volgemaak, hulle weer aan die juk gehang en dan die juk weer op sy skouers geplaas. Die emmer aan die regter kant het ‘n klein gaatjie ingehad en sovêr die man geloop het, het die emmer gelek. As die man by die huis gekom het, was die emmer aan die regterkant net half vol. Natuurlik was die emmer baie selfbewus oor sy tekortkoming en eendag het hy by die man gaan kla daaroor. Die man het die emmer na buite gevat en gesê dat hy moet kyk na die kant van die pad waar die heel emmer hang. “Wat sien jy vra die man?” “Niks, behalwe vir sand nie,” antwoord die emmer. “Wat sien jy aan die kant waar jy hang?” ‘n Ry blomme het begin groei aan die kant wat die stukkende emmer hang as gevolg van die water wat elke dag uit hom gelek het. Die emmer het begryp dat daar niks aan die heel emmer se kant gegroei het nie, omdat daar nooit water daaruit gelek het nie, maar as gevolg van sy tekortkoming het die man mooi blomme om elke dag na te kyk as hy met die pad afloop om water te gaan haal.

So gaan dit in ons lewens ook. Ons wil graag perfek wees vir Jesus, net soos Hy perfek was. Ons sukkel om hierdie perfeksie na te streef en op die ou end raak ons gefrustreerd deur ons tekortkominge. Net soos met die emmer, sien ons nie die groter prentjie nie. Dit gaan nie oor die gaatjie in die emmer nie, maar oor die water binne in.

Ek het eendag vir die HERE gesê dat ek skaam voel oor al die tekortkominge in my lewe. Jesus antwoord toe dat as daardie tekortkominge nie daar was nie, waardeur sal My lig dan skyn?

Mag die Here hierdie boodskap seën!

(Visited 173 times, 1 visits today)
Tagged , , , , , .