Vandag wil ek vir julle ‘n storie vertel. Hierdie het werklik gebeur, maar die name van die persone gaan ek weerhou om hulle privaatheid te beskerm.
Daar was ‘n prediker gewees wat ‘n groot huis gehad het, maar nadat sy kinders almal groot geword het en dit later net hy en sy vrou was wat oorgebly het, het hy besluit om vir hom ‘n kleiner huisie te soek. Hy het gekry wat hy gesoek het deur ‘n vriend van hom, maar die huisie het baie werk nodig gehad. Van die mure moes oorgepleister word, elektriese bedrading moes vervang word, riool moes reggemaak word. In kort; die huisie het baie werk aan hom gehad, maar die prys was baie goedkoop.
Hy het nie omgegee oor die werk nie, want hy is iemand wat goed was met sy hande en hy het dit as ‘n uitdaging gesien om die huisie vir hulle op te kan knap. Hy was ook nog sterk genoeg om die meeste daarvan self te kon doen, maar vir die spesialis werk soos die elektriese bedrading, sou hy iemand met die nodige kennis moes inkry om te kom help. Hy het hard gewerk aan die plekkie; van soggens vroeg tot saans laat solank as wat die son geskyn het.
So het dit dan gebeur dat hy en ‘n elektrisiëns vriend van hom die dag in die huis besig was. Beide van hulle was christene en hulle het baie goed saamgewerk. Terwyl die leraar die mure gepleister het, het sy vriend in die dak van die gebou die bedrading uit gesorteer. Later het sy vriend uit die dak uitgeklim en besig begin raak by een van die kragproppe.
Iemand het aan die voordeur van die huisie geklop. Die leraar se vriend het opgestaan om te gaan kyk wie dit was. Hy het gesê dat die leraar moet aangaan omdat hy die naaste is om te kyk wie by die deur was. Die vriend het na die deur gestap en gaan oopmaak.
Die persoon by die deur het gevra of hy hulle telefoon kan gebruik! As mens nou daaraan dink… In vandag se lewe waar omtrent elke twee persoon ‘n selfoon het, wanneer laat het iemand na jou deur gekom en gevra of hy jou telefoon kan gebruik? Dis mos iets waarvan jy mos nie meer van hoor nie!
Ons leraar het tussen sy werkery probeer luister waaroor die gesprek gaan, maar hy kon nie alles hoor nie. Hy het wel gehoor hoe sy vriend vir die vreemdeling vra of hy ‘n Christen was. Die antwoord was nee, want hy vind die geloof bombasties en die mense onvriendelik. Dit was net wat die vriend wou hoor en daar spring hy toe weg!
Twee ure het verbygegaan. Die son het later al hoe laer gesak en die leraar was bekommerd dat hulle die werk wat hulle vir die dag uitgesit het, nie sou klaar kry nie. Hy weet niks van elektriese bedrading af nie, dus kon hy nie eers help nie! Sy deel van die werk wat hy vir die dag moes doen , was amper klaar gedoen, maar nog steeds het sy vriend en die vreemdeling gestaan en gesels; skynbaar onbewus van die tyd!
Hy het later gehoor hoe sy vriend die vreemdeling vra of hy wil kniel sodat hy vir hom kan bid en net daar en dan gee die vreemdeling sy hart vir die HERE! Toe hulle ‘n halfuur later opstaan was daar ‘n nuwe siel vir die HERE gewen!
Die vreemdeling vra toe wat hulle doen en die vriend verduidelik dat hy besig is om die huis se bedrading uit te sorteer. Die vreemdeling sê toe dat hy graag sal wil help, want hy is ‘n elektrisiën van beroep!
Julle sien; ons as mense raak so gou bekommerd as dinge nie loop soos ons dit wil hê nie. Ons skeep dan baie keer die HERE se werk af sodat ons meer tyd aan wêreldse dinge kan bestee. Tog, as ons eers sorg vir God se werk, dan sal God sorg vir die aardse werk!
Daarom liewe leser; as jy ooit ‘n keuse moet uitoefen tussen die HERE se werk en iets persoonlik wat jy moet doen, kies die HERE se werk eerste, want dan sal alles wat jy daarna doen meer voorspoedig wees!
Prys die Naam van Jesus!