Jesus, help ons om U wil in ons lewens te sien en help ons om te verstaan dat alles wat U doen, U dit uit liefde vir ons doen en nie om ons te straf nie. Amen!
Dis verbasend hoe baie mense aan Godsdiens dink as ‘n stel reëls wat gevolg moet word… ‘n Soort van doen dit of jy sal dit vir ewig berou. Dis eers as jy die HERE op ‘n persoonlike vlak leer ken dat jy besef dat daar baie meer in steek as wat dit op die oog af lyk!
Dis nie die HERE se wil dat enige een van ons verlore moet gaan nie. Dit maak nie saak hoe ver van die HERE af jy op hierdie oomblik is of hoe skaam jy voel oor dit wat jy gedoen het nie. Die HERE staan gereed om jou te vergewe! Al wat jy moet doen is vra; dis so maklik!
God het ons as mens gemaak, ongeag van jou nasionaliteit, die kleur van jou vel of jou geloof oortuiging. Dit breek God se hart as een van Sy kinders ‘n pad sonder Hom kies, want Hy wil vir almal van ons net die beste hê. God sal uit sy pad gaan en omstandighede in jou lewe gebruik om jou aandag te trek en om jou terug by Hom te kry! Dis waarom dit so belangrik is om te weet dat die Here baie verder af in die lewenspad af sien as ons en dis waarom baie van God se besluite nie onmiddellik vir ons sin maak nie, maar later dan verstaan ons waarom sekere dinge met ons gebeur het. Dan besef os dat alles wat die HERE doen of in ons lewens toelaat om te gebeur, Hy uit liefde doen!
God is ook ‘n God van orde en dis waarom daar reëls is. As God ‘n reël gemaak het, dan is Hy ook gebind aan daardie reël net soos ons. Anders as die reëls van die mens, is hierdie reëls nie oop vir interpretasie nie en kan die reëls ook nie gebuig word nie. Volg jy nie die reëls nie, dan moet jy die gevolg dra!
Die wegraping gaan wees soos die gelykenis van die tien maagde in Mattheus 25. Ons almal ken die storie. Net die helfte van die maagde was voorbereid en gereed vir die Bruidegom se koms. Die Bruidegom het egter nie gewag nie en het die wat gereed was saam met Hom geneem. Later het die wat nie reg was nie ook opgedaag en wat was die Bruidegom se antwoord? “Ek ken julle nie!”
As hierdie antwoord vir julle vreemd klink, gaan ek vir julle nou vat na Matteus 7:21 “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.” Nou weet ons waarom die Here vir die maagde wat nie gereed was nie, gesê het “Ek ken julle nie!”
Wat is die wil van die Vader dan? Die antwoord kry ons in Psalm 1:1-3 “[1] WELGELUKSALIG is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose en nie staan op die weg van die sondaars en nie sit in die kring van die spotters nie; [2] maar sy behae is in die wet van die HERE, en hy oordink sy wet dag en nag. [3] En hy sal wees soos ’n boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nie verwelk nie; en alles wat hy doen, voer hy voorspoedig uit.”
Baie gaan nou sê: Maar ek lei ‘n normale lewe. Ek roof, steel en moor nie en ek onderhou die tien gebooie. Dis baie mooi so, maar ken Jesus jou? Om die nou pad te loop is mooi, maar dan moet Jesus jou ook ken op ‘n persoonlike vlak.
Hier is waar die onderskeid getref word. Om werklik deel van Jesus se bruid te wees moet jy vir Jesus op ‘n persoonlike vlak ken en moet jy die Heilige Gees in jou hê! Jy gaan tog nie na iemand se bruilof toe en dan ken jy nie die bruid of die bruidegom nie!
Hoe leer mens iemand ken? Maklik, jy gesels met hom! Ek weet: julle kan nie bid nie, né! Dis die maklike deel. Begin om met Jesus te gesels asof Hy langs jou is. Vertel vir Hom waarvan jy hou en wat jou pla. Gesels met Hom soos jy met enige nuwe vriend sal gesels. Hy mag miskien nie antwoord nie, maar Hy is ‘n uitstekende luisteraar! Mettertyd sal Jesus begin terug praat deur Sy Woord. Die Bybel sal op plekke oopslaan met antwoorde op vrae wat jy gevra het. Jy sal ook sieklik aan iets dink en dan wonder waarom jy nie voorheen daaraan gedink het nie. Dis wanneer Jesus begin terugpraat! Dis ook belangrik om te weet dat die HERE baie keer deur ander mense met jou praat. Dit gebeur deur die teksverse wat jou vriende met jou deel. Dit het al ‘n paar keer met my gebeur dat ek die pad byster raak en dat die HERE deur my vriende op Facebook weer vir my die regte pad wys.
Ek weet sommige van julle is nou verbaas… Jy bring dan die Woord van God vir ons? Hoe kan jy dan die pad byster raak? Onthou, satan is slings en hy spaar niemand nie! Veral nie ons wat die HERE se skape moet lei nie, want slaan jy die herder eerste, dan spat die trop uitmekaar! Verstaan julle? Ek is ‘n mens met foute net soos julle!
As die HERE met jou praat, wees dan geduldig met die antwoorde. Partykeer moet Jesus eers dink oor wat jy vra en later vir jou ‘n antwoord gee. Partykeer is die antwoord nee op dit wat jy vra, maar in gevalle soos dit is daar altyd ‘n baie goeie rede waarom die antwoord nee was!
Miskien sal jy nie nou verstaan waarom net die wat die wil van die Vader doen en vir Jesus ken die wegraping sal mee maak. Daar is baie Christene wat gered is, maar hulle bid nie meer nie of hulle doen nie meer die wil van die Vader nie. Die diegene wat die gevaar loop om agter te bly. As u een van hierdie mense is, onthou dat dit nog nie te laat is nie. U kan nog steeds omdraai. Maak skoon wat vuil is en maar reg wat stukkend is. Moet asseblief nie uitstel nie, want ons weet nie hoeveel tyd ons oor het nie.
In Markus 13:35-36 sê Jesus: “Waak dan, want julle weet nie wanneer die eienaar van die huis kom nie: in die aand of middernag of met die haangekraai of vroeg in die môre nie; dat hy nie miskien skielik kom en julle aan die slaap vind nie.”
Prys die Naam van Jesus!